• Login
  • Search Icon

Motvlugte waarsku teen valskommandowurm in Oktober

September 2014

GODDY PRINSLOO, LNR-Kleingraaninstituut, Bethlehem, BEN VAN RENSBURG, LNR-Kleingraaninstituut, Vaalharts, PIETER FRANKEN, GWK Douglas, ANDRÉ PRINS, GWK Douglas en HANNALENE DU PLESSIS, Noordwes-Universiteit

Valskommandowurm het gedurende 2010 vinnig toegeslaan en baie skade aan gars in die Noord-Kaap aangerig. Sedertdien kom hulle gereeld voor, maar weens voorafwaarskuwings en bespuitings is soortgelyke uitbrekings nog nie weer aangeteken nie.

Beide wurms en motte is in die nag aktief en word nie maklik in die dag opgemerk nie, omdat hulle op die grondoppervlakte onder droë plantmateriaal skuil (Foto 1). Let veral op vir vreetpatrone op die blare wat hulle teenwoordigheid kan verklap.

image

Valskommandowurm vreet duidelike happe uit die blare en sal ook blare heeltemal opvreet en plante ontblaar (Foto 2). Omdat garsplante sagter as koring is, word hul are maklik afgeknip en skade só veroorsaak (Foto 3).

Motvlugte gedurende die winter

Motvlugte word sedert 2012 met behulp van feromoonvalle by vyf lokaliteite, naamlik Douglas, Bull Hill, Vaalharts, Hartswater en Viljoenskroon gemonitor. By elk van hierdie lokaliteite is daar vier valle wat op ongeveer gelyke afstand van mekaar, om die rand van 'n enkele spilpunt geplaas is. Daar is eers met Deltavalle begin, maar hulle het vinnig verweer en was nie effektief nie. In 2013 is na emmertjievalle oorgeslaan en duidelike motvlugpieke kon gedurende die afgelope jaar geïdentifiseer word. Uit die eerste twee jaar se data is dit duidelik dat die motte dwarsdeur die winter gevlieg het. Dit beteken dus dat eierlegging ook in die winter kan voorkom.

Klimaat (temperatuur en vogtigheid) speel noodwendig ‘n rol in die ontwikkelingstyd van die wurm. ‘n Temperatuur-ontwikkelingsdrempelwaarde van 2°C vir hierdie wurm is uit Chinese literatuur opgespoor. Dit beteken dat die wurms bokant hierdie temperatuur aktief kan ontwikkel en groei. Groei by lae temperature behoort stadig te wees, maar die lae drempelwaarde is waarskynlik die antwoord op waarom die motte regdeur die winter gevang word. Die groot vraag is egter: Waarop oorleef die wurms in die winter as daar net droë gras beskikbaar is? Uit literatuur is daar aanduidings dat hulle op verrottende plantmateriaal, onder matte droë materiaal, kan oorleef. Gedurende die 2010-uitbreking was die gars en koring wat hulle gevreet het alreeds feitlik droog gewees en kan die afleiding dan gemaak word dat daar oorlewing in die winter op dooie plantmateriaal kan wees. Dooie gras en stoppels waaronder hulle al langs lande gevind is, kan hulle beskerm teen uiters koue temperature.

Motvlugpieke

Duidelike pieke kan by al vyf lokaliteite onderskei word. Viljoenskroon het begin met ‘n piek van ongeveer 90 motte per dag en ‘n verdere drie pieke kon onderskei word, naamlik een in April, een in Julie en een in begin Oktober (Grafiek 1, bruin pyle).

image

Die piek in Oktober kan oorsprong gee aan die wurms wat vir gars skadelik is. Wat egter baie interessant is, is dat daar vanjaar met basies dieselfde patroon begin is, maar dat die motgetalle vir die April- en Mei-periode ongeveer dubbel so hoog was soos verlede jaar (Grafiek 1, soliede rooi lyn en rooi pyl). Dit beteken dus dat daar baie meer larwes reg voor die winter in die omgewing teenwoordig kan wees.

By Bull Hill is daar deur die loop van verlede jaar vyf pieke aangeteken. Die eerste piek is gedurende Februarie tot Maart, dan 'n kleiner een in April, dan ‘n redelike groot piek teen Julie tot Augustus en weer een in Oktober tot November en ‘n klein piek aan die begin van Desember (Grafiek 2, bruin pyle). Daar is ook, soos in die Viljoenskroon geval in April en Mei vanjaar, ongeveer dubbel die hoeveelheid motte in hierdie valle gevang. Met die motte wat verlede jaar by hierdie lokaliteite gevang is, het wurms redelik vroeg (begin Oktober) reeds in die lande voorgekom. Produsente is gewaarsku en het bespuitings toegepas en geen skade is gerapporteer nie.

image

By Douglas self is daar ook vyf motvlugpieke gedurende verlede jaar gevind (Grafiek 3, bruin pyle). Motgetalle het vanaf middel-Augustus begin opbou na ‘n piek in middel September. Die larwes van hierdie motte het oorsprong gegee aan die larwes wat in gars en koring voorgekom het.

image

Die motgetalle aan die begin van April 2014 (Grafiek 3, rooi pyl) was ook baie hoër as verlede jaar, wat ook kan veroorsaak dat daar met groter wurmgetalle in die winter begin is. Die motgetalle vertoon dus ongeveer die selfde patroon oor die verskillende lokaliteite. Die hoë motgetalle wat tans teenwoordig is, kan beteken dat daar later in die jaar geweldige groot hoeveelhede wurms kan voorkom wat vir garsproduksie ‘n risiko inhou.

Wat die invloed van koue toestande gedurende Junie (ná die groot motvlugte) op die wurmgetalle gaan wees, is nie duidelik nie. Daar moet dus van September af redelik deeglik gekyk word na die voorkoms van vreetmerke op die gewasse asook na mis wat op die grondoppervlakte kan lê. Die toestand sal egter voortdurend dopgehou word en inligting deurgegee word aan produsente.

Aangesien die meeste van die lande in die bogenoemde besproeiingsgebiede gedurende die afgelope twee jaar teen die wurms bespuit is, kon uitbreektoestande nie bepaal word nie. Die probleem is egter nie net tot hierdie area beperk nie, aangesien hierdie wurm wydverspreid in Suid-Afrika voorkom. Indien garsproduksie na ander besproeiings gebiede uitgebrei word, sal die voor koms van hierdie plaag ook gemonitor en in ag geneem moet word.

Kontak Goddy Prinsloo by 058 307 3435 of prinsloogj@arc.agric.za.

Hierdie navorsing is moontlik gemaak deur finansiële bystand van die LNR en die Wintergraantrust in samewerking met Griekwaland-Wes Koöperasie en die Noordwes-Universiteit.

Publication: September 2014

Section: Focus on

Search