• Login
  • Search Icon

‘n Kykie na insekplae op MIELIESAAILINGE

September 2018

ELRINE STRYDOM, LNR-Graangewasse, Potchefstroom

Gedurende die ontkieming en opkoms van ‘n mielieplantjie is dit belangrik dat ‘n mens bewus sal wees van insekte wat skade daaraan kan aangerig en om pro-aktief op te tree om dit te verhoed. Die belang van saailinginsekplae is gesetel in die feit dat wanneer die saailing beskadig is, dit ‘n direkte impak op opbrengs het. 

Daar is ‘n verskeidenheid grondinsekte wat op die wortels, ondergrondse stamme en jong ontwikkellende blare van saailinge vreet, naamlik snywurms, swartmieliekewers, valsdraadwurms en sporadiese peste soos die mieliewortelwurm. Die insekplae se skade-simptome lyk op die oog af betreklik dieselfde, maar daar is tog kenmerkende verskille. 

Snywurms is ‘n algemene plaag (Foto 1) wat aan die begin van die seisoen voorkom. Die motte lê eiers gedurende die herfs- en wintermaande op onkruide en opslag van gewasse. Sodra landerye voorberei word en onkruid verwyder word, is dit die ideale geleentheid vir hierdie larwes om saailinge aan te val tydens opkoms. 

Skade aan jong saailinge lei daartoe dat die plant heeltemal omval en dit lyk kompleet of die plantjie aan die onderkant van die stam afgesny is. By groter plante sal die vreetskade aan die basis van die plant, net onder die grondvlak, sigbaar wees. Die vreetskade toon ‘n kenmerkende netjiese, skoon gat in die stammetjie van die saailing. 

Swartmieliekewers (Foto 2) oorwinter gedurende laat April en Mei en raak weer aktief in die lente. Die kewer grou in die grond by die saailing in en sal ook daar aangetref word wanneer daar om die saailing gegrou word. Die skade wat deur die kewer aangerig word, het ‘n gerafelde voorkoms omdat die kewer skerp strukture op sy voorpote het wat teen die plant skuur wanneer die insek vreet. 

Baie jong saailinge kan heeltemal afgevreet word teenoor ouer plantjies waarvan die kelkblare beskadig word en verdroog. Wanneer daar ernstige skade aan die groeipunt aangerig word en die laasgenoemde simptome verskyn, word dit “dooie hart” genoem. Meeste saailinge oorleef nie hierdie skade nie, terwyl sommige vertraagde groei toon of misvormde strukture en spruite vorm. 

Jong saailinge wat deur valsdraadwurms (Foto 3) beskadig word, het gewoonlik ernstige skade aan die ondergrondse dele van die plant. Die larwes vreet gewoonlik ‘n holte in die stam van die saailing waar die bywortels later sal vorm. Die groeipunt kom ook in hierdie gedeelte voor en word beskadig en in talle gevalle veroorsaak dit dat die sentrale jong blare verwelk en doodgaan (dooie hart-simptome). 

Saailinge wat op hierdie manier beskadig word, sterf af en veroorsaak ‘n aansienlike vermindering in plantdigtheid, wat vereis dat die spesifieke lande oorgeplant moet word.

Die skade wat die valsdraadwurms aan die stam van saailinge aanrig, het ‘n gerafelde voorkoms (Foto 4) wat tot ‘n groot mate soos dié van die swartmieliekewer (Foto 5) lyk. 

Die mieliewortelwurm (Foto 6) is ‘n minder bekende plaag in Suid-Afrika, maar is wel in verskeie provinsies geïdentifiseer. In Noord­wes Provinsie was daar ‘n geval waar tot 42% van die plante in die landerye beskadig was. Saailinge en jong mielieplante kan so erg beskadig word dat plantestand soveel soos 80% verminder en oorplant oorweeg moet word.

Besmetting kom gewoonlik in kolle in die land voor. In jare met goeie lentereën en ‘n droë periode wat volg, kan daar ‘n ernstige uitbreek van hierdie plaag wees. Die sigbare skade van hierdie plaag stem grootliks ooreen met dié van die swartmieliekewer en valsdraadwurm.

Chemiese beheer, saadbehandelings en voorkomende maatreëls soos om lande skoon te hou van onkruid en opslag, is die beste manier om grondinsekte te beheer.
 

Publication: September 2018

Section: Focus on integrated pest control

Search