• Login
  • Search Icon

Nuwe bemarkingsvooruitsigte vir die mieliemark

July 2016

image

DIRK STRYDOM, bestuurder: Graanekonomie en Bemarking, Graan SA

Die droogte het in die afgelope jaar gesorg vir goeie pryse in die graanbedryf – dít terwyl die internasionale mark relatiewe lae pryse ervaar het. Die weervoorspellers is optimisties oor die komende seisoen. Daar word verwag dat ons na ‘n La Niña-fase beweeg. Dit is natuurlik goed vir die Suid-Afrikaanse mark (bogemiddelde reën), maar nadelig vir die Amerikaanse mark (ondergemiddelde reën).

Internasionaal

Volgens die United States Department of Agriculture (USDA) se wêreldvraag- en -aanbodverslag gaan Amerika vir die 2016/2017- jaar 366 miljoen ton mielies produseer. ‘n Eindvoorraad van 54 miljoen ton – wat aansienlik (19%) hoër is as die vorige seisoen – kan realiseer.

Teen planttyd was die Amerikaanse vooruitsigte positief en het hulle goeie verwagtinge gehad. Die grootste vraag is wat die La Niña-effek gaan wees op hul middelsomer.

Pryse in die internasionale mark kan dus moontlik styg as die verwagte weervoorspelling probleme veroorsaak. Wat belangrik is om in gedagte te hou, is dat daar wel baie reserwevoorraad in die internasionale mark beskikbaar is, wat prysstygings kan demp.

Plaaslik

Die vorige seisoen se moeilike omstandighede het natuurlik veroorsaak dat produsente slegs 1,9 miljoen hektaar mielies geplant het. In terme van somergewasse was slegs 3,2 miljoen hektaar geplant teenoor die vorige jaar – wat ook ‘n moeilike jaar was – se 4,1 miljoen hektaar.

Daar is dus baie lande op ‘n oorlêstelsel – meer as normaalweg. Sommige dele van sodanige lande was reeds voorberei vir plant en kon weens laat plantdatums nie geplant word nie. Baie produsente het uit ‘n siklus van twee droogtes gekom en kon nie bekostig om nie al die beskikbare hektare te plant nie.

Al die faktore dui daarop dat daar ‘n groot waarskynlikheid is dat ‘n goeie oes kan realiseer – mits die verwagte bo-normale reën betyds val.

Die Nasionale Landboubemarkingsraad verwag dat die 2016/2017- bemarkingsjaar met ‘n witmielie-eindvoorraad van 624 000 ton – voor pyplynvereistes – sal afsluit.

Die gemiddelde verbruik van witmielies oor die afgelope vyf jaar was 5 708 ton. Gegewe vroeë lewerings, die verwagte eindvoorraad en ‘n langtermyngemiddeld van 4,5 t/ha beteken dit enige iets meer as 1,2 miljoen ha kan ‘n surplusproduksie veroorsaak.

Die risiko is dat, as daar wel ‘n normale jaar voorkom, Suid-Afrika ‘n surplus gaan produseer en dit het tot gevolg dat die prys weer na uitvoerpariteitsvlakke sal terugbeweeg.

Middel Junie was die Julie 2016-uitvoerpariteitspryse R2 200/ton, Desember 2016 R2 308/ton en Julie R2 488/ton (gelewer op Randfontein).

Gegewe ‘n verwagte/geskatte produksiekoste van R8 527/ha en vaste koste van R2 457/ha en ‘n langtermyngemiddeld van 4,5 t/ha, dui dit op ‘n gelykbreekpunt van R2 440/ton. Dit is belangrik om die huidige pryse ten volle te benut om sodoende ‘n inkomste te verseker en te beskerm.

‘n Doeltreffende bemarkingsplan in terme van verskansing gaan die komende seisoen baie belangrik wees en kan ‘n relatiewe goeie inkomste verseker. Daar is verskillende verskansingstrategieë op die mark beskikbaar en baie van die strategieë kan gekompliseerd wees.

Die algemeenste en eenvoudigste bly nog steeds ‘n vastepryskontrak of ‘n put (verkoop)-opsie.

Produsente wil nie ‘n vastepryskontrak so vroeg in die seisoen aangaan nie, omdat geen geleentheid benut kan word as pryse styg nie. Verder is daar ook die risiko dat die verwagte produksie nie realiseer nie en tonne dan ingekoop moet word.

Die put-opsie het weer ‘n premie wat betaal moet word, alhoewel dit gefinansier kan word. Daar bestaan ‘n moontlikheid dat pryse nie hoër as die premie beweeg nie en die premie op die prys dan verloor word. Die voordeel is dat as die pryse opwaarts beweeg, die geleentheid benut kan word.

Teen ‘n prys van R3 257/ton vir lewering in Julie 2017 is die koste van ‘n by-die-geld put-opsie R356/ton (begin Junie). Dit is ook belang rik om te onthou dat tyd as faktor ‘n rol speel: Hoe nader ‘n mens aan plantdatum beweeg, hoe goedkoper sal die opsie raak.

‘n Minimum Safex-prys van R2 901/ton kan sodoende gerealiseer word en ‘n prysstyging nog benut word. Daar is ook goedkoper strate gieë beskikbaar waar opsies gekombineer word en opsiepremies subsidieer.

Die probleem met die strategieë is dat daar weer ander risiko’s of beperkings bestaan. Dit kan wissel tussen plafonpryse of eie addisionele inbetalings – veral as daar nie genoeg gelewer kan word nie.

Met enige verskansingstrategie bly produksierisiko ‘n probleem. Sommige produsente oorbrug die probleem deur middel van die gebruik van voorraad in privaat silo’s, maar nie almal het voorraad of silo’s tot hul beskikking nie.

As ‘n vastepryskontrak aangegaan word, is die produksierisiko die grootste. Daar sal gekyk moet word na hoe om dit te beperk.

Daar is ook nuwe weerafgeleide opsies om jouself teen hierdie risiko’s te verskans. (Sien die artikel op bladsy 66 van dié uitgawe.) Baie belangrik om te besef is dat ‘n mens wel net risiko’s beperk.

Nuwe bemarkingsvooruitsigte vir die mieliemark

Wat is die risiko’s?

  • Potensiële hoë produksie kan wissel van prysdalings tot uitvoerpariteitsvlak.
  • ‘n La Niña-verwagting kan druk op Amerikaanse produksie plaas.
  • Weer bly die bepalende faktor.
  • Winsgewendheid kan negatief teen uitvoerpariteitsvlak wees.
  • Produksierisiko kan ‘n probleem wees as te veel tonne verskans word.
  • Die basis is belangrik om in ag te neem wanneer daar na bemarking gekyk word.

Dit gaan baie belangrik wees om ‘n deeglike bemarkingsplan vir die komende seisoen op te stel en al die risiko’s – gegewe individuele scenario’s – te bestuur. Daar is verskeie instrumente wat gebruik kan word. Dit hang net af van die risiko-aptyt en finansiële posisie.

 

Vrywaring
Sover moontlik is alles gedoen om die akkuraatheid van hierdie inligting te verseker. Graan SA aanvaar egter geen verantwoordelikheid vir enige skade of verliese wat gely word as gevolg van die gebruik van hierdie inligting nie.

Publication: July 2016

Section: On farm level

Search