• Login
  • Search Icon

Oesdagbaas gee die leisels oor

November 2016

JOHAN SMIT, besturende redakteur: SA Graan/Grain

Oesdagbaas gee die leisels oorOp 23 September het Graan SA op NAMPO Park afskeid geneem van ‘n personeellid wie se naam oor die afgelope twee dekades sinoniem was met die organisering en aanbieding van die NAMPO Oesdag. Heelparty ander kommersiële funksies van die organisasie is egter ook onder sy deeglike hand bestuur.

Toe mnr Johan Loxton hom in 1996 by die destydse NAMPO as administrasiebestuurder aangesluit het, was die NAMPO Oesdag deel van sy verantwoordelikhede. In die 20 jaar wat sou volg, was hy die jokkie wat stewig in die saal bly sit het om die NAMPO Oesdag te help ontwikkel tot die nasionale vertoonvenster van landbou wat dit tans is.

“Die terrein en die getal uitstallers het oor die afgelope 20 jaar verdubbel. In 2016 het die Oesdag die meeste uitstallers ooit en die meeste besoekers ooit gehad. Hy was instrumenteel daarin om die Oesdag onmisbaar te maak – sodat dit vandag ‘n nasionale skou is wat op veel meer as net somergrane fokus,” het mnr Jaco Minnaar, Graan SA-voorsitter, gesê.

Ander kommersiële dienste wat Loxton in Graan SA bestuur het, het ingesluit die SA Graan/Grain-tydskrif sowel as die Bakkiedag. Hy was sedert Graan SA se ontstaan in beheer van die ledebemarking. Hy het die invordering van Graan SA se vrywillige heffing bestuur, asook die openbare betrekkinge-funksie en die organisering van die Graanprodusentefunksie tot met die vestiging van ‘n Bemarkingsafdeling in die organisasie ‘n paar jaar gelede.

“Johan is ‘n fantastiese bestuurder in wie ‘n mens die vertroue kon hê dat dinge gedoen is en dat dit goed gedoen is. Graan SA groet vir jou en Margot met ‘n lekker hart,” was mnr Jannie de Villiers, uitvoerende hoofbestuurder, se afskeidswoorde.

Loxton het gesê hy voel gevlei en geëerd en het sy personeel bedank vir hul ondersteuning, lojaliteit en samewerking oor jare. Mnr Toit Wessels, Assistent-bestuurder: NAMPO Oesdag en Bemarking, het op 1 Oktober die Oesdagleisels oorgeneem.

Publication: November 2016

Section: Grain SA

Search