• Login
  • Search Icon

Moutgarskultivars van die South African Barley Breeding Institute

March 2014

FRANCOIS POTGIETER, FRANCOIS SMIT en NIEKIE DE LANGE, South African Barley Breeding Institute

Die ontwikkeling en vrystelling van moutgarskultivars vir die plaaslike bedryf is ‘n lang en deeglike proses. Behalwe vir die lang tyd wat dit neem om nuwe lyne te ontwikkel vir eksperimentele evaluasie, is daar ook ‘n deeglike kommersiële kwaliteits- en agronomiese evaluering van ten minste vier jaar.

Gedurende hierdie periode word die nuwe, of eksperimentele, kultivars deeglik deur die South African Breweries (SAB), SAB Maltings (SABM), die produsent en plaaslike landboubesighede geëvalueer voordat dit die stempel as vrygestelde kultivar kry.

Dit is ‘n tydsame en duur proses, maar dit is absoluut noodsaaklik vir die plaaslike bedryf dat hierdie moeite gedoen moet word, omdat dit ‘n kwade dag sal wees as die plaaslike bedryf van ingevoerde gars afhanklik moet wees.

Daar is twee definitiewe verbouingsgebiede van moutgars in Suid-Afrika. Die eerste is die droëlandgebied in die Suid-Kaap, wat strek vanaf Botrivier in die weste tot by Heidelberg in die ooste. Die tweede gebied lê bietjie meer verspreid en sluit die besproeiingsgebiede langs die Oranje en Vaalriviere rondom Kimberley, Taung en die Vaalharts-besproeiingskema in.

Die South African Barley Breeding Institute (SABBI) se program vir die ontwikkeling van nuwe moutgarskultivars vir die Suid-Kaap het in 1985 begin as een van die gewasontwikkelingsprogramme van die destydse Sensako.

Uit hierdie program is reeds nege kommersiële kultivars vir die Suid-Kaap vrygestel, waarvan vier vanjaar steeds in hierdie streek aangeplant sal word (Tabel 1). ‘n Verdere twee sal ook as eksperimentele kultivars aangeplant word en kan ná uitgebreide mout- en broutoetse moontlik ook binne die volgende jaar of twee deur SAB as moutgarskultivars aanvaar word.

image

Die program vir die besproeiingsgebiede het eers in 1997 regtig begin momentum kry en slegs een van ons plaaslik ontwikkelde kultivars is saam met ‘n paar introduksies vrygestel (Tabel 2). Elke gebied het sy eie unieke uitdagings ten opsigte van agronomiese eienskappe.

image

Suid-Kaap

Die Suid-Kaap bied uiteraard meer uitdagings as die besproeiingsgebied omdat die omgewingstoestande so drasties kan verskil van jaar tot jaar. Benewens die wisselende reënval is swamsiektes en ‘n oormaat reën en wind gedurende oestyd ook ‘n groot probleem. Agronomiese eienskappe wat hier van belang is, bo en behalwe die “normale” eienskappe, soos opbrengs, vetkorrelpersentasie en stikstof, is weerstand teen die vier belangrikste swamsiektes wat hier voorkom asook windweerstand, strooilengte en -sterkte.

Die verbetering van hierdie eienskappe in nuwe kultivars het tot nou toe nog baie aandag gekry en goeie vordering is gemaak. Verbetering ten opsigte hiervan sal steeds belangrik wees in die toekoms.

Vir die evaluering en ontwikkeling van nuwe kultivars, is die produksiegebied van die Suid-Kaap breedweg in drie streke verdeel. Dit is die Wes-Rûens (Caledon-, Greyton-, Riviersonderend- en Rietpoelarea), Suid-Rûens (Bredasdorp-, Napier-, Klipdale- en Protem-area) en die Oos-Rûens (Swellendam-, Napky- en Heidelberg-area).

Die langtermyn agronomiese prestasies van al die nuwe kultivars in vergelyking met SabbiErica vir die verskillende produksiegebiede word in Tabel 3 tot Tabel 5 en Grafiek 1 tot Grafiek 3 gegee.

image

image

image

image

image

Met die vrystelling van SabbiErica is ‘n groot sprong gegee in die standaard om opbrengspotensiaal te meet. Die gemiddelde opbrengs van SabbiErica is sowat 12% hoër as dié van die vorige standaard, SSG 564.

