
Nampo Park, Bothaville - Die 58ste NAMPO Oesdag, met trots aangebied deur Graan SA vanaf 12 - 15 Mei 2026 by NAMPO Park, het verlede week op ’n hoë noot afgesluit en weereens sy posisie as die grootste buitelug landbouhandelsuitstalling in die Suidelike Halfrond en een van die belangrikste landboubyeenkomste ter wêreld bevestig.
Onder die 2026-tema, “Veerkragtigheid deur Innovasie”, het NAMPO oor vier dae 81 822 besoekers verwelkom, met Woensdag wat die hoogste enkel-dagbywoning van 24 579 besoekers aangeteken het. Meer as 910 uitstallers het die nuutste landboumasjinerie, tegnologie, insette, dienste en innovasies aan produsente en belanghebbendes vanuit die hele landbouwaardeketting ten toon gestel.
Die lugruim bo NAMPO was net so bedrywig soos die terrein self, met 311 vliegtuie, 100 helikopters en ’n totaal van 657 lugbewegings wat gedurende die week aangeteken is - nóg ’n bewys van NAMPO se nasionale en internasionale relevansie en bereik.
Ten spyte van swaar reënval in die aanloop tot die skou, wat groot druk op die terrein en omliggende padinfrastruktuur geplaas het, is die geleentheid suksesvol aangebied danksy uitgebreide voorbereiding en gekoördineerde operasionele beplanning.
“Die aanloop tot NAMPO vanjaar was uitsonderlik. ’n Week voor die skou was gedeeltes van die terrein steeds erg versuip ná beduidende reënval, tog het die span dag en nag gewerk om seker te maak die park is gereed vir uitstallers en besoekers,” het Dr Dirk Strydom gesê.
Strydom het bygevoeg dat die nat toestande ook verdere druk op verkeersvloei geplaas het aangesien meer as 30km grondtoegangspaaie nie benut kon word nie, insluitend ‘n bykomende toegangspunt na die noordelikke parkeerarea, wat veroorsaak het dat die meeste verkeer deur die R30-korridor moes beweeg. Die NAMPO-span ondersoek reedsnuwe moontlikhedeom toegang tot die terrein te verbeter en om potensiële oplossing saam met SANRAL, die eienaar van die R30, te bespreek.
Hierdie druk is Woensdag verder vererger deur die Toyota South Africa Motors Toyota Hilux Guinness Wêreldrekordpoging wat by NAMPO Park aangebied is, en wat ’n totaal van 1 545 Hilux-bakkies na die gebied gelok het en tydelik verkeersvloei rondom die geleentheid beïnvloed het.
“Hoewel die verkeersopeenhopings verstaanbare frustrasie vir sommige besoekers veroorsaak het, waardeer ons opreg die geduld en ondersteuning van die publiek. Ons spanne het nou saam met verkeersowerhede gewerk om die situasie so vinnig moontlik te stabiliseer. Ons is ook trots dat NAMPO só ’n unieke wêreldklas-rekordpoging saam met die Oesdag kon aanbied,” het Strydom gesê.
Volgens Danie Minnaar het vanjaar se NAMPO weereens die veerkragtigheid en aanpasbaarheid van Suid-Afrikaanse landbou onder moeilike ekonomiese en klimaatsomstandighede bewys.
“Produsente funksioneer in ’n omgewing van stygende insetkoste, infrastruktuuruitdagings, globale onsekerheid en druk op winsgewendheid. Wat vanjaar uitgestaan het, was hoe die bedryf steeds aanpas, innoveer en praktiese oplossings vind,” het Minnaar gesê.
“Oor die hele terrein kon mens sien hoe uitstallers fokus op tegnologie, toerusting, presisiestelsels en produksiemetodes wat daarop gemik is om produsente te help om doeltreffendheid te verbeter en volhoubaar te bly onder moeilike toestande. Daardie gees van veerkragtigheid was oral by NAMPO sigbaar.”
