• Login
  • Search Icon

Nuwe perskapasiteit se potensiële impak op sojaboonaanplantings

February 2012

image

JANNIE DE VILLIERS, UITVOERENDE HOOFBESTUURDER, GRAAN SA EN WESSEL LEMMER, SENIOR EKONOOM: BEDRYFSDIENSTE, GRAAN SA

Die nuwe beoogde perskapasiteit van sojabone hou die belofte in om die produksielandskap van graan en oliesade merkbaar te verander. Die oppervlakte wat onder sojabone verbou word, het sedert 2004 vanaf 135 000 ha tot 480 000 ha in 2012 aangegroei.

Teen ‘n opbrengs van 1,95 ton/ha kan verwag word dat die produksie van sojabone 938 000 ton in 2012 kan beloop. Die produksie van sojabone het dus sedert 2009 met meer as 80% toegeneem.

Nuwe perskapasiteit

Die verdere toename in sojaboonverbouing behoort voortaan sterk ondersteun te word deur nuwe beplande uitbreidings aan bestaande persaanlegte en die oprigting van nuwe perskapasiteit.

Tabel 1 gee ‘n opsomming van die nuwe perskapasiteit wat tans beplan word. Let asseblief daarop dat die sojaboonverbruik gegrond is op die daaglikse gegewe perskapasiteit teen ‘n 80% benuttingsdoeltreffendheid en 330 dae per jaar se persaktiwiteit. Verder is ‘n aanname gemaak rakende die perskapasiteit van die aanleg wat deur Noble Grain beplan word. Inligting rakende die aanleg is nog nie amptelik bekend gemaak nie, maar dit blyk dat dié aanleg sekere van die groter, nuut beplande aanlegte sal ewenaar of selfs gaan oorskry.

Ná die volledige implementering van die sojaboonaanlegte en uitbreidings (Aanlegte 1 tot 6 in Tabel 1) en onderhewig aan aannames ra kende benuttingsdoeltreffendheid, word beraam dat die nuwe perskapasiteit nagenoeg 1,36 miljoen ton sojabone en 185 000 ton sonneblom sal kan verwerk.

Scenarios rakende aanplantings om voldoende hoeveelhede sojabone beskikbaar te stel

Die inligting in Tabel 1 is in ag geneem vir die scenario’s in Grafiek 1.
Grafiek 1 stel drie scenario’s voor:

Scenario 1: Nuwe perskapasiteit en sojaboonverbruik (Grafiek 1, Rooi grafiek)

Volgens dié scenario word die beplande sojaboonperskapasiteite soos gegee in Tabel 1, volgens beplanning vanaf 2012 geïmplementeer. Volgens hierdie scenario neem die vraag na sojabone in terme van oppervlakte vanaf 500 000 ha in 2013 toe tot 1,14 miljoen ha in 2015. Hierdie scenario gee ‘n aanduiding van die potensiële toekomstige vraag na sojabone. Sien die aannames en vraag en aanbod van Scenario 1 in Tabel 2.

Scenario 2: Oppervlaktebehoefte ná 2012 weens surplus sojabone (Grafiek 1, Groen grafiek)
Scenario 2 is gebaseer op die ou perskapasiteit en die nuwe perskapasiteit is nie in berekening gebring nie. Die surplus sojabone wat tot en met 2012 opgebou het, het ‘n neerdrukkende effek op prys en lei tot ‘n skerp afname in sojaboonaanplantings in 2013. Die grafiek dui die hektaarbehoefte vanaf 2013 aan om in die ou bestaande perskapasiteit se behoefte te voldoen.

Hierdie scenario gee ‘n aanduiding van die moontlike huidige aanplantings sonder uitbreidings in sojaboonperskapasiteit.

Sien die aannames en vraag en aanbod van Scenario 2 in Tabel 3.

Scenario 3: Oppervlak gelykstaande aan ou perskapasiteit en sojaboonverbruik (Grafiek 1, Pers grafiek)
Hierdie scenario gee ‘n aanduiding van die behoefte aan hektare soos vanaf 2011 en is gebaseer daarop dat slegs die ou bestaande perskapasiteit van toepassing is en aangeplante hektare bepaal. Vir beide Scenario 2 en 3 neem die vraag na die oppervlakte onder sojabone aangeplant tot 415 000 ha in 2015 toe.

Sien die aannames en vraag en aanbod van Scenario 3 in Tabel 4.

Opsomming

Uit bogenoemde bespreking is dit duidelik dat die beplande perskapasiteit wat reeds in 2012 in werking begin tree, deur onder andere die implementering van die VKB tolpers in Mei 2012, ‘n groot bydrae kan lewer om te verhoed dat die surplus sojabone markpryse onder groter druk plaas. Die aanname is gemaak dat sojaboonuitvoere 160 000 ton in elkeen van die jare 2012 en 2013 kan beloop. Daarna vind sojaboonuitvoere weens die toename in perskapasiteit nie meer plaas nie. Indien die aanlegte volgens die skedule in Tabel 1 gaan realiseer, kan dit groot uitbreidings in sojaboonproduksie regverdig om aan die nuwe vraag na sojabone te voldoen.

Indien die oppervlakte onder sojaboonverbouing nie tot byna 1,14 miljoen ha kan uitbrei nie, beteken dit dat die opbrengs vanaf 1,9 ton/ha op 480 000 ha tot 4,4 ton/ha moet verhoog om in 2015 voldoende hoeveelhede sojabone vir die nuwe perskapasiteit te kan voorsien.

Produsente moet dus daarop let om sojaboonverbouing vooraf te kontrakteer tot tyd en wyl die nuwe sojaboonmark goed gevestig is.

Publication: February 2012

Section: Markoorsig

Search