• Login
  • Search Icon

NAMPO OESDAG: Na 50 jaar steeds landbou se too naangewende vertoonvenster

April 2016

SA Graan/Grain redaksie

NAMPO OESDAG: Na 50 jaar steeds landbou se too naangewende vertoonvenster

Met die 50ste NAMPO Oesdag wat aangebied word, wil Graan SA graag die geleentheid benut om die mense agter die skerms te bedank vir hul tyd en opofferings die afgelope 50 jaar.

Volgens mnr Johan Loxton (bestuurder: Kommersiële Dienste,  Graan SA), is hierdie jaar se Oesdag baie spesiaal. Ons wil erkenning gee aan al die vrywilligers Hoofbestuurslede en personeel wat oor 50 jaar hulle tyd en energie aan die Oesdag gewy het.

“Tydens die 50ste NAMPO Oesdag sal daar ‘n geleentheid vir geskep word om mekaar weer te sien of om nuwe vriendskappe te smee en sommer net lekker gesellig saam te kuier.” Graan SA beplan ‘n saamkuier en middagete vir al die staatmakers tydens die Vrydagmiddag van vanjaar se Oesdag. Loxton noem ook dat ‘n ererol saamgestel word met name van persone wat oor die jare, reg vanaf die ontstaan van die Oesdag, betrokke was en sodoende verseker het dat die Oesdag van krag tot krag gaan.

“Wat verblydend is, is dat die agt uitstallers wat by die eerste Oesdag uitgestal het, nog steeds – na ‘n halwe dekade – hier uitstal. Party van hierdie uitstallers se name het wel intussen ver ander of hulle is oorgeneem deur ander maatskappye.”  Loxton noem verder dat die uitstallers wat van die begin af op die huidige terrein uitgestal het, geïdentifiseer is en ook erkenning sal ontvang. Hy sê dat hierdie jaar se Oesdag, soos alle voriges, weer aan besoekers die geleentheid sal gee om nuwe tegnologie, dienste en produkte alles onder die spreekwoordelike “een dak” en op een terrein te sien en te ervaar.

“Wat die Oesdag gewild maak onder besoekers, is die feit dat daar jaarliks verskeie nuwe bekendstel lings is. “Baie uitstallers benut die Oesdag as die ideale platform om nuwe produkte en dienste aan die publiek bekend stel.  Een van die redes daarvoor is omdat die uitstallers weet dat die regte mark direk bereik word by die Oesdag,”  volgens Loxton.

Mnr Cobus van Coller (voorsitter van die NAMPO Oesdagkomitee), stem heelhartig saam en voeg by dat dit veral tydens hierdie droogtejaar noodsaaklik vir produsente is om NAMPO Oesdag te besoek. Sodoende sal produsente op hoogte bly van die nuutste tegnologie, dienste en produkte.

“Die tweede doel wat jy bereik tydens jou besoek aan die Oesdag,  is om vas te stel wat jy by jou boerdery kan voeg om verdere waarde toe te voeg. NAMPO is die ideale geleentheid om dit te doen en ook uit te vind watter planne of tegnologie ander produsente gebruik.”

Volgens Van Coller is dit noodsaaklik dat produsente met mekaar gesels en inligting uitruil tydens ‘n moeilike jaar. “Die Oesdag is die platform waar jy met medeprodusente kan kommunikeer en mekaar kan ondersteun in ‘n uitdagende seisoen soos vanjaar.”

Volgens Loxton en Van Coller behoort die droogte nie ‘n noemenswaardige invloed op die bywoning te hê nie en die aantal uitstallers sal ook min of meer dieselfde as verlede jaar wees.

“Ons ontvang jaarliks meer aansoeke as kansellasies en hierdie jaar is geen uitsondering nie,” noem Loxton. “Dit bewys weer eens dat uitstallers die moeite doen om selfs tydens moeilike jare uit te stal en sodoende steeds hul nuutste produkte en dienste aan potensiële kliënte kom ten toon stel. “Oor die afgelope 50 jaar van die Oesdag se bestaan, het dit steeds die mees toonaangewende landboutentoonstelling gebly,” aldus Loxton. “Die Oesdag bied jaarliks aan die produsent dié vertoonvenster van die nuutste tegnologie, produkte en dienste en ek is net so opgewonde oor hierdie een as met al die vorige Oesdae.”

Loxton noem ook die immer gewilde Nasie in Gesprekgespreksforum weer die jaar een van die hoogtepunte op die program sal wees. Daar word verskeie temas vir elke dag beplan en dit sal ook weer op KykNet uitgesaai word. Die temas wat bespreek gaan word, sal aktueel en van toepassing wees op die produsent en landbou in Suid-Afrika.

Die 4x4-demonstrasies bly ook jaarliks saam met die Boerepatentekompetisie ‘n toeskouergunsteling en behoort weer goeie aftrek te kry.

Die nasionale afslaerskompetisie is verlede jaar die eerste keer aangebied en het reeds baie belangstelling gelok. Die Toyotaafslaerskompetisie, aangebied deur Veeplaas in samewerking met Graan SA, is oop vir enige persoon wat sy afslaerstalent wil meet teen ander kandidate.

‘n Moet op die produsent se NAMPO-lysie is ‘n besoek aan die saadplotte waar saadmaatskappye hul kultivars aanplant en eerstehands aan produsente en verbruikers ten toon stel.

Loxton noem dat die terrein jaarliks volgens prioriteit en soos fondse beskikbaar raak, opgegradeer en verbeter word. “Ons doen alles in ons vermoë om te verseker dat die besoekers en uitstallers die beste moontlike geriewe geniet.”

Van die opgraderings vanjaar sluit in die plavei van die toegangspad vanaf Hek 1 tot langs die 4x4-baan. Daar is ook heelwat ander opgraderings en uitbreidings aan die algemene infrastruktuur op die terrein gedoen.

Om hierby aan te sluit, word die nuutste tegnologie ook jaarliks deur Graan SA ingespan om die aanbieding van die Oesdag glad te laat verloop. “Tegnologie word onder andere benut om die watertoevoer en die werking van die rioolstelsel te monitor,” aldus Loxton.

Publication: April 2016

Section: NAMPO

Search