• Login
  • Search Icon

‘n Blik op onkruidbeheer in die Wes-Kaap

October 2017

Gideon Schreuder, besturende direkteur, Equalizer

Die verbouing van kleingraan in die Wes-Kaap het ‘n ryke geskiedenis, wat vele wendings in die praktyke ver­bonde aan verbouing deurgemaak het. Die laaste noemenswaardige wending het aan die begin van die eeu plaasgevind, waar die fokus vir die eerste maal ernstig verskuif het na verminderde of geenbewerking (no-till).

Een van die grootste katalisators van laasgenoemde was die vermoë van die nuwe verminderde bewerkingsaaitoerusting (beter bekend as tandplanters) waarmee voor-opkomsonkruiddoders effektief toegedien kon word. Die effektiwiteit waarmee hierdie onkruiddoders korte mette van veral weerstandbiedende raaigras gemaak het, was nie net ‘n revolusie nie, maar ook ‘n reddingsboei vir ‘n groot aantal desperate graanprodusente.

Effektiewe onkruidbeheer is van kardinale belang in die volhoubaarheid van graanproduksie in die Wes-Kaap. Die oënskynlike afname in gemiddelde reënval per jaar het hierdie onderwerp op die spits gedryf – vir die eenvoudige rede dat die beperkte vog­reserwes 100% vir die graan beskikbaar moet wees en nie met onkruid gedeel kan word nie. In die strewe na suksesvolle beheer moet daar gefokus word op drastiese vermindering of totale uitwis­sing van onkruidsaad – en veral weerstandbiedende onkruidsaad.

Die dilemma
Oor die afgelope 20 jaar het dit duidelik geword dat chemiese onkruidbeheer in isolasie nie voldoende is om effektiewe beheer te verseker nie. Die grootste rede hiervoor is onkruid se opbou van weerstand teen selektiewe onkruiddoders. Vir alle praktiese doeleindes is weerstandbiedendheid ‘n onafwendbare situasie, gegewe dat daar genoeg tyd is. By sommige produsente gaan dit
net gouer as by ander plaasvind – afhangende van die effektiwiteit van die individu se onkruidbestrydingsprogram.

Weerstand begin opbou wanneer plante aan die doders blootgestel word, maar nie vrek nie. Die volgende faktore versnel die opbou van weerstand: Verlaagde dosisse, foutiewe kalibrasie van spuittoerusting, foutiewe of verwaarloosde spuittoerusting, swak waterkwaliteit en pH-wanbalanse in die grond.

Ongunstige aanwendingstoestande waaronder die volgende, het ook ‘n geweldige negatiewe inpak: Ongunstige omgewingstemperatuur, té sterk wind, droë stowwerige toestande, té veel dou op plante, stremming as gevolg van rypskade en droogtestremming.

Spuitstofdrif bo-oor onkruid op kontoere, langs kampdrade en paaie kan potensieel die grootste risiko inhou vir die opbou van weerstand. Gegewe hierdie lang lys van faktore wat die werking van onkruiddoders nadelig beïnvloed, is dit onafwendbaar dat sekere plante blootgestel gaan word aan doders, maar nie sal vrek nie.

Suksesvolle onkruidbeheer
Die sleutel tot suksesvolle beheer lê opgesluit in ‘n fyn-uitgewerkte bestrydingsprogram, waarin chemie nog steeds 90% van die werk kan doen. In die strewe na totale uitwissing van onkruidsaad, sal ander hulpmiddels as chemie egter ingespan moet word om die stryd te wen. Wat hierna volg, is vir alle praktiese doeleindes ‘n holistiese oorsig oor metodes van onkruidbestryding en nie noodwendig weten­skaplik-gesteunde of getoetste afleidings nie.

Wisselbou is ‘n noodsaaklike komponent in die stryd teen onkruid. Dit bied die geleentheid om chemie vanuit verskillende groepe in rotasie aan te wend – wat van kardinale belang is om die opbou van weerstand te strem. Verder is dit essensieel om geen grassade na die koringjaar oor te dra nie. Breëblaaronkruide kan nog tot ‘n mate binne koring beheer word, maar tekens van weerstand is al teenwoordig. Langer rotasies, soos byvoorbeeld koring/medics/kanola, mag nodig wees om grasse behoorlik uit te roei.

