• Login
  • Search Icon

Moeilikheid met water

April 2010

– April 2012

image

Beste Grootneef,

Die Vrystaat se soel aandwindjie dra vanaand die geur van somer. Die bloeisels in die boord breek uit die dorre wintertakke, met groen kerfies blare wat hul omsoom. In die veld begin tarentale afpaar vir die broeiseisoen en flappe flikflooi met hul nuwe stertvere. Vreedsaam en stil vanaand, die Vrystaat. As die reën net kan kom...

Ou Neef, maar moenie dink die Vrystaat is net altyd vol rus en vrede nie. Soos enige plek het hy ook sy geite om mens en dier se karakter te toets. As die westewind om die hoeke begin huil en sand en tolbosse voor hom uitwaai, leer jy ook die ander kant van die Vrystaat ken. So ook met die ysige winternagte wat krip en kuil vasvries of die somergloed wat die horison met 'n lugspieëling laat bewe.

Maar tipies Vrystaat is daar ook magiese oomblikke wat geen mens kan skep nie. Soos die oosterkim met die oggendster wat blink voor 'n nuwe dag en sterlig wat stadig verflou vir die son om oor te vat. Of stilte ná 'n somerstorm met bome wat swaar-tak rondstaan en die laaste vet druppels grond toe laat plof. Waar ons vanaand op die stoep sit, is die Vrystaat op sy mooiste met 'n weste gloed op die wolke waar die son netnou gesak het.

Ou Neef, vanaand in die vreedsaamheid van die plaas voel ons baie ver weg van die "ieder woelt" wat ons op die TV nuus volg. Dit lyk die laaste tyd of onmin maar vlak onder die oppervlak sit. Daar gaan amper nie 'n dag verby dat ons nie verneem van onrus nie. En dit lyk of water die kwaadmaker is. Óf daar is te min drinkwater in die pype, óf die Mislikepaal se pompe gaan staan en laat die vrot water in die lopies los. Hier by ons ou dorpie is daar nou 'n permanente geurtjie op die wieke van die wind, synde van vrot water wat nie verwerk word nie. In ons buurdorp het die klippe anderdag gevlieg oor leë krane. Die standaard-antwoord van die owerheid bly maar 'n los pratery van pompe wat nie werk nie. Weet ook nie wanneer dit weer sal werk nie.

Ou Neef, 'n pomp vra sy eie aandag. As jy hom vir die genade los, pomp hy naderhand nie eers wind nie, watwo water. Ek sê jou, pompe wat nie werk nie, gaan nog 'n boggerop in die land veroorsaak. As mense niks het nie, nie eers water nie, het hulle ook niks om te verloor nie. Net soos 'n ligte somerbries kan omswaai na 'n donderstorm, so kan moeilikheid met water ook omswaai in 'n onrus.

Ou Neef, dit was darem 'n gesig wat ek nie gou sal vergeet nie. Dis nou die Engelse Kaptein se lang lip nadat die Stokke Bokke die nommer een kroon vir toetslande oorgevat het. Welgedaan manne en dit nogal op "Lords"...

Groete op die Oosgrens.

Kleinneef

Publication: April 2010

Section: E-mails

Search