• Login
  • Search Icon

‘n Blik op die plaaslike landboumasjineriemark

August 2018

Graanprodusente kla al hoe meer oor trekkerpryse wat styg en heeltemal te duur raak. Onder andere word daar beweer dat trekkerpryse oor tyd heelwat vinniger toegeneem het as dié van vragmotors. 

Gemiddelde pryse van trekkers en vragmotors is oor ‘n 15-jaar-periode met mekaar vergelyk en verskyn in Grafiek 1 in ‘n indeksformaat. Uit die grafiek kan afgelei word dat gemiddelde trekkerpryse in die afgelope 15 jaar met 116% toegeneem het, terwyl dié van vragmotors op ‘n gemiddelde basis met 43% toegeneem het. 

Jaar-op-jaar-landboumasjineriepryse
Die jaar-tot-jaar-prysveranderinge van die verskillende kategorieë landboumasjinerie kan in Tabel 1 waargeneem word. Landboumasjineriepryse het gemiddeld vanaf Mei verlede jaar tot Mei vanjaar met 2% gedaal, terwyl trekkerpryse gemiddeld met 5,1% afgeneem het. Oor dieselfde tydperk het die wisselkoers met 5,5% versterk.

Bekostigbaarheid
Om die bekostigbaarheid van trekkers oor tyd te evalueer, is ruilvoetberekeninge van trekkers en graan gedoen. 

Grafiek 2 toon hoeveel mielies benodig word om ‘n trekker van tussen 70 kW en 80 kW aan te koop. Om ‘n trekker van hierdie grootte aan te koop, kan ‘n produsent in die komende seisoen 442 ton mielies uit die sak jaag, terwyl dit tien jaar gelede 357 ton gekos het. Die gemiddelde ruilvoet sedert 1990 is 309 ton mielies vir ‘n trekker van tussen 70 kW en 80 kW. Trekkers is tans minder bekostigbaar as die gemiddelde ruilvoet sedert die 1990/1991-produksieseisoen. 

Grafiek 3 toon hoeveel koring benodig word om ‘n trekker van tussen 70 kW en 80 kW aan te koop. Vir die huidige seisoen kan dit ‘n produsent 222 ton kos om ‘n trekker aan te koop, terwyl ‘n trekker van hierdie grootte oor die langtermyn gemiddeld (sedert 1990/1991) 197 ton koring gekos het.

Trekkerverkope
Trekkerverkope vir 2017 het 6 362 eenhede beloop – 8,7% hoër as die vorige jaar se verkope. Trekkerverkope vir 2018 tot dusver tot en met Juniemaand, is 11,9% hoër as vir dieselfde tydperk in 2017. Die gemiddelde trekkerverkope per jaar sedert 1995 beloop 5 407 eenhede (Grafiek 4).

Stroperverkope vir 2017 was 5,4% hoër as in 2016, en vir die jaar tot dusver (Junie 2018) is verkope 5,3% laer as ‘n jaar gelede vir dieselfde periode. 

Grootte van trekkervloot
Die verandering in die grootte van Suid-Afrika se algehele trekkervloot (die aantal trekkers in Suid-Afrika jonger as 20 jaar) word in Grafiek 5 vir die afgelope paar jaar geïllustreer, terwyl Grafiek 6 die ouderdom daarvan uiteensit. 

Algemene gevolgtrekkings ten opsigte van die grootte en ouderdomsverspreiding van die trekkervloot (Agfacts, 2018):

  • Die algehele trekkervloot het die afgelope tien jaar aansienlik toegeneem sedert ‘n laagtepunt in 2005 bereik is. 
  • Die huidige trekkervloot van 88 150 eenhede is 7,2% laer as die vloot van bykans ‘n 95 000 eenhede 20 jaar gelede. 
  • Die trekkervloot het 15 jaar gelede (2002) 64 800 eenhede beslaan. Die huidige vloot toon ‘n toename van 36% op daardie syfer.
  • Die totale hoeveelheid trekkers jonger as tien jaar oud, is tans ongeveer 62 600 eenhede – wat 71% van die huidige trekkervloot verteenwoordig. Die persentasie trekkers jonger as tien jaar oud was in 1993 op ‘n laagtepunt, toe 35,8% van die trekkervloot jonger as tien jaar oud was. In 1995 het die totaal van trekkers jonger as tien jaar oud 36,7% van die vloot beslaan, waarna die grootte van die trekkervloot jonger as tien jaar oud toenemend gegroei het. ‘n Skerp toename het die afgelope agt jaar plaasgevind.
  • Die gemiddelde ouderdom van die trekkervloot staan tans op sewe jaar. 

Trekkrag van trekkers in die trekkervloot 
Die totale trekkrag in die Suid-Afrikaanse trekkervloot staan tans op 6,89 miljoen kW. Dit het skerp toegeneem sedert die trekkrag ‘n minimum van 4,26 miljoen kW bereik het.

Die gemiddelde krag (kW) van trekkers in die totale trekkervloot het die afgelope paar jaar geleidelik toegeneem. Dié styging in gemiddelde krag kan in Grafiek 7 gesien word: Dit het vanaf 72,3 kW (tien jaar gelede) na die huidige 78,1 kW toegeneem.

 

Publication: August 2018

Section: Focus on

Search