Uit die grafieke is dit duidelik dat die nuwe kultivars so ‘n kortkoppie agter SabbiErica is, met die nuwe eksperimentele kultivar, S12, wat potensiaal toon om ‘n hoër opbrengs oor die hele produksiegebied te lewer.

Swammiddels word op die oomblik met baie groot sukses op gars gebruik vir die beheer van die huidige swamsiektekompleks. Garsprodusente het reeds aanvaar dat dit deel van hul insetkoste is en standaard spuitprogramme word gebruik.

Dit is egter so dat swamme van tyd tot tyd weerstand teen swammiddels opbou en beheer minder effektief word. Navorsing om nuwe middels te ontwikkel is egter baie aggressief en beter swammiddels word gereeld in die mark bekend gestel. Ten spyte van hierdie situasie, sal teling vir weerstand vir SABBI altyd ‘n prioriteit wees, al is dit net om ekstra versekering vir die produsent in te bou.

Ontwikkeling van weerstandskultivars is nie eenvoudig nie, omdat ons te doen het met dinamiese interaksies en ‘n kompleks van swamsiektes, maar vordering word tog gemaak en met nuwe inisiatiewe is ons optimisties dat toekomstige kultivars steeds beter as voriges sal wees, soos reeds te sien in die profiele van SabbiDisa en S12. Die siektestatus van die verskillende kultivars word in Tabel 6 weergegee. Groter stabiliteit oor gebiede en oor jare by die nuwe kultivars, blyk ook baie duidelik uit Grafiek 4 en Grafiek 5. Die opbrengs sowel as die vetkorrelpersentasie van die nuwe kultivars is heelwat hoër en meer stabiel by die laer potensiaal gebiede en in die droër jare, as wat dit met die ou kultivars, soos Clipper en SSG 564, was.

image

image

Klem in die ontwikkeling van nuwe kultivars sal in die toekoms steeds val op aanpasbaarheid en siekteweerstand, met die soeke na hoër opbrengs en vetkorrelpersentasie altyd op die agenda. Medium tot medium-lang sterk strooi en weerstand teen uitwaai is ook belangrik. Meer klem sal geplaas word op uitloopweerstand, om ook kwaliteitstabiliteit te bevorder.

Die kultivars wat vir hierdie seisoen in die Suid-Kaap aanbeveel word, is:

SabbiErica

  • Dit is ‘n kultivar met ‘n hoë-opbrengspotensiaal, medium vetkorrelpersentasie en medium stikstof.
  • Aanbevole gebiede: Wes-, Suid- en Oos-Rûens.
  • Groeiwyse: Het ‘n aanvanklike plat groeiwyse en daarom ‘n goeie stoelvermoë.
  • Strooi: Medium strooilengte met goeie strooisterkte.
  • Pedunkel: Medium-sterk pedunkel wat goeie weerstand bied teen wind.
  • Siekteweerstand: Swak (sien Tabel 6).

SabbiNemesia

  • Dit is ‘n kultivar met ‘n hoë-opbrengspotensiaal, medium vetkorrelpersentasie en medium stikstof.
  • Aanbevole gebiede: Wes- en Suid-Rûens.
  • Groeiwyse: Het ‘n aanvanklike plat groeiwyse en daarom ‘n goeie stoelvermoë.
  • Strooi: Medium-kort strooilengte met goeie strooisterkte.
  • Pedunkel: Medium-sterk pedunkel wat goeie weerstand bied teen wind.
  • Siekteweerstand: Swak (sien Tabel 6).

S5

  • Dit is ‘n kultivar met ‘n hoë-opbrengspotensiaal, hoë vetkorrelpersentasie en medium stikstof.
  • Aanbevole gebiede: Wes- en Suid-Rûens.
  • Groeiwyse: S5 het ‘n aanvanklike plat groeiwyse en daarom ‘n goeie stoelvermoë.
  • Strooi: Medium-kort strooilengte met goeie strooisterkte.
  • Pedunkel: Medium-sterk pedunkel wat goeie weerstand bied teen wind.
  • Siekteweerstand: Swak (sien Tabel 6).

SabbiDisa (S6)

  • Dit is ‘n kultivar met ‘n medium-hoë-opbrengspotensiaal, hoë vetkorrelpersentasie en medium-lae stikstof.
  • Aanbevole gebiede: Wes- en Suid-Rûens.
  • Groeiwyse: Het ‘n aanvanklike regop groeiwyse met ‘n redelike goeie stoelvermoë.
  • Strooi: Medium-lang strooilengte met goeie strooisterkte.
  • Pedunkel: Medium-sterk pedunkel wat goeie weerstand bied teen wind.
  • Siekteweerstand: Goed (sien Tabel 6).

