• Login
  • Search Icon

Nie in die mood nie

October 2010

Beste Grootneef

Oktober, die mooiste maand – as die reën net wil kom. Die wêreld by ons is nou só van die stof dat ek op vroulief se klavier kon skryf: “Was my!”. Ou Neef, vir drie dae daarna het ek nog buffet gekry – koue boud en warm tong...My ore het behoorlik gedreun, want vroulief wou weet of ek dink sy kan nie haar huis skoonhou nie. En terstond is trekkers en bakkies verbied om voor die huis verby te ry – dis glo waar die stof losgetrap word die huis in. As die reën tog net wil val sal daar weer vrede wees...

Ek luister die ander dag na ‘n radioberig oor die groot stakings wat skole lam gelê het. Die storie handel oor kinders wat vroegoggend staan en wag vir die onnies, maar “the teachers were not in the mood for teaching...” word die een kind aangehaal. Eina!

Ná die groot sokker smaak dit my niemand is meer in die mood vir werk nie. Die ironie is, kom jaareinde, dan verstaan niemand hoekom ritse matrieks in die hek duik nie. Lyk in elk geval of “inleiding tot die staakmetodiek 101”, die afgelope maand die hoofvak by skole was en of die kinders die les vinnig en flink geleer het. Baie is nou nog nie in die mood om hok toe te gaan nie, wat nog van eksamen skryf.

Het die onnies maar in my oorle jongdae wou staak! Maar toe was die woord “staak” nog nie eers in die HAT opgeneem nie.

Nog ‘n ironie is dat troepe in hospitale ontplooi word, maar nie op die grense nie. Omdat die verpleegsters nie in die mood was om te verpleeg nie. Eintlik was niemand in die mood vir niks nie. Want om te staak vat sy eie bondel energie. Ek meen, toi-toi in die son en wind en weer is eintlik harde werk! Die staakstorie bly maar ‘n vreemde ding. En dit oor moods wat oorvat.

In die groot koerante is nogal baie gewag gemaak van die onlangse staatsbesoek aan China. Ou Neef, kom ons hoop dat positiewe dinge hieruit vir Suid-Afrika voortspruit. Ek wonder of die Chinese weet van onse stakerkaders en hul ontwrigtende deugde? Ek glo nie enige land se leiers loop te koop met die beste staakmag ter wêreld, wanneer handelsooreenkomste gesluit word nie! Terloops, mag mense in China staak? Gee iemand om? Maak jou in elk geval gereed vir al hoe meer goeters waarop “Made in China” staan wanneer jy dit omdop.

Kêrels, ‘n lelike ding net noord van ons grense. Volgens die Mosambiekse staats-TV, is sewe mense onlangs gedood tydens onluste in Maputo, onder andere oor hoë pryse vir brandstof en voedsel. Die probleem is dat die voedsel op winkelrakke is, maar dat die mense dit nie kan bekostig nie! Maputo is, jy kan maar sê, ‘n klipgooi van die Republiek af. Maak jou maar reg vir nog ‘n toestroming van mense na Suid-Afrika wat hier ‘n beter heenkome kom soek. Die probleem is dat hierdie kant van die grens dieselfde moeilikheid bestaan van voedsel op die rak, maar nie geld in die sak om dit te bekostig nie.

‘n Saluut aan onse mielieboere wie van die goedkoopste mielies in die wêreld produseer. Wat sou mieliemeelpryse gewees het as alle voorraad ingevoer moes word? Wat is die prysdrumpel vir klipgooi-frustrasie vir mieliemeel? Ons Goewerment moet maar kennis neem van die probleme noord van ons en die plaaslike boere koester, want ons maak ‘n verskil.

Gaan die graanboere vanjaar minder mielies plant? Dit is nogal ‘n jackpot vraag. Ek sien op ‘n onlangse landboumeningspeiling dat die boere se “plantlus” getoets word. Wil jy glo, volgens die peiling is onse boere nie van plan om af te skaal nie! Net 24% deelnemers is van oordeel dat daar vanjaar minder mielies geplant gaan word. Wys jou, dis nie in ons gene om bang te raak nie, nie eers vir lae pryse nie. Die weervoorspellers praat immers van ‘n goeie reënjaar...

Ek verneem ander dag van ‘n navorser wat ‘n opname gedoen het oor die aantal mense wat jaarliks in Suid-Afrika ná ‘n mamba-pik sterf. Die resultaat van die navorsing was dat jou kanse in Suid-Afrika groter is om van ‘n Mamba-pik te sterf, as om die lotto te wen! En dan is daar nie eers mambas in die Vrystaat nie...Soos Buurman altyd sê, daar is drie maniere om geld te verloor: op perde, die vinnigste; op vroumense, die lekkerste; en met boerdery, die sekerste.

Feit soos ‘n koei, voordat ek vanjaar my planter die lande instuur, sal die somme deeglik gedoen moet word. Weervoorspellers of te not.

Groete op die Oosgrens!

Kleinneef

Publication: October 2010

Section: E-mails

Search