• Login
  • Search Icon

Nuwe landboutegnologie eerstehands oorsee ervaar

March 2018

VALERIE CILLIERS, SA Graan/Grain medewerker

Om volhoubaar en effektief te kan aanhou boer, moet ‘n produsent op die voorpunt van tegnologiese ontwikkeling bly. Daarom was dit vir lede van Graan SA se hoofbestuur en verskeie Suid-Afrikaanse produsente ‘n besondere ervaring om die nuutste in landboutegnologie eerstehands tydens Monsanto se tegnologietoer na die VSA in Augustus verlede jaar te ervaar.

Die uitvoerende hoofbestuurder van Graan SA, mnr Jannie de Villiers, produsente en ook Graan SA hoofbestuurslede (mnre Theo Ferreira, Jozeph du Plessis en Jaco Breytenbach) het tydens dié toer die geleentheid gehad om onder andere die grootste buitelug-landbouskou in die VSA by te woon.

De Villiers vertel dat die plekke wat besoek is, sorgvuldig deur Monsanto gekies is om juis die innovasie in hulle aan te wakker. Die propvol program het besoeke aan Chesterfield, Caterpillar, John Deere en ADM Corn ingesluit. Die span het ook plase besoek, waaronder die Martin Familieboerderye, waar met mielies en sojabone geboer word. Besoek aan ‘n etanol-aanleg en ‘n klimaatwerkswinkel (aangebied deur mnr Bruce Schnicker) was ook op die program. Om die Amerikaanse psige ‘n bietjie beter te verstaan, is ‘n bofbalwedstryd van die Cardinals en ‘n Amerikaanse voetbalwedstryd met die Chicago Bears in aksie, bygewoon – wat beslis ‘n hoogtepunt was.

“Wat ek van die toer na die VSA sal onthou, is die lekker spontane gesprekke op die bus met die produsente en die mense wat saamgegaan het. Dit was oor landbou. Dit was nie ‘n gekla nie, maar deel van oplossings en soeke na nuwe oplossings vir ou en nuwe probleme. Nog iets wat my bygebly het, is hoe die Amerikaanse regering na hul produsente omsien. Dit maak die bestuur van risiko’s net soveel eenvoudiger. As ons produsente ook 50% subsidie kry vir hul versekeringpremies, sal ons ook seker 85% van ons produksie kan verseker en heelwat meer volhoubaar kan boer. Tydens die besoeke aan hulle museums en sportbyeenkomste het ek ‘n deel van nasietrots gesien, wat my beslis jaloers gemaak het. Daar is tans ‘n groot gebrek daaraan in ons eie samelewing,” vertel De Villiers.

Daar was ook geleentheid om die Farm Progress Show (wat op 29 en 30 Augustus in Decatur aangebied is) by te woon. Dit is die 64ste jaar wat die skou, wat die grootste buitelug-landbouskou in die VSA is, aangebied is. Hier kry produsente en vervaardigers die geleentheid om te gesels oor wat nuut is, idees uit te ruil en kontakte te bou.

Die skougronde beslaan 36 ha, waar meer as 600 uitstallers gehuisves word. Die nuutste in trekkers, landbou-implemente, saad- en oesbeskermingsprodukte en ander landbouprodukte is ten toon gestel. Daar was ook geleentheid vir produsente en besoekers van meer as 40 lande om die nuutste planters, stropers en trekkers op die lande in aksie te sien. Sy-aan-sy-bewerkingstegnieke, globale posisioneringstelsels en presisieboerderytoerusting het veral aandag getrek.

Ferreira, ‘n produsent van Harrismith, sê dat dit ‘n wonderlike toer was waar hulle geweldig baie kennis opgedoen het.

Tog meen hy dat Suid-Afrika nie hoef terug te staan as dit by landbou en tegnologie kom nie. “’n Groot gros van die tegnologie wat ons daar gesien het, gebruik ons reeds betreklik effektief. Met die hulpbronne tot ons beskikking, dink ek dat Suid-Afrikaanse produsente uiters goed doen en soos die Engelse sê on par is met die VSA. Ek is baie dankbaar teenoor Monsanto dat ek die toer kon meemaak. Dit was ‘n belewenis en ons kon tegnologie raaksien wat ons in die toekoms self sal wil gebruik.”

Wat die Farm Progress Show betref, glo Ferreira dat Suid-Afrika se eie NAMPO Oesdag beduidend vergelyk en dalk selfs beter programme aanbied en meer voordele vir produsente inhou.

Na die toer meen Du Plessis, ‘n produsent van Schweizer-Reneke, dat die VSA beslis ‘n land van innovasie, ontwikkeling en entrepreneurskap is. “Hulle het fantastiese infrastruktuur en administrasie. Die mense is uiters hardwerkend en tesame met hul ongelooflike natuurlike hulpbronne is hulle hoogs mededingend. Veral in die platteland leef mense baie naby aan die Here. ‘n Geseënde land inderdaad,” sê hy.

Wat planters betref, meen hy daar word groot moeite gedoen om die masjinerie meer produktief, akkuraat, groter en vinniger te maak. “Die 24 ry x 30"-planters is die gewildste en daar word voortdurend gepoog om beter spasiëring te verseker en om saad gelyk te laat ontkiem en opkom. Omdat daar ‘n optimale plantvenster is, wil produsente in die VSA soveel moontlik akkers in daardie kort tydgleuf plant.”

Du Plessis vertel dat daar heelwat nuwe cloud-programme bestaan – waarvan Field View die bekendste is – om produsente te ondersteun om grond-, gewas- en landdata te verwerk en verbruikersvriendelike inligting maklik weer te gee om beter bestuursbesluite te neem.

Wat ook beïndruk, is verskeie nuwe tegnieke en implemente wat ontwikkel is om stikstof direk langs die plant neer te sit, aangesien proewe gewys het dat dié tegniek groot voordele inhou.

Wat landbou in die VSA in die algemeen betref, sê Du Plessis: “Al is hul opbrengste baie hoog en redelik stabiel, is dit vir hulle ‘n uitdaging om wins te maak as gevolg van lae pryse en hoë kostes. Die hoë grondhuur en grondwaardes dra hiertoe by. Die verpligte inmenging van etanol skep ‘n vraag wat ongeveer ‘n derde van hul mielies verbruik.”

Breytenbach, wat naby Fouriesburg boer, sê dit was ‘n uiters insiggewende toer en in wese ‘n ware tegnologietoer. “Ons het gesien hoe presisieboerdery al hoe meer toegepas word op planters, trekkers, saad en kunsmis.”

Hy meen dat die samestelling van die toerspan verseker het dat daar ‘n verskeidenheid van opinies en idees bespreek kon word. “Tesame met die kundigheid van die Monsanto personeel, lede van die media, ekonome en georganiseerde landbou was dit soms vir die produsente ‘n openbaring en ‘n geleentheid om sake of probleme van verskeie kante te bekyk.”

Tydens die toer het Graan SA ook ‘n sertifikaat van waardering aan dr Robert Fraley van Monsanto oorhandig. “Graan SA wou hom bedank vir die rol wat hy gespeel het om veral mieliesaad tegnologies te bevorder. Vir vele van ons is hy die vader van geneties-gemanipuleerde saad,” het De Villiers verduidelik.

Met die Monsanto Tegnologietoer reeds ‘n vae herinnering, is almal wat dit meegemaak het dit eens dat die ondervinding en kennis wat opgedoen is, gesorg het vir nuwe innoverende idees vir landbou in Suid-Afrika. 

 

Publication: March 2018

Section: Relevant

Search