S9 (eksperimentele kode)

  • Dit is ‘n kultivar met ‘n hoë-opbrengspotensiaal, medium vetkorrelpersentasie en medium stikstof.
  • Aanbevole gebiede: Wes-, Suid- en Oos-Rûens.
  • Groeiwyse: Het ‘n aanvanklike regop groeiwyse met ‘n redelike goeie stoelvermoë.
  • Strooi: Medium strooilengte met goeie strooisterkte.
  • Pedunkel: Medium-sterk pedunkel wat goeie weerstand bied teen wind.
  • Siekteweerstand: Redelik (sien Tabel 6).

S12 (eksperimentele kode)

  • Dit is ‘n kultivar met ‘n baie hoë-opbrengspotensiaal, hoë vetkorrelpersentasie en medium stikstof.
  • Aanbevole gebiede: Wes-, Suid- en Oos-Rûens.
  • Groeiwyse: Het ‘n aanvanklike plat groeiwyse met ‘n goeie stoelvermoë.
  • Strooi: Medium strooilengte met goeie strooisterkte.
  • Pedunkel: Medium-sterk pedunkel wat goeie weerstand bied teen wind.
  • Siekteweerstand: Goed (sien Tabel 6).

Besproeiingsgebiede

Kultivars uit die Verenigde Koninkryke en Europa is goed aangepas in ons besproeiingsgebiede en daarom het SABBI ook ‘n baie uitgebreide evaluasieprogram vir introduksies in hierdie gebiede. Die meeste kultivars wat deur SABBI in hierdie gebiede vrygestel is, kom dan ook uit ons introduksieprogram (Tabel 2).

Pogings om plaaslik ontwikkelde kultivars vir besproeiing te ontwikkel, word tans verskerp met die uitbreiding van die SABBI-program onder besproeiing. Dit gaan saam met die verhoging in produksie wat vir hierdie gebied beplan word as gevolg van die uitbreiding in vermoutingskapasiteit by SABM te Alrode in Gauteng.

‘n Nuwe moutery is in aanbou wat die produksie van mout hier sal verdriedubbel. Die belangrikste agronomiese eienskappe onder besproeiing, is opbrengs en staanvermoë. Geen swamsiektes kom hier voor nie.

Die kultivars wat vir hierdie seisoen in die besproeiingsgebiede aanbeveel word, is:

Cocktail

  • Dit is ‘n kultivar met ‘n hoë-opbrengspotensiaal, lae vetkorrelpersentasie en lae stikstof.
  • Aanbevole gebiede: Hele besproeiingsgebied.
  • Groeiwyse: Cocktail het aanvanklik ‘n redelike regop groeiwyse met baie goeie stoelvermoë.
  • Strooi: Medium strooilengte met goeie strooisterkte.

Marthé

  • Dit is ‘n kultivar met ‘n medium opbrengspotensiaal, medium vetkorrelpersentasie en medium-lae stikstof.
  • Aanbevole gebiede: Hele besproeiingsgebied, meer spesifiek vir sanderige gronde.
  • Groeiwyse: Marthé het aanvanklik ‘n redelike regop groeiwyse met goeie stoelvermoë. Laer plantdigthede word aanbeveel.
  • Strooi: Medium strooilengte met swakker strooisterkte.

Cristalia

  • Dit is ‘n kultivar met ‘n medium opbrengspotensiaal, medium vetkorrelpersentasie en medium-lae stikstof.
  • Aanbevole gebiede: Hele besproeiingsgebied.
  • Groeiwyse: Cristalia het aanvanklik ‘n redelike regop groeiwyse met goeie stoelvermoë.
  • Strooi: Medium strooilengte met goeie strooisterkte.

Kwaliteit

Moutkwaliteit is ‘n baie komplekse begrip en word uiteindelik bepaal deur die wisselwerking tussen baie verskillende eienskappe in die garskorrel. Die belangrikste komponente waarna gekyk en waarvoor geselekteer word, is:

  • Ekstrak (deel van gemaalde mout wat oplos in water; hoeveelheid potensiële bestanddele vir gisting).
  • Diastatiese aktiwiteit (DP; hoeveelheid ensieme wat stysel kan afbreek na bruikbare stukkies sodat gis dit kan opneem).
  • Viskositeit (aanduiding van vloeibaarheid van ekstrak van mout).
  • AAL (maksimum hoeveelheid ekstrak wat gebruik kan word deur gis).
  • FAN (Vry amino stikstof, dien as voedsel vir gis).
  • Beta-glukaan (hoeveelheid selwandmateriaal wat nie afgebreek is in die vermoutingsproses nie).

