• Login
  • Search Icon

Koringtarief

08 Apr 2016

Graan SA het op 4 Des 2015 vir ITAC in kennisgestel dat die tarief na R1224.31/ton verhoog moet word. Die proses neem gewoonlik so 30 tot 40 dae aangesien dit deur beide die Minister van Handel & Nywerheid en die Minister van Finansies goedgekeur moet word.

Graan SA het verneem dat die afkondiging van die verhoogde tarief deur Minister Davies goedgekeur is, maar dat daar ‘n vertraging by Tesourie is. Na verskeie navrae en selfs ‘n prokureursbrief, het Tesourie Graan SA vir ‘n gesprek genooi. Dit het op 5 April 2016 plaasgevind.

Graan SA kon egter nie ‘n bevredigende antwoord van Tesourie kry oor wanneer, indien wel, die nuwe tarief afgekondig gaan word nie. Die leierskap het gevolglik besluit om die Hooggeregshof te nader om ‘n dringende hofbevel om die tarief af te kondig.

Die versoek aan die hof is op 6 April 2016 ingedien.

Die Tesourie het gehoorgegee aan die hofbevel en ‘n kennisgewing uitgereik op 8 April 2016 dat die tarief wel gepubliseer sal word volgens die huidige voorgestelde tariefformule, maar het ook ter selfde tyd die Ministerie van Handel en Industrie versoek om die formule dringend te hersien.

Graan SA neem kennis van die besluit, maar wel met die volgende siening:

  1. Daar word kennis geneem van die besluit.
  2. Die tarief is nog nie amptelik gepubliseer nie en moet eers in die staatskoerant verskyn.
  3. Dit is ‘n tragiese dag as die regering vanuit die howe in die land bestuur moet word met groot koste vir die burgers en hope kosbare tyd wat verlore gaan.
  4. Die versoek van Tesourie om die tariefformule op die huidige stadium te hersien, plaas weer onsekerheid in die mark, gegewe dat dit nou die aanvang van die planttyd in die koringbedryf is en verskeie pogings aangewend word om die koringbedryf in die geheel te bevorder.

Klik hier om die oorspronklike mediaverklaring uitgereik deur Tesourie te besigtig.

Click here to view the orginal media statement issued by Treasury.