• Login
  • Search Icon

Oesskattings: oppervlaktes beplant in perspektief gesien

October 2012

RONA BEUKES, OESSKATTINGSKOMITEE

In hierdie, die laaste artikel van die reeks oor die oesskatting, word die verskillende gewasse se oppervlaktes wat beplant is, in perspektief gestel.

Mielies

Die oppervlakte onder mielies vir 2012 beloop 2 699 miljoen ha, waarvan
1 636 miljoen ha (61%) onder witmielies is en 1 063 mil joen ha (39%) onder geelmielies is. Sedert 2000 tot 2012, het die oppervlakte onder mielies met 730 240 ha of 21% afgeneem, vanaf 3 429 miljoen ha tot 2 699 miljoen ha (Grafiek 1).

Die oppervlakte beplant met witmielies vir 2012 is 1 636 miljoen ha en vir geelmielies 1 063 miljoen ha (Grafiek 2). Sedert 2000 tot 2012 het die oppervlakte beplant met witmielies met 512 300 ha (24%), tot 1 636 miljoen ha afgeneem en geelmielies met 217 940 ha (17%), tot 1 063 miljoen ha.

Volgens ‘n BFAP Baseline Landbouvooruitskouingsverslag (2012 tot 2021), is die verwagting dat die aanplantings van mielies oor die volgende dekade gaan afneem soos wat produsente sal oorskakel na die aanplant van oliesade. Verder nog, die voortdurende uitbreiding van mynbou-aktiwiteite in veral Mpumalanga, sal ook bydra tot die afname in mielie-aanplantings.

Die gemiddelde verhouding van witmielies tot geelmielies oor die tydperk 2000 tot 2012, is 62:38 (Grafiek 3).

image

Sonneblomsaad

Produsente in Suid-Afrika kan sonneblomsaad as ‘n alternatief tot mielies oorweeg. Dié gewas dien as ‘n uitstekende wisselbougewas wat onder wyd uiteenlopende klimaat en grondtoestande verbou kan word. Soos gesien in Grafiek 4, toon sonneblomaanplantings groot skommelinge van jaar tot jaar, hoofsaaklik as gevolg van klimaatsfaktore en markpryse.

Die oppervlakte beplant met sonneblomsaad vir 2012 is 453 350 ha, wat omtrent 51 500 ha minder is as die vorige ses jaar se gemiddelde aanplantings van 504 888 ha, en 64 261 ha minder as die afgelope twaalf jaar se gemiddelde aanplantings van 517 611 ha.

image

Sojabone

Die oppervlakte beplant met sojabone vir 2012 beloop 472 000 ha (Grafiek 5). Hierdie is die hoogste oppervlakte nog ooit met sojabone beplant. Dit is ook 212 638 ha meer as die vorige ses jaar se gemiddelde aanplantings van 259 362 ha, en 280 884 ha meer as die vorige twaalf jaar se gemiddelde aanplantings van 191 116 ha. Verder word daar verwag dat die plaaslike aanplantings van sojabone steeds binne die volgende paar jaar gaan toeneem en behoort dit sterk onder steun te word deur nuut beplande uitbreidings aan bestaande persaanlegte en die oprigting van nuwe perska-
pasiteit. Indien hierdie toename in sojaboonverbouing gaan realiseer, gaan dié ook as invoervervanging van sojaprodukte dien.

Dit is interessant om te merk dat gedurende 2012, die totale kommersiële oppervlakte onder mielies en sojabone in Suid-Afrika 3 171 miljoen ha was, waarvan 472 000 ha onder sojabone was. Sojabone verteenwoordig dus 15% van die totale mielie- en sojaboonaanplantings. Hierteenoor het sojaboonaanplantings gedurende die 2000-seisoen, slegs 3% verteen-
woordig van die totale mielie- en sojaboonaanplantings (Grafiek 6).

image

Grondbone

Die skatting van die oppervlakte ondergrondbone vir 2012 beloop 45 450 ha, 6 328 ha minder as die afgelope ses jaar se gemiddelde oppervlakte van 51 778 ha, en 22 386 ha minder as die afgelope twaalf jaar se gemiddelde oppervlakte van 67 836 ha (Grafiek 7). Buiten vir 2005 en 2007, is die huidige oppervlakte aangeplant met grondbone, die laagste in dekades.

Grondboonaanplantings se afname, veral in die droëlandproduksiegebiede, kan hoofsaaklik toegeskryf word aan die koste van arbeid, wat produsente onder druk plaas.

image

Sorghum

Die oppervlakte onder sorghum het oor die afgelope paar seisoene gedaal omdat die relatiewe winsgewendheid van sorghumproduksie teenoor mielies aan die daal is namate mielie-opbrengste toeneem.

Vir 2012 beloop die skatting van die oppervlakte onder sorghum op
48 550 ha, 23 838 ha minder as die afgelope ses jaar se gemiddelde oppervlakte van 72 388 ha, en 39 123 ha minder as die afgelope twaalf jaar se gemiddelde oppervlakte van 87 673 ha (Grafiek 8). Buiten vir 2006, is die huidige oppervlakte met sorghum aangeplant, die laagste oppervlakte in dekades.

image

Droëbone

Die oppervlakte onder droëbone toon ook ‘n dalende neiging oor die afgelope paar seisoene. Vanaf 2000 tot 2012 het die oppervlakte beplant met droëbone met 32 050 ha of 45% tot 39 750 ha afgeneem. Die huidige seisoen se aanplantings van 39 750 ha is ook 15% laer as die ses jaar gemiddelde aanplantings van 46 534 ha en 24% minder as die twaalf jaar gemiddelde aanplantings van 52 530 ha (Grafiek 9).

image

Vir enige navrae, kan Rona Beukes, lid van die Oesskattingskomitee, gekontak word by (012) 319-8032 of e-pos RonaB@daf f.gov.za.

 

Publication: October 2012

Section: Input Overview

Search