Vir elke bierhandelsmerk word ‘n eie unieke kombinasie van kwaliteitseienskappe benodig en daarom ook ‘n eie samestelling van kultivars gebruik. Kultivars word breedweg in twee kategorieë ingedeel ten opsigte van kwaliteit, naamlik die hoë FAN mout (HFM) en die medium FAN mout (MFM) kultivars. Dit gee ‘n aanduiding van die graad van fermenteerbaarheid van ‘n kultivar en in Suid-Afrika het ons op die oomblik ‘n tekort aan hoë fermenteerbare, of HFM, kultivars.

Gars of mout met dié kwaliteit moet ingevoer word. Met die bou van die nuwe moutery, die gepaardgaande uitbreiding in plaaslike produksie en met plaaslike kultivars met dié gesogte kwaliteitseienskappe, kan SABM uiteindelik ten minste 95% van hul moutgarsbehoefte plaaslik aankoop.

Die eerste kultivar wat plaaslik verbou word en as ‘n HFM geklassifiseer is, is Marthé. Van ons ander kultivars het reeds baie naby aan die vereiste kwaliteit gekom, maar kon nog nie as HFM geklassifiseer word nie.

Die hoofdoelwit ten opsigte van kwaliteit in die program, is om ‘n HFM-kultivar te ontwikkel, sodat ons by die doelwit van 95% kan uitkom. Dit sal ook verseker dat die produksie in die Suid-Kaap hoër kan wees as die huidige. Op die oomblik is SAB besig om S9 te evalueer vir moontlike klassifikasie as ‘n HFM-kultivar.

image

Merkerseleksie

Een van die grootste probleme met kwaliteitsmeting van nuwe lyne, is dat dit nie in die veld in vroeë generasies gedoen kan word nie. Die enigste maatstaf vir meting van moutkwaliteit is met mikrovermouting, wat eers vanaf die F6-generasie gedoen kan word; met ander woorde ná vier jaar van seleksie. Die evaluering van weerstand teen verskillende swamsiektes kan ook problematies wees aangesien alle swamsiektes nie elke jaar voorkom nie, daar verdwerging van een siekte deur ‘n ander kan wees of ontsnapping kan voorkom.

SABBI is dus voortdurend op soek na meer objektiewe metodes van evaluering vir hierdie eienskappe en is daarom saam met dr Renée Prins en haar span by Cengen, besig met twee projekte. Die een is die evaluering van ons lyne vir kwaliteitseienskappe en meer spesifiek eienskappe wat bydra tot hoë fermenteerbaarheid (HFM). Die projek is reeds vier jaar aan die gang en heelwat lyne met die gewenste allele is reeds geïdentifiseer en word verder in die program geëvalueer. Ons is ook voortdurend op soek na nuwe merkers wat vir dié doel gebruik kan word.

Die tweede projek word deur die Wintergraantrust gefinansier en hier is die klem op die ontwikkeling van ‘n geïntegreerde siektebestuurstrategie vir Suid-Afrika. Die projek is ‘n gekoördineerde poging van ‘n projekspan onder leiding van dr Renée Prins (Ceng en en die Universiteit van die Vrystaat) en dr Anke Martin (University of Southern Queensland, Australië); met projeklede: Prof Zakkie Pretorius (Universiteit van die Vrystaat), Greg Platz (Queensland Department of Primary Industries and Fisheries, Hermitage Research Station, Australië) en SABBI.

Daar is in 2011 met die projek begin wat sterk daarop fokus om siekteweerstandbiedende garskultivars te teel wat hulle goeie moutkwaliteiteienskappe behou en met merkers geïdentifiseer kan word.

Siekteweerstand teen vyf verskillende siektes word aanvanklik geteiken, naamlik:

  • Net-tipe netvlek – Pyrenophora teres f. teres;
  • Kol-tipe netvlek – Pyrenophora teres f. maculate;
  • Blaarvlek – Rhynchosporium secalis;
  • Kolvlek – Bipolaris sorokiniana; en
  • Stamroes – Puccinia graminis.

Publication: March 2014

Section: Other Articles

Search