• Login
  • Search Icon

Nuwe voorsitter aan stuur van tydskrif

July 2014

ESTIE DE VILLIERS, redakteur: SA Graan/Grain

imageMnr Theo Ferreira (Graan SA-hoofbestuurslid vir streek 17) het in Maart vanjaar die leisels by mnr Cobus van Coller oorgeneem as voorsitter van die SA Graan/Grain Redaksiekomitee.

Die Redaksiekomitee is verantwoordelik vir die maandelikse beplanning van SA Graan/Grain deur brandpunte en fokuspunte vir die komende uitgawes te identifiseer. Elke maand se uitgawe word ook geëvalueer en ‘n wenartikel word aangewys.

Cobus kyk terug

Van Coller het sedert 2006 op die Redaksiekomitee gedien en is einde Mei 2010 tot voorsitter van die komitee verkies.

Volgens Van Coller is die tydskrif die hartklop van Graan SA. “As nuweling leer jy baie gou by die redaksie alles van Graan SA. Die redaksie is ‘n uiters kreatiewe, dinamiese span en dit was lekker om heeltyd buite die boks te dink. Die tydskrif fokus elke maand op die nuutste uitdagings, veranderings en inligting in landbou met ‘n baie kundige span in Suid Afrika. By die tydskrif voel almal soos familie en dit het nie regtig gevoel of ek die voorsitter is nie, maar deel van ‘n span.

“Ek het ook nog nooit so baie (en lekker) gelees as terwyl ek voorsitter was nie. Ek moes weet wat in die bedryf aangaan en op hoogte bly van die nuutste sake.

“Soos enige ander werkgroep is daar hoogte- en laagtepunte, maar by die redaksie kan ek die laagtepunte nie eers op een hand tel nie,” het Van Coller gesê. Een van die hoogtepunte was beslis die lesersnavorsing wat oor die tydskrif gedoen is asook die gesigwas wat die tydskrif ondergaan het gedurende die tyd wat Van Coller voorsitter was.

Hy sluit af: “As jy as produsent nie die tydskrif lees nie, gaan jy miskien iets baie belangrik mis wat vir jou tot groot waarde kan wees om volhoubaar te kan boer.”

Van Coller is in Maart ná afloop van Graan SA se Kongres vanjaar tot die Dagbestuur van Graan SA verkies.

Nuwe voorsitter

Ferreira is in Maart vanjaar as die nuwe voorsitter van die Redaksiekomitee verkies. Hy is sedert Maart 2012 op die Hoofbestuur van Graan SA asook die Redaksiekomitee en boer in die Harrismith-omgewing.

Publication: July 2014

Section: Grain SA

Search