Minnaar het ook die NAMPO Oesdagkomitee, uitstallers, besoekers, organiseerders, personeel, nooddienste, verkeersowerhede en vennote bedank vir hul bydrae tot die sukses van die geleentheid.
“Die toestande voor die skou was uiters uitdagend, tog het die span ’n uitstaande NAMPO gelewer. Landbou kan trots wees op wat hierdie week bereik is,” het hy bygevoeg.
Richard Krige, voorsitter van Graan SA, het gesê NAMPO dien steeds as ’n kritieke platform vir die hele landbouwaardeketting om oor die toekomstige volhoubaarheid en mededingendheid van Suid-Afrikaanse landbou gesprek te voer.
“NAMPO is veel meer as net ’n uitstalling. Dit is waar landbou bymekaarkom om oplossings te bespreek, vennootskappe te bou, innovasie te dryf en die realiteite waarmee produsente gekonfronteer word, aan te spreek,” het Krige gesê.
“Vanjaar se gesprekke het gefokus op oplossings vir huidige winsgewendheid en toekomstige volhoubaarheid - die uitvoer van graanoorskotte, asook die uitbreiding van markgeleenthede deur dierlike proteïen en biobrandstof. Dit het weereens beklemtoon dat produsentewinsgewendheid sentraal staan tot voedselsekerheid, belegging en die langtermynvolhoubaarheid van die landbousektor. Produsente kan nie aanhou om stygende insetkoste, logistieke mislukkings en beleids-onsekerheid onbepaald te dra nie.”
Krige het bygevoeg dat NAMPO steeds die belangrikheid van samewerking en eenheid tussen georganiseerde landbou, landboubesighede, regering, navorsers en finansiële instellings demonstreer in die aanspreek van die sektor se uitdagings.
Die uitbreking van Bek-en-Klouseer (BEK), tesame met voortgesette siektebeheermaatreëls, het beduidende uitdagings vir die veebedryf geskep en groot druk op uitstallers en organiseerders geplaas. Ten spyte van hierdie beperkings het die veerkragtigheid, aanpasbaarheid en toewyding wat deur vee-uitstallers getoon is, verseker dat die vee-komponent by NAMPO steeds insiggewend, relevant en impakvol gebly het.
Uitstallers het innoverende benaderings tot deelname gevolg deur alternatiewe uitstallingsmetodes, opvoedkundige demonstrasies, tegnologiegedrewe uitstallings en nuwe maniere van betrokkenheid met besoekers te implementeer. Hierdie pogings het nie net voldoening aan dieregesondheidsregulasies verseker nie, maar het ook die veebedryf se vermoë beklemtoon om onder moeilike omstandighede aan te pas.
Deur hierdie inisiatiewe kon besoekers steeds die belangrikheid van veeproduksie, uitstekende genetika, dieregesondheidsbestuur en landbou-innovasie op ’n verantwoordelike en betekenisvolle wyse ervaar. Die kreatiwiteit en professionaliteit wat regdeur die geleentheid tentoon gestel is, weerspieël die vasberadenheid van die Suid-Afrikaanse veebedryf om voort te gaan om te groei en ontwikkelondangs beduidende uitdagings.
Benewens die kommersiële sukses van die ekspo, het NAMPO 2026 ’n sentrale platform geword vir van die belangrikste strategiese gesprekke wat tans die toekoms van Suid-Afrikaanse landbou vorm.
Gedurende die week het Graan SA NAMPO gebruik om hoëvlak-besprekings tussen georganiseerde landbou, regering, finansiële instellings, landboubesighede en bedryfsrolspelers te fasiliteer oor die dringende druk waaronder graanprodusente verkeer en die langtermynmededingendheid van die sektor.
Sentrale temas wat gesprekke oorheers het, sluit in:
Hierdie gesprekke het Graan SA se breër boodskap gedurende NAMPO 2026 versterk: veerkragtigheid in landbou kan nie op optimisme alleen staatmaak nie, maar vereis mededingendheid, innovasie, beleids-sekerheid, infrastruktuurdoeltreffendheid en winsgewende produsente.
