• Login
  • Search Icon

‘n Blik op die toekoms van die rooivleisbedryf

August 2017

Gerhard Schutte, Rooivleis Produsente Organisasie

Die Rooivleisbedryfsforum evalueer tans die voorstelle wat tydens die onlangse strategiese werkswinkel vir die rooivleisbedryf gemaak is, met die oog daarop om dit te implementeer en aansoek te doen vir ‘n statutêre heffing om die betrokke funksies te finansier.

Die volgende heffingsaansoek vir die rooivleisbedryf sal teen November 2018 by die Nasionale Bemarkingsraad ingedien word
vir goedkeuring.

Die doelwit is om kostedoeltreffende ingrypings, wat ‘n bydrae sal lewer om ‘n doeltreffende toekomsstrategie vir die rooivleisbedryf daar te stel, te bewerkstellig.

Die Rooivleis Produsente Organisasie (RPO) is bemoedig deur die feit dat die RPO-kongres en RPO se uitvoerende raad, die rooivleiswerkswinkel en die Rooivleisbedryfsforum tot ‘n groot mate saamstem oor wat die kritiese aangeleenthede in die bedryf
is wat aangespreek behoort te word.

Daar is konsensus dat die volgende funksies in die toekomstige heffing ingesluit behoort te word:

  • Die Rooivleisbedryfsforum sal namens die hele bedryf ‘n skakelfunksie verrig in terme van nakoming, transformasie sowel as navorsing en ontwikkeling.
  • Dieregesondheid, dierewelsyn, biosekuriteit, vleisveiligheid en regulatoriese beheer, sowel as handelspromosies (invoere en uitvoere) moet ingesluit word.
  • Eie sake sluit in verbruikersbewustheid, produksie-ontwikkeling en sektor-spesifieke prioriteite en skakeling.

Tydens die nasionale RPO se laaste kongres is daar besluit dat die volgende funksies in terme van die statutêre heffing verrig moet word – dit is in lyn met die riglyne wat by die werkswinkel aanvaar is:

  • Die vorming van uitstekende verhoudings met regerings-departemente wat ‘n invloed op die rooivleiswaardeketting het.
  • Ondersteuning van nasionale strukture wat geskep is om die rooivleisbedryf te ondersteun, soos die Landbou-aksieplan en die Nasionale Ontwikkelingsplan.
  • Ondersteuning van en samewerking met nasionale forums soos die Dieregesondheidsforum, die Nasionale Veediefstal-voorkomingsforum, die Landbouhandelsforum en die Predasie-bestuursforum.
  • Toegewyde en volhoubare pogings moet aangewend word vir optimale winsgewendheid in die waardeketting, gebaseer op vrye markbeginsels en minimum inmenging.
  • Versameling en verspreiding van bedryfsinligting.
  • Die forum moet a-polities wees.

Daar is voorgestel dat die Rooivleisbedryfsforum die volgende funksies sal hê:

  • Bevordering, beskerming en toepassing van die regte en belange van sy lede en ondersteuning van of teenkanting teen enige wetgewing wat deur die nasionale, provinsiale en plaaslike regerings of internasionale organisasies ten koste van die Rooivleisbedryfsforum se lede ingestel kan word.
  • Die bevordering en stimulering van produksie-ontwikkeling, verwerking en verbruikersopvoeding rakende die vraag na rooivleis, afval, rooivleisprodukte en die rooivleisbedryf as ‘n geheel.
  • Die aanstelling van trustees op die Vleisbedryfstrust sowel as die Rooivleisnavorsing- en Ontwikkelingstrust.
  • Die aanstelling van direkteure om op enige maatskappye te dien wat gevorm mag word om dienste aan dierooivleisbedryf te verskaf.
  • Nominasie van bedryfsverteenwoordigers aan die beplanningskomitees van Rooivleisnavorsing en Ontwikkeling Suid-Afrika.
  • Goedkeuring en ondersteuning van die finansiering van diens-verskaffers soos uiteengesit in die besigheidsplan wat aan die Minister van Landbou, Bosbou en Visserye voorgelê en goedgekeur is rakende die implementering van ‘n staatsheffing soos voorsien in die gewysigde Landbouproduktebemarkings­wet (Wet nr. 47 van 19)
  • Ondersteuning en inisiëring van uitvoerinisiatiewe in die rooi-vleisbedryf.
  • Ondersteuning en beïnvloeding van transformasie-inisiatiewe van die opkomende sektor in belang van die hele waardeketting.
  •  Versameling en verspreiding van bedryfsinligting.

Die kwessies wat by die werkswinkel geopper is, sluit in:

  • Die rooivleisbedryf moet finansieel bydra tot die uitwissing van dieresiektes.
  • Die regering en die privaat sektor moet saam verantwoordelik­heid aanvaar vir die uiters belangrike kwessie van inentings teen brusellose, wat volgens wet verpligtend is.
  • Die bedryf moet naspeurbaarheid befonds, maar die regering moet ‘n bemagtigende omgewing skep.
  • Die statutêre heffing moet verhoog sodat die nodige inisiatiewe gefinansier kan word.
  • Produsente behoort toegelaat te word om te bemark soos wat hulle verkies.
  • Die regering kan moontlik basiese kwaliteitsbeheer vir die uit-voermark in plek stel.
  • ‘n Vrywillige graderingstelsel om aan die verbruiker se behoeftes te voldoen.
  • Bedryfsinligting moet gekoördineer en gedeel word.
  • ‘n Stelsel moet in plek gestel word om die kwaliteit van die produk dwarsdeur die waardeketting te beheer.
  • Die voedingswaarde van die produk moet waarde toevoeg.
  • Die verskillende dele van die karkas moet vir verskillende markte ontwikkel word en navorsing moet in dié verband gedoen word.
  • Daar is ‘n behoefte aan ‘n klemverskuiwing na meer praktiese, korttermynnavorsing en -ontwikkeling om befondsing te verseker.
  • Die bedryf moet as ‘n groep saamwerk.
  • Dieregesondheid is ‘n groot uitdaging.
  • Die wette wat van toepassing is op die identifikasie van diere moet toegepas word.
  • Genetika speel ‘n belangrike rol.
  • Klassifikasie is herkenbaar en die bedryf moet brandmerke ondersoek om dit te komplementeer.
  • Die bedryf moet van die grondvlak af bestuur word en nie op die regering wag nie.
  • Ten volle, gefokusde koördinasie is belangrik.
  • Die oordrag van vaardighede vir transformasie is baie belangrik.
  • Daar moet ‘n vertrouensverhouding met kleinskaalse, opkomende boere wees.
  • Die veterinêre strategie is goed, maar die toepassing daarvan is problematies. Die privaat sektor moet die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye hiermee bystaan.
  • Die bedryf behoort betrokke te wees by handelsooreenkomste met ander lande.
  • ‘n Uitvoerstrategie moet ontwikkel word.
  • Nismarkte moet eers in Suid-Afrika ontwikkel word voor die produk op groot skaal uitgevoer kan word. Stelsels moet in
  • plek wees in terme van gradering en brandmerke.

Dit is die nasionale RPO se siening dat die hele proses inklusief moet wees, daarom moet alle rolspelers in die bedryf deel wees van die oplossing. Dié inisiatief geniet die ondersteuning van die regering en die bedryf wil graag saam met die regering werk. Verder is die bedryf bereid om in beheer van sy eie toekoms te wees en is ook bereid om dié toekoms self te finansier.

Publication: August 2017

Section: Relevant

Search