‘n Algemene fout wat heelwat produsente begaan, is om grasse nie vroeg genoeg op byvoorbeeld medics te spuit nie. Grasse in die vroeë stadium van die weidingsgewas word gewaardeer as “kos” vir die vee. Die realiteit is dat die grasse eintlik ernstig teen die medics kompeteer vir beskikbare vog. Sodra die grasse vernietig word, floreer die medics wat “kos” sal voorsien en ook verdere onkruidontwikkeling sal onderdruk.

Voor-saaibestryding met nie-selektiewe middels, soos byvoor­beeld Roundup (glifosaat), is uiters belangrik om die onkruidsaadbank te verminder. Dit kan egter net effektief in Maart en April toegepas word, met vroeë reën wat saadontkieming stimuleer en waarna die plante dan dood gespuit kan word.

Maksimum ontkieming kan bevorder word deur lande in Januarie of Februarie met ‘n swaar sleepyster te sleep. Met drie uit die afgelope vyf seisoene wat droog begin het, was produsente werklik op die agtervoet wat vroeë onkruiduitwissing betref. Stoppellande met ‘n geskiedenis van erge raaigraspopulasie en wat weer gesaai gaan word, sal ongelukkig gebrand moet word sou vroeë reën wegbly.

Voor-opkomsdoders soos Trifluralin en Avedex is die volgende wapen in die arsenaal wat net voor-plant of op die planter self toegedien kan word. Die beste werking word verkry waar die gifstof in die plantproses deeglik met ‘n lagie grond bedek word. Tandplanters is uiters geskik vir dié doel.

Oormatige materiaalbedekking kan hierdie metode van bestryding nadelig beïnvloed, omdat die gifstof op die wortelpunte van die plant inwerk. Skade aan graanplante is ook ‘n bedreiging – veral as behandelde grond in aanraking kom of te na aan die saailing beland.

Dubbel-rysaadplasers is vir twee redes nie so geskik waar dit gekombineer word met voor-opkomsdoders nie. Eerstens word
die saad bitter naby aan die behandelde grond geplaas – wat die risiko van skade verhoog en tweedens genereer die dubbel-rysaadplaser ‘n wyer baan wat onbehandel is en waarin raaigras kan floreer. Ander faktore wat die werking en intensiteit van skade nadelig beïnvloed, is droogtetoestande met en na plant en harde reën wat behandelde grond terug in die plantvoor was net ná plant.

Verder is daar nou na saai, maar steeds voor-opkomsonkruiddoders waarvan Diflan, Sakura en Boxer/Wrestler ‘n paar voorbeelde is, wat die tweede en derde rondte-ontkieming van raaigras kan beheer.

Die uitwissing van onkruid langs kampdrade, paaie en op kontoere is absoluut noodsaaklik. Dit is ‘n eenvoudige dissipline wat onver­skoonbaar is as dit nie gedoen word nie.

Opwindende nuwe metodes van meganiese beheer het al die lig gesien – veral in Australië, waar weerstand ‘n astronomiese uitdaging geword het. Die fisiese vang en verwydering of vernietiging van die onkruidsaad in die kaf agter die stroper is ‘n groot fokuspunt. Een só ‘n voorbeeld is waar saadvernietigingstoestelle agterop stropers gemonteer word en waarmee saad vernietig word, maar loop- en onderhoudskoste is ongelukkig te hoog.

Verder kan kaf in vangkarre agter die stroper gevang word en op hope gegooi word – wat dan gebrand word. Die operasie strem on­gelukkig die oesproses en ‘n groot volume materiaal word vernietig – wat dit nie so aantreklik maak nie.

Derdens word die fyn kaf op ‘n enkele ry gekonsentreer – wat dan agterna gebrand word. Laasgenoemde is ongelukkig uiters arbeidsintensief en die risiko dat die hele land afbrand, is goed – wat ‘n groot verlies aan materiaal meebring.

Die mees aantreklike en sinvolle manier van kafhantering is waar dit in rye op die stroper se wielspoor gegooi word. Dit gaan hand-aan-hand met ‘n spoorverkeerstelsel, waar die spore goed gekompakteer is en onkruid glad nie kan oorleef – al het dit ontkiem – nie. In die afwesigheid van spoorverkeer kan die rye dood gespuit word sou ontkieming plaasvind. In sommige gevalle verrot die rye as gevolg van die hoë konsentrasie van fyn materiaal – wat onkruidsaad outomaties vernietig.

Onkruidsaad kan natuurlik ook baie goed uitgewis word met die maak van hooi of kuilvoer – veral op probleemkampe.

Publication: October 2017

Section: Focus on

Search