• Login
  • Search Icon

Nuwe Overbergse gebeurtenis voeg GROOT waarde toe

December 2018

JAN GREYLING, SA Graan/Grain medewerker

Met Graan SA-lede in die Wes-Kaap se belange as prioriteit kon produsente, verskaffers en belanghebbendes vanjaar ’n tuisveldvoordeel geniet met die bywoning van hul eie NAMPO in die Kaap, oftewel NAMPO Kaap.

Oor die koms van dié nuweling gons dit veel verder as net op dié geleentheid se geboortedorp, waar NAMPO Kaap vanaf 12 tot 15 September op Bredasdorp Park plaasgevind het. Te midde van die gewone groeipyne vind die hele Overberg baat by die sakegeleenthede wat dit vir die streek meebring. 

In sy eerste jaar het die skou se uitstallers gemiddeld R13 326 elk en gesamentlik R4 miljoen in die plaaslike ekonomie bestee. Dit is aanvullend tot hul beleggings van gemiddeld sowat R60 000 elk of R18,3 miljoen in totaal in die skou self. 

Ondanks vele projekplanne vir ekonomiese groei, is NAMPO Kaap die soort vernuwingsprojek wat volhoubare ontwikkeling in die Overberg ’n werklikheid kan maak. Dit is die siening van mnr David Beretti (munisipale bestuurder van die Overberg Distriksmunisipaliteit).

Dié munisipaliteit het tydens NAMPO Kaap 2018 deur middel van die Openbare Werke-program werkgeleenthede aan 20 begunstigdes uit die arm Overberg-gemeenskap gebied. Beretti sê dit is veral vervoer, verblyf, gasvryheidsdienste, reisreëlings en vermaak- en ontspanningsdienste wat bevoordeel word.

Vir die munisipaliteit is dit belangrik dat die armer gemeenskap van die Overberg by die aanbieding van die skou op Bredasdorp sal baat. “Daar sal vele maniere wees waardeur ons kan verseker om fondse na die mindergegoedes in ons streek te laat vloei. Dit sluit groter en kleiner entrepreneursgeleenthede, meer aktiwiteite vir toeriste en verlengde verblyftydperke met groter toerismebesteding in. Só ’n skou kan dit lewensvatbaar maak om nuwe basiese geriewe en ontspanningsgeriewe te oorweeg.”

Die munisipaliteit neem punte waaraan aandag gegee behoort te word, waar – waaronder die geleentheid om die plaaslike vervoerstelsel te verbeter; om beter geleenthede vir inkopies by plaaslike besighede te vestig en die moontlikheid om die skou uit te brei – wat voorbereiding, uitstalling en opruiming insluit. “Ons plaaslike besighede moet daarteen waak om tydens skoutyd hul pryse vir goedere, dienste, verblyf en infrastruktuur te verhoog. Moet ook nie aan die versoeking toegee om arbeid van buite in te bring nie. Gebruik eerder plaaslike mense.”

Mnr Dean O’Neill (munisipale bestuurder van die Kaap Agulhas Munisipaliteit) sê meer uitstallers en skoubesoekers in die streek beteken ’n toename in die gebruik van noodsaaklike dienste soos water en elektrisiteit – veral in die gasvryheidsbedryf. 

“Die skou stel ons in staat om plaaslike ekonomiese groeidoelwitte te bereik, aangesien groter besteding in die plaaslike ekonomie meer werkgeleenthede skep. Dit spreek die driedubbele uitdaging van werkloosheid, armoede en ongelykheid direk aan.”

Kaap Agulhas Munisipaliteit het R30 000 tot die aanbieding van die skou bygedra en vullisverwydering, padinstandhouding en ander dienste verskaf. “Met die groot rol wat NAMPO Kaap in ekonomiese groei kan speel, sal ons voortgaan om hierdie jaarlikse inspuiting vir ekonomiese ontwikkeling te ondersteun,” aldus O’Neill.

Uitstallers
Uit ’n opname onder 40% van die 306 uitstallers – 48% van binne en 37% van buite die streek – het Graan SA bevind dat 54% van die uitstallers van die Wes-Kaap afkomstig was, 26% van Gauteng en die Vrystaat saam en 12% was internasionale uitstallers. Daar was ook uitstallers vanaf Limpopo en die Oos- en Noord-Kaap. 

90% en meer van die uitstallers beskou NAMPO Kaap 2018 se organisasie en die ontvangs van vooraf-inligting oor die skou as uitstekend of baie goed. Sowat 92% van hulle het die personeel wat die skou beplan en aangebied het, as uiters of baie behulpsaam ervaar. 

Volgens dr Dirk Strydom (bestuurder: Graanekonomie en Bemarking, Graan SA) beskryf 37% van die uitstallers NAMPO Kaap as uitstekend, terwyl 57% die sakegeleentheid as baie goed of goed ervaar het. 

Meer as die helfte van die respondente het veral sekuriteit, bestuur, die uitstalinfrastruktuur, die infrastruktuur van die skougronde en die gehalte van die uitstallings as baie goed of goed beleef. Bemarking, die gehalte van besoekers en die beskikbaarheid van kos by die skou is van die aspekte wat as goed, maar met ruimte vir verbetering, uitgewys is.

Volgens mnr Kevin Robertson (direkteur: Verkryging, Bester Voere en Graan) het dit op Dag 2 “gevoel asof ons by NAMPO op Bothaville is! Nuwe besigheid was uitstekend omdat die regte voete teenwoordig was. Met so ’n afskop gaan die waarde van NAMPO Kaap binne enkele jare substansieel verhoog.”

Design Arts se mnr Gerrie Koen sê heelwat nuwe direkte besigheid is gedoen. “Ons voorsien dat die skou in die toekoms ’n groot impak sal hê, weens die blootstelling aan nuwe produkte wat vir groot- en kleinboere van nut is.”

Mnr Jabu Motloung (Jabu’s Frames van Johannesburg) beskryf NAMPO Kaap as “uitstekend georganiseer. Dit gaan net groei en as ons so 30 000 besoekers kry, sal dit nog lekkerder wees om uit te stal.”

Publication: December 2018

Section: Grain SA

Search