• Login
  • Search Icon

Oesskattings in perspektief

February 2019

MARDA SCHEEPERS, senior statistikus: Voedselsekerheid en Oesskattings, Departement van Landbou, Bosbou en Visserye

Die doel van die Oesskattingskomitee is om betroubare, akkurate, objektiewe en onpartydige oesskattingstatistieke vry te stel tot voordeel van al die rolspelers in die sektor, inter alia, produsente, finansiële instellings, insetverskaffers, kopers, vervoer-agente, verwerkers, landbou-ekonome en ander besluitnemers.

Met verwysing na die betroubaarheid van die berekening van die oesskatting, wil die Oesskattingskomitee die versekering gee dat hy die afgelope klompie jare sy skatting op ’n wetenskaplike manier doen. Vanaf 2002 is daar ’n konsortium, onder leiding van die LNR, aangestel om ’n stelsel te ontwikkel wat oesskattings op ’n meer statistiese en wetenskaplike manier doen, naamlik die Produsente Onafhanklike Oes­skattingstelsel of Producer Independent Crop Estimate System (PICES), asook ’n metode van gewasklassifikasie sowel as objektiewe opbrengsmeting in die veld. Dit word later in die artikel bespreek.

Die inligting waarop ’n oesskatting gebaseer word, word geklassifiseer volgens ’n orde van belangrikheid deur middel van die tipe metodiek wat gevolg word, naamlik opnames, modellering, persoonlike kontak met produsente/studiegroepe/landboubesighede/verwerkers asook maandelikse verslae deur verskeie rolspelers.

’n Illustrasie hiervan is in Tabel 1 aangebring. Die insette soos gespesifiseer in die A-lyn, word gebruik om die oppervlakte en produksie/opbrengs te bepaal en daarom word die grootste gewig daaraan toegeken. Die insette is objektief, wetenskaplik en statisties van aard.

Die insette in die B- en C-lyn word hoofsaaklik gebruik om die insette in die A-lyn te evalueer/verifieer en is subjektief van aard.

Inligting wat deur die onderskeie rolspelers aan die Oesskattingskomitee verskaf word, word saam met die inligting wat deur die ander data-insetgewers verskaf is, byvoorbeeld saadmaatskappye, onderskeie gewasforums en verwerkers, bespreek en deur middel van konsensus word daar op ’n oesskatting besluit. 

Net so belangrik as wat dit is om ’n betroubare oesskatting te maak, is ook die strewe daarna om ’n akkurate skatting vry te stel. Die graanbedryf het dus ’n norm/grens vir die Oesskattingskomitee vasgestel waarbinne die oesskattings moet wees, naamlik om vanaf die eerste tot die vierde skatting (Februarie tot Mei vir somergewasse) nie meer as 8% van die finale oes af te wyk nie en om vanaf die vyfde tot die finale skatting (Junie tot September vir somergewasse) nie meer as 5% van die finale oes af te wyk nie.

In Grafiek 1 word die persentasie-afwyking van die finale skatting teenoor die werklike oesgrootte vir grondbone vanaf 2003 tot 2017, onderskeidelik, getoon.

Uit die grafiek is dit duidelik dat die Oesskattingskomitee die grondboonoes ewe veel kere oorskat of onderskat het. Dus is daar nie ’n geneigdheid om die grondboonoes nét te onderskat of nét te oorskat nie. In 2017 was die finale skatting gelyk aan die finale oes van grondbone.

Die 2018-grond­boonseisoen
Die 2018-seisoen (2017/2018-produk­siesei­soen) ten opsigte van grondbone sal deur die onderskeie rolspelers in die bedryf as ’n seisoen vol uitdagings onthou kan word. Eerstens was dit tydens planttyd te droog om die beplande hektare te plant, gevolg deur nat toestande tydens oestyd. Verder het die uiters hoë temperature wat gedurende Februarie 2018 geheers het, definitief ook ’n negatiewe impak op die gerealiseerde opbrengste van die grondbone gehad. Die eerste produksieskatting in Februarie 2018 het afgeskop met ’n opbrengs van 1,58 t/ha in vergelyking met die finale opbrengs van 0,95 t/ha, soos gerealiseer in September 2018 – wat ’n daling van 40% verteenwoordig.

Oppervlakte
Vir 2018 het die skatting van die oppervlakte beplant met grondbone 56 300 ha beloop – effens meer as die 56 000 ha wat in 2017 aangeplant is. Dit is ook 9 175 ha meer as die afgelope vyf jaar se gemiddelde oppervlakte van 47 125 ha, en 6 057 ha meer as die afgelope tien jaar se gemiddelde oppervlakte van 50 243 ha.

Gedurende 2018 is 50% (28 000 ha) van die grondboonaanplantings in die Noordwes Provinsie gedoen, 39% (22 000 ha) in die Vrystaat, 6% (3 500 ha) in Limpopo en 5% (2 800 ha) in die Noord-Kaap.

’n Metode van gewasklassifikasie is met behulp van afstandwaarneming ontwikkel. Alhoewel dit eers ná die seisoen beskikbaar gestel word, kan hierdie data die oppervlakteberamings, soos bepaal deur die Produsente Onafhanklike Oesskattingstelsel of PICES-opname, verifieer en ’n meer ruimtelike voorstelling van grondgebruiksverandering van seisoen tot seisoen verskaf. 

