• Login
  • Search Icon

Moenie fokus verloor nie

October 2016

image

JANNIE DE VILLIERS, uitvoerende hoofbestuurder/CEO

Die 2015/2016-seisoen is nou behoorlik soos 'n vyfdagkriekettoets. Dit is nou die laaste sessie van die vyfde dag en daar is nog so twee paaltjies staande – én ons kolf vir 'n gelykopuitslag. Dit stuur af op 'n einde waar niemand wen nie. Dit was 'n lang, taai stryd gekenmerk deur baie sweet.

Ons het baie lesse geleer, maar dit is nie 'n seisoen wat ons graag sal wil onthou nie. Daar sal nog baie daaroor gepraat word, maar die onthou sal geforseerd wees. Die baie ure wat ons as georganiseerde landbou spandeer het om droogteplanne te skryf en somme van die skade te maak, het soos ons mielie-oeste aan die westekant van die land, geen opbrengs gelewer nie.

Almal het geluister en saamgepraat, maar geen dade is by die woorde gevoeg nie. Die enigste baken van hoop was die aksies wat die privaat sektor via Agri SA geloods het. Ons skuld al die donateurs en betrokkenes 'n groot dankie! Die trane van produsente wat só uitkoms ontvang het, het die groot waardering bevestig.

Gelukkig is daar 'n volgende seisoen wat voorlê. Met die skryf van hierdie artikel het dit lekker in die Wes-Kaap gereën en hul oeste lyk baie mooi. Dit is dalk net 'n wonderlike voorloper van dít wat ons hier bo in die noordelike dele van ons land kan verwag.

Na die 2016 munisipale verkiesing is daar in die hele land ook 'n gevoel van afwagting vir 'n nuwe seisoen. Die belangrike van 'n nuwe seisoen is dat dit meer met doen as praat te make het en daar dalk heelwat gebeur wat jou aandag en fokus mag aftrek. Die manier waarop jy reageer en sake afhandel, moet ook sprekend van jou karakter wees. Landbou vereis nederigheid en dat ons stil word voor die Skepper wat alles beheer. Ons lot is in Sy hand.

Een "nuwe seisoen" wat so skeef-skeef teen die opdraand aansukkel, is die plek wat die Bedryfskamer in Agri SA moet vul. Daar is al van die bedrywe wat uit Agri SA bedank het weens die feit dat ons nie eenheid in landbou kan bereik nie. Dit noodsaak van die bedrywe om by meer as een nasionale organisasie te affilieer en dit kos addisionele geld. Die oplossings vir dié netelige kwessie is nie volop nie, maar ons sal moet deurdruk ter wille van 'n sektor wat krities vir ons land se toekoms is.

Ek het onlangs nagelees oor wat geskryf is oor Brexit en die ooreenkoms wat dit het met die onverwagse steun wat Donald Trump in die VSA kry. Daar is selfs ooreenkomste daarvan met die uitkoms van ons eie munisipale verkiesing.

Landbou sal moet kennis neem van mense se woede oor sake wat hul eie lewens en lewensstandaarde bedreig wat in stembusse beslag kry. In Engels word verwys na sea change – betekenisvolle verandering of transformasie. Terwyl ons in landbou nog spook om konsensus te kry oor wat transformasie is en hoe om dit reg te doen, het daar 'n ander tipe transformasie in ons gemeenskappe plaasgevind wat min met ras te doen het.

Landbouleiers loop nou die gevaar dat dieselfde met hulle kan gebeur as wat met hul politieke eweknieë gebeur het: Om kontak te verloor met wat regtig op grondvlak saak maak. Woede en vrees dryf mense tot irrasionele besluite en misplaaste optrede.

Publication: October 2016

Section: Features

Search