• Login
  • Search Icon

MOOI OESTE NÁ HARDE WERK

February 2013

image

Die graanoeste van die afgelope paar seisoene het regtig die meeste graanprodusente breed laat glimlag. Ja, dit was goeie jare.

Wintergraanprodusente loop breëbors rond en vertel van die mooi opbrengste. Die somergraanoes op die land hou baie goeie beloftes in en almal is dankbaar. Ons is ook bewus van sommiges met wie dit nie so goed gaan nie en wat nie die broodnodige reënbuie gekry het nie, maar oor die algemeen lyk dit of daar oor die algemeen mooi oeste op pad is.

Vir dié van ons wat namens Graan SA in die kantore dwarsoor die land boer, was dit ook ‘n goeie jaar. Die opbrengs van ‘n klomp werk om graanproduksie meer volhoubaar te maak, was baie goed.

Ons gaan volledig daaroor rapporteer by al die streeksvergaderings en sal tydens die Kongres van 2013 behoorlik verslag doen. Graan SA is in baie opsigte maar presies soos ‘n landery. Dit is ryk aan potensiaal en met die regte kultivars (leiers) en natuurelemente (mense en hulle eienskappe) word harde werk beloon.

Elkeen het sy/haar kant gebring en toe alles bymekaargesit is, was die resultaat goed en mooi. Daar was menige dae wat ons mooi moes kophou om die vordering op al die terreine steeds in die regte rigting te stuur.

Dit het my laat dink aan die rietbootresies wat ek as kind op my oupa se plaas gehou het as hulle die dag water lei. As die handvol “bootjies” deur die stroomversnellings gegaan het, moes ek net bontstaan om almal in die hoofstroom te hou en keer dat hulle nie aan ‘n lastige grassie of biesie vashaak nie. Met ‘n lang populierlat in die hand het ek seker gemaak almal bly in die hoofstroom.

Ons ontwikkelingsprogram is tans in só ‘n stroomversnelling en benodig baie aandag, maar die glimlagte op die gesigte van die gesinne van die deelnemers bly die beloning waarna elke boer uitsien as ‘n goeie oes ingebring word.

Wat egter soos ‘n paal bo water uitstaan, is dat harde werk steeds beloon word. Dit bring mee dat personeel, soos die meeste produsente, ook gedurende die Desembervakansie voluit moet werk om seker te maak die oes word geplant.

Die personeel en leierskap het hard gewerk en nes in die natuur in ‘n goeie jaar, het dit ‘n goeie oes opgelewer. Mag dit vir elkeen van ons ‘n inspirasie bly om aan te hou glo dat eerlike, harde werk in die lang termyn tot goeie oeste sal lei.

image

Jannie de Villiers, Uitvoerende hoofbestuurder

Publication: February 2013

Section: Editorial

Search