PICES is ’n stelsel wat deur die LNR, in samewerking met SiQ en GeoTerraImage, ontwikkel is om akkurate skattings van die oppervlakte van die somer- en win­tergewasse te maak. 

Die statistiese fondament van die stelsel is gegrond op ’n punteraamwerkstelsel, wat algemeen gebruik word as ’n statistiese platform vir oesskattings. 

Die uniekheid van die stelsel is geleë in die manier waarop die data versamel word. Ligte vliegtuie word gebruik waar waarnemers (almal self produsente) objektief en visueel bepaal watter gewas op die landerye geplant is. Só kan daar dan statisties bepaal word wat die totale hektare per gewas geplant, beloop.

Inligting wat tydens die PICES-opname versamel is, word gebruik as insette tydens die klassifisering van satellietbeelde om ’n tipe gewas vir elke individuele land te identifiseer. Gedurende die produksieseisoen word beide die Landsat 8- en Sentinel 2-satellietbeelde gebruik om ’n gewasklassifikasie te doen. Daarom kan grond- en gewasproduksie-inligting nou op sub-provinsiale vlak, byvoorbeeld op distriksvlak, onttrek word vir die Vrystaat, Noordwes Provisie en Mpumalanga. 

Vernaamste distrikte 
Die persentasie aanplantings van grondbone vir 2018 word deur die metode van gewasklassifikasie verkry.

Noordwes Provinsie
Gedurende 2018 is die meeste grondbone in die Noordwes Provinsie in die Vryburg-distrik geplant, naamlik 49%, gevolg deur Schweizer-Reneke met 21%.

Vrystaat 
Wat die Vrystaat betref, is die meeste grondbone gedurende 2018 in die Hoopstad-distrik geplant, naamlik 51%, gevolg deur Bultfontein met 11%.

Produksie
Die finale produksieskatting van grondbone vir 2018 beloop 53 750 ton. Dit verteenwoordig ’n afname van 42% vanaf die 2017-oes van 92 050 ton. Die 2018-oes is 7% minder as die afgelope vyf jaar se gemiddelde oes van 57 606 ton en 22% minder as die afgelope tien jaar se gemiddelde oes van 68 758 ton.

Gedurende 2018 is die verwagte oes in die Vrystaat op 19 800 ton (37%) geraam, gevolg deur die Noordwes Provinsie met 19 600 ton (36%), Limpopo met 7 350 ton (14%) en die Noord-Kaap met 7 000 ton (13%).

Opbrengs
In 2018 was die gemiddelde opbrengs 0,95 t/ha, wat 42% minder is as die 1,64 t/ha van die vorige seisoen. Dit is ook 22% minder as die vorige vyf jaar se gemiddelde opbrengs van 1,22 t/ha, asook 31% minder as die vorige tien jaar se gemiddeld van 1,37 t/ha.

Produsente se rol 
Die belangrikheid van inligting wat deur produsente aan die Oesskattingskomitee verskaf word, kan nie genoeg beklemtoon word nie. Hoe meer produsente per gebied (landdrosdistrik) akkurate insette aan die Oesskattingskomitee lewer, hoe beter kan die uiteindelike skatting wees. 

In Grafiek 5 is daar duidelik ’n dalende tendens ten opsigte van die deelname van produsente aan die opname van die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye (DLBV) sigbaar.

Die redes waarom produsente gereeld hulle inligting deur middel van vraelyste, wat maandeliks voltooi word aan die Oesskattingskomitee moet stuur, is soos volg:

  • Oppervlakte-inligting is naas dié inligting, soos verkry vanaf die konsortium, die belangrikste inset.
  • Opbrengsinligting dien deurlopend as ’n belangrike inset gedurende die seisoen.
  • Die voorneme van produsente om gewasse te plant word slegs gebaseer op insette van produsente.
  • Groter deelname lei tot beter verteenwoordiging.
  • Beter verteenwoordiging lei daartoe dat produsente se inligting ’n groter gewig dra in die bepaling van die skatting.
  • Verskille/afwykings kan gouer uitgewys word.
  • Opbrengsinligting op landdrosdistriksvlak kan akkuraat bereken word.

Groter rol deur verwerkers 
As gevolg van die dalende tendens in die deelname van produsente aan die maandelikse oesskattingsopname, het die verwerkers van grondbone in Suid-Afrika onderneem om die Oesskattingskomitee behulpsaam te wees in die uitvoering van hierdie belangrike taak. 

Aangesien die meeste produsente deur verwerkers van grondbone gekontrakteer word om dié gewas aan te plant, sal die verwerkers voortaan die inligting ten opsigte van die gekontrakteerde oppervlakte, sowel as opbrengsinligting aan die Oesskattingskomitee deurgee.

Beide die inligting ten opsigte van die oppervlakte beplant en verwagte opbrengs sal in Februarie aan die komitee deurgegee word, waarna slegs opbrengsinligting in April, Junie en September deurgegee sal word. 

Tydens die Grondboneforumvergadering in Oktober verlede jaar is daar ’n model (sien kassie) voorgestel wat as basis kan dien vir die verwerkers ten einde ’n meer akkurate opbrengssyfer te bereken en te verseker dat almal dieselfde model gebruik ten einde die verwagte opbrengs van die gekontrakteerde grondbone te bereken.

Publication: February 2019

Section: Mini-Focus on groundnuts

Search