Hoëvlak-betrokkenhede gedurende die week het strategiese gesprekke tussen Graan SA-leierskap, finansiële instellings, regering en bedryfsrolspelers ingesluit wat gefokus het op praktiese ingrypings om die veerkragtigheid en langtermynvolhoubaarheid van Suid-Afrikaanse graanproduksie te versterk.
’n Belangrike toekomsgerigte gesprekspunt tydens NAMPO 2026 was die groeiende belangrikheid van tegniese vaardigheidsontwikkeling en landboutegnologie deur Graan SA se NAMPO-Tech-inisiatief.
Die inisiatief het regering, opleidingsinstellings, landboubesighede en bedryfsleiers byeengebring om die groeiende tekort aan geskoolde landboutegnici, ambagslui en tegnologiespesialiste wat moderne boerderystelsels vereis, aan te spreek.
Besprekings het beklemtoon hoe vinnig ontwikkelende meganisasie, presisielandbou, digitale boerderystelsels en outomatisering die aard van landbouwerk verander en ’n dringende behoefte aan nuwe tegniese vaardighede regoor die sektor skep. Belanghebbendes het die belangrikheid van praktiese werkplek-gebaseerde opleidingsmodelle, sterker vennootskappe tussen die bedryf en opleidingsinstellings, en verbeterde toegang tot landbouvaardigheids-ontwikkelingsgeleenthede vir jongmense, veral in landelike gemeenskappe, beklemtoon.
“NAMPO-Tech weerspieël die toekomstige rigting van landbou. Innovasie alleen is nie genoeg nie - ons benodig geskoolde mense wat hierdie tegnologieë binne die landbou-ekonomie kan toepas, onderhou en uitbrei,” het Strydom gesê.
Die gesprekke het ook die groeiende rol van entrepreneurskap, digitale landbou, data-gedrewe boerderystelsels en tegniese vakleerlingskappe in die bou van ’n meer veerkragtige en globaal mededingende landbousektor vir Suid-Afrika beklemtoon.
Innovasie het deurgaans sentraal gestaan by NAMPO Park - van presisielandbou en masjinerietegnologie tot volhoubaarheidsoplossings, opleidingsinisiatiewe en toekomsgerigte landboutoerusting.
Uitstallers het weereens NAMPO gebruik as voorkeurplatform om nuwe tegnologieë, toerusting en landbou-oplossings bekend te stel, terwyl produsente direk met verskaffers, navorsers en diensverskaffers geskakel het oor praktiese oplossings om produktiwiteit en volhoubaarheid te verbeter.
Positiewe terugvoer van uitstallers het weereens sterk sakebetrokkenheid regoor die waardeketting bevestig, met baie maatskappye wat betekenisvolle interaksies en beduidende kommersiële belangstelling gedurende die week gerapporteer het.
“NAMPO bly een van die belangrikste platforms vir landboubesigheid en betrokkenheid enige plek in die wêreld. Die gehalte van gesprekke, innovasie en netwerkvorming wat hierdie week gesien is, bevestig die veerkragtigheid en langtermynpotensiaal van Suid-Afrikaanse landbou,” het Krige afgesluit.
Graan SA sien nou uit na NAMPO Kaap, wat van 9-12 September 2026 in Bredasdorp plaasvind, asook NAMPO ALFA van 2-3 Oktober 2026 by NAMPO Park.
Die datums vir die 2027 NAMPO Oesdag is bevestig as 11 - 14 Mei 2027 by NAMPO Park buite Bothaville. Vir meer inligting, besoek die NAMPO-webwerf of volg NAMPO op sosiale mediaplatforms.
Einde
Uitgereik deur: Graan SA Kommunikasie
Verdere navrae:
Dr Dirk Strydom, HUB, NAMPO (Pty) Ltd
dirs@grainsa.co.za