• Login
  • Search Icon

Oesskatting - produsente se bydrae noodsaaklik

August 2012

RONA BEUKES, OESSKATTINGSKOMITEE

Die doel van die Oesskattingskomitee is om betroubare, akkurate, objektiewe en onpartydige oesskattingstatistieke vry te stel tot die voordeel van al die rolspelers in die sektor, inter alia, produsente,
finansiële instellings, insetverskaffers, kopers, vervoeragente, landbou- ekonome en ander besluitnemers.

Betroubaarheid

Met verwysing na die betroubaarheid van die berekening van die oesskatting, wil die Oesskattingskomitee die versekering gee dat hy sy skatting vir die afgelope klompie jare op ‘n wetenskaplike manier doen. Vanaf 2002 is daar ‘n konsortium aangestel, onder leiding van die Landbounavorsingsraad, om ‘n stelsel te ontwikkel wat oesskattings op ‘n meer statistiese en wetenskaplike manier doen.

Akkuraatheid

Die komitee streef ook daarna om akkurate oesskattings vry te stel. Die graanbedryf het dus ‘n norm/grens vir die Oesskattingskomitee vasgestel waarbinne die oesskattings moet wees, naamlik om vanaf die eerste tot die vierde skatting (Februarie tot Mei – somergewasse) en (Augustus tot November – wintergewasse) nie meer as 8% vanaf die finale oes af te wyk nie en om vanaf die vyfde tot die finale skatting (Junie tot September – somergewasse) en (Desember tot Februarie – wintergewasse) nie meer as 5% vanaf die finale oes af te wyk nie.

In Grafiek 1 en Grafiek 2 word die persentasie-afwyking aangetoon vanaf die eerste tot die finale skatting teenoor die werklike oesgrootte vir mielies en koring vir 2011, onderskeidelik.

image

Indien die skatting (syfer) op ‘n groter afwyking as die toelaatbare norm/grens dui, kan daar retrospektief afgelei word dat die oes oor- of onderskat was. In só ‘n geval vereis die bedryf dat daadwerklike stappe deur die komitee geneem moet word om die oesskattingsproses te hersien/verbeter.

Objektiwiteit

Ten opsigte van objektiwiteit word punte lukraak in die produksiegebied vir somer- en wintergrane gekies om opnames vir beide vlug- (hektare) en veldopnames (ton/ha) te doen. Geen manipulasie van die inligting word toegelaat nie en daar word slegs binne die laagste en hoogste oesskattingsyfer, soos deur die data-insetgewers verskaf is, geskat.

Onpartydigheid

Met verwysing na onpartydigheid, is die Oesskattingskomitee saamgestel uit verteenwoordigers van die nasionale Departement van Landbou, Bosbou en Visserye, provinsiale Departemente van Landbou, die onderskeie Landbou-navorsingsinstitute (LNR) en Statistiek SA.

Hierdie verteenwoordigers het nie gevestigde belange by die oesskattings nie, soos byvoorbeeld betrokkenheid by die verhandeling van grane/oliesade.

Elk van die verteenwoordigers volg ‘n eie metode om die oppervlakte beplant en opbrengsbepaling te doen.

Die inligting wat deur hierdie bronne verskaf word, word saam met die inligting wat deur die ander data-insetgewers verskaf is, byvoorbeeld saadmaatskappye en die onderskeie gewasforums, deur die verteenwoordigers op die Oesskattingskomiteevergadering bespreek en deur middel van konsensus word daar op ‘n oesskatting besluit.

Dit is belangrik om te noem dat die inligting wat gebruik word om ‘n oesskatting op te baseer, geklassifiseer word volgens ‘n orde van belang rikheid en die tipe metodiek wat gevolg word – opnames, modellering, persoonlike kontak met produsente/studiegroepe/landboubesighede asook maandelikse verslae deur verskeie rolspelers.

Daar kan dus onomwonde genoem word dat een van die mees essensiële bronne van inligting, dié inligting is wat deur produsente (deur middel van vraelys-opnames) verskaf word.

Die belangrikheid van inligting wat deur produsente aan die Oesskattingskomitee verskaf word, kan nie genoeg beklemtoon word nie. Van die redes behels onder andere dat die eerste drie skattings (Februarie tot April) grotendeels deur produsente-inligting bepaal word deur middel van vraelyste wat maandeliks deur hulle voltooi word.

Produsente-inligting vergemaklik nie net alleen die komitee se taak nie, maar lei ook daartoe dat hul inligting groter gewig dra met die daarstel van ‘n skatting. Dit is dus ‘n feit dat beter deelname deur produsente tot ‘n akkurater skatting kan lei.

Tans word daar 2 340 vraelyste aan ‘n steekproef van produsente wat somergewasse plant, ge stuur en 1 150 vraelyste aan produsente wat wintergewasse plant.

Die produsente verskaf inligting oor die oppervlakte per gewas aangeplant en die verwagte totale produksie per gewas. Die vraag is: “Hoeveel aktiewe produsente is daar?” Vir die somergewasse word maandeliks ongeveer 675 van hierdie vraelyste terugontvang en vir wintergewasse word ongeveer 470 terugontvang deur die Direktoraat Statistiek en Ekonomiese Analise wat dit dan verwerk vir die Oesskattingskomitee.

Deelname aan die steekproef deur produsente, word in Kaart 1 en Kaart 2 per provinsie, vir koring en mielies, afsonderlik aangedui.

image

image

Uit die inligting op die kaarte is dit duidelik dat die Oesskattingskomitee nog heelwat meer produsente vanuit elke provinsie benodig. Tot wanneer dit gebeur, sal produsente altyd onseker wees oor die grootte van die werklike oes.

In ons volgende artikel gaan daar meer spesifiek gefokus word op presies wat die komitee skat, die metode wat die Oesskattingskomitee volg om ‘n oesskatting te doen asook die resultate van produsente- inligting.

Vir enige navrae, kan Rona Beukes, lid van die Oesskattingskomitee, gekontak word by (012) 319-8032 of RonaB@daff.gov.za.

Publication: August 2012

Section: Input Overview

Search