• Login
  • Search Icon

‘n Kykie na tendense in die plaaslike landboumasjineriemark

August 2017

CORNÉ LOUW, senior ekonoom, Graan SA

Pryse van landboumasjinerie – en meer spesifiek die mate waartoe dit toegeneem het – is deesdae op elke graanprodusent se lippe. Dit is so dat die meeste groot items ingevoer word; en daarom speel die waarde van die rand ook ‘n belangrike rol in plaaslike prysvorming. Die wisselkoers het vanaf Junie 2007 tot Junie 2017 met 80% verswak – van R7,15 tot R12,88 teenoor die dollar. Trekker­pryse het die afgelope tien jaar meer as verdubbel.

In Grafiek 1 kan gesien word dat gemiddelde plaaslike trekker­pryse oor ‘n tien jaartydperk met 117% gestyg het en goed gekorre­leer het met die verswakking in die wisselkoers.

Jaar-op-jaar-landboumasjineriepryse
Die jaar-tot-jaar-prysveranderinge van die verskillende katego­rieë landboumasjinerie kan in Tabel 1 waargeneem word. Land­boumasjineriepryse het gemiddeld vanaf Junie 2016 tot Junie 2017 met 0,9% gedaal, terwyl trekkerpryse gemiddeld met 1,8% afge­neem het. Oor dieselfde tydperk het die wisselkoers met 14,6% versterk.

Bekostigbaarheid van trekkers oor tyd
Ruilvoetberekeninge van trekkers en graan is gedoen om die bekostigbaarheid van trekkers oor tyd te analiseer.

Grafiek 2 toon hoeveel mielies benodig word om ‘n trekker van tussen 70 kW en 80 kW aan te koop. Vir die komende seisoen kan dit ‘n produsent 415 ton mielies uit die sak jaag om ‘n trekker van hierdie grootte aan te koop, terwyl dit tien jaar gelede 225 ton gekos het.

Die gemiddelde ruilvoet sedert 1990 is 305 ton mielies vir ‘n trekker van tussen 70 kW en 80 kW. Daarom is trekkers tans minder bekostigbaar as die gemiddelde ruilvoet sedert die 1990/1991­produksieseisoen.

Grafiek 3 toon hoeveel koring benodig word om ‘n trekker van tussen 70 kW en 80 kW aan te koop. Vir die huidige seisoen kan dit ‘n produsent 215 ton kos om ‘n trekker aan te koop, terwyl ‘n trekker van hierdie grootte oor die langtermyngemiddeld (sedert 1990/1991) 195 ton koring gekos het.

Trekkerverkope
Trekkerverkope vir 2016 het 5 855 eenhede beloop – 11,3% laer as die vorige jaar se verkope. Trekkerverkope tot dusver vir 2017 tot en met Meimaand is bykans dieselfde as vir dieselfde tydperk in 2016. Die gemiddelde trekkerverkope per jaar sedert 1995 beloop 5 364 eenhede (Grafiek 4).

Stroperverkope vir 2016 was 14,4% laer as in 2015 en vir die jaar tot dusver (Mei 2017) is verkope 12,1% hoër as ‘n jaar gelede vir dieselfde periode.

Grootte en ouderdom van trekkervloot
Die verandering in die grootte van Suid-Afrika se algehele trekkervloot (die aantal trekkers in Suid-Afrika jonger as 20 jaar)
vir die afgelope paar jaar word in Grafiek 5 geïllustreer, terwyl Grafiek 6 die ouderdomsuiteensetting daarvan weergee.

Algemene gevolgtrekkings ten opsigte van die grootte en ouder-domverspreiding van die trekkervloot (AGFACTS, 2017) is soos volg:

  • Die algehele trekkervloot het die afgelope tien jaar aansienlik toegeneem sedert ‘n laagtepunt in 2005 bereik is.
  • Die huidige trekkervloot van 86 500 eenhede is 13,4% laer as die vloot van bykans ‘n 100 000 eenhede 20 jaar gelede.
  • Die trekkervloot het 15 jaar gelede (2001) 68 700 eenhede beslaan. Die huidige vloot toon ‘n toename van 25,9% teenoor daardie syfer.
  • Die totale hoeveelheid trekkers jonger as tien jaar oud, is tans ongeveer 61 600 eenhede – 71,2% van die huidige trekkervloot. Die persentasie trekkers jonger as tien jaar was op ‘n laagtepunt in 1993, toe 35,8% van die trekkervloot jonger as tien jaar was. In 1995 het die totale trekkers jonger as tien jaar 36,7% van die vloot beloop, waarna die grootte van die trekkervloot jonger as tien jaar toenemend begin groei het. ‘n Skerp toename het veral in die afgelope agt jaar plaasgevind in die hoeveelheid trekkers jonger as tien jaar.
  • Die gemiddelde ouderdom van die trekkervloot staan tans op 6,8 jaar.

Trekkrag van trekkers in die trekkervloot
Die totale trekkrag in die Suid-Afrikaanse trekkervloot staan tans op 6,74 miljoen kW (Grafiek 7). Dit het skerp toegeneem sedert die trekkrag ‘n minimum van 4,26 miljoen kW in 2003 bereik het.

Die gemiddelde krag (kW) van trekkers in die totale trekkervloot het die afgelope paar jaar geleidelik toegeneem. Hierdie styging in gemiddelde krag kan in Grafiek 8 gesien word: Dit het vanaf 71,2 kW (tien jaar gelede) tot die huidige 77,9 kW toegeneem.

Publication: August 2017

Section: Focus on

Search