• Login
  • Search Icon

Mielies: Produsentelewerings versus oesskatting — waar lê die verskil?

October 2011

PETRU FOURIE, LANDBOU-EKONOOM: PRODUKSIE/INSETTE, GRAAN SA

Daar bestaan verwarring tussen die inligting wat SAGIS en die Nasionale Oesskattings -komitee (NOK) vrystel en sommige gebruikers, soos graanmarkanaliste, ekonome en mielie-aankopers wend hierdie inligting somtyds wetend of onwetend verkeerdelik aan. In hierdie artikel gaan daar eerstens gepoog word om die verskil tussen SAGIS se produsentelewerings en die NOK se oesskatting uit te wys. Verder word die jaar se lewerings met historiese lewerings asook die werklike oeste vergelyk. Ten laaste gaan die prestasie van die NOK vir die laaste vyf seisoene bespreek word.

SAGIS versus NOK

Ten einde produsentelewerings met die oesskatting in verband te bring, is dit noodsaaklik om die verskil tussen SAGIS se produsentelewerings en die NOK se oesskatting te verstaan. Dit is belangrik om te weet dat dié twee stelle inligting nie direk met mekaar vergelykbaar is nie aangesien hulle bron van samestelling verskil. Die ooglopendste verskille tussen SAGIS se werklike leweringsyfer en die NOK se oesskatting word in Tabel 1 uiteengesit en die verskil tussen dié twee  word hopelik meer verstaanbaar gemaak. Aangesien SAGIS se mielielewerings met die oesskatting vergelyk word en dié lewerings deur die NOK gebruik word om sy finale oes te bepaal en mee teen te meet, is dit egter opsigtelik dat die twee nie sonder mekaar kan funksioneer nie.

image

Daar moet daarop ag geslaan word dat die SAGIS-lewerings slegs die fisiese lewerings wat deur produsente aan kommersiële strukture gelewer is, insluit. Daarom is dit noodsaaklik dat ‘n opname gedoen moet word om die hoeveelheid mielies wat op plase teruggehou en gebruik word, vas te stel. Hierdie plaasterughoudings moet dus by SAGIS se lewerings getel word om sodoende met die NOK se skatting vergelyk te kan word. Die afwyking tussen die lewerings en die geskatte oes sal ook hier bespreek word.

Produsentemielielewerings

Ten einde produsentelewerings met die oesskatting te vergelyk, moet lewerings vanaf Maart tot Februarie in aanmerking geneem word en nie soos die bemarkingseisoen vanaf Mei tot April nie. Dit is bloot net om die oes vir die regte produksieseisoen te verkry aangesien daar gewoonlik al vroeg in besproeiingsgebiede gestroop word. Mielies wat gedurende Maart- en Aprilmaand aan kommersiële strukture gelewer word, word dus as vroeë lewerings beskou. In Grafiek 1 word die persentasie mielies wat weekliks gelewer is, met die finale oes asook die finale geskatte oes van die huidige seisoen vergelyk.

Die grafiek stel die persentasie vroeë lewerings, sowel as ‘n tydperk van 20 weke, wat vanaf 6 Mei tot 16 September strek, in.

image

Vroeë lewerings
(Maart - April)

Soos reeds genoem, word mielies wat gedurende Maart- en Aprilmaand gelewer word, as vroeë lewerings beskou. Daar is vanjaar gedurende dié tweemaande-tydperk ‘n kleiner persentasie mielies ten opsigte van die finale oes as die vorige twee jare gelewer.

Grafiek 1 toon dat slegs 1,8% van die totale oes gedurende die huidige seisoen gelewer is, waar daar die vorige twee seisoene tussen 2% en 3,1% van die totale mielie-oes gelewer was. Dit is onbekend of daar minder vroeë mielies dié jaar aangeplant is en of die lande net te nat was om te stroop.

Week 1 - 10
(6 Mei - 8 Julie)

Volgens Grafiek 1 blyk dit dat produsente se mielielewerings vir die 2008/2009- en 2009/2010-produksieseisoen die hoogste gedurende die tiende week, rondom 8 Julie, was. Dieselfde tendens word nie vir die huidige seisoen waargeneem nie; die hoogste lewerings vir die huidige seisoen was ‘n week later, rondom 15 Julie.

As daar verder na die laaste twee seisoene se tendenslyne vanaf week 1 - 10 gekyk word, is dit duidelik dat die leweringstempo dramaties verskil. Die leweringstempo neem gedurende hierdie tyd toe, omdat produsente volstoom begin stroop. Die stroopproses begin in die ooste van die land, waarna die weste later begin. In die 2009/2010-seisoen was die leweringstempo aanvanklik vinnig, tot die week van 17 Junie, waarna dit afgeplat het. In die 2010/2011-seisoen was die leweringstempo weer aanvanklik stadiger, tot 17 Junie, waarna die tempo skerp tot op 22 Julie gestyg het. Produsente het verlede seisoen vir die tienweek-tydperk 'n totaal van 6 997 000 ton mielies aan kommersiële strukture gelewer, waar daar vir die huidige seisoen slegs 3 816 000 ton mielies tydens dieselfde tydperk gelewer is.

Daar moet net daarop gelet word dat vanjaar se oes ongeveer 2 206 600 ton kleiner as verlede seisoen geskat word. Ten spyte van die kleiner oes, was daar gedurende die tienweek-tydperk ongeveer 36% van die totale oes gelewer, waar daar die vorige twee seisoene al meer as 50% van die totale mielie-oes gelewer was.

Week 11 - 20
(15 Julie - 16 September)

Die leweringstempo neem gewoonlik vanaf week 11 tot 20 af en dit is bloot omdat produsente die stroopproses begin afhandel. Weer eens maak produsente in die ooste eerste klaar, waarna produsente in die weste volg. As daar na Grafiek 1 se tendenslyne vanaf week 11 - 20 gekyk word, is dit opvallend dat die tendenslyne mekaar kruis en dat lewerings vir die 2009/2010-produksieseisoen begin afneem terwyl die huidige leweringstempo nog toeneem. Dit bevestig dat die nat na-seisoen en ontydige reën die stroopproses vertraag het en produsente nie in hul lande kon kom nie omdat stropers voortdurend vasgeval het.

In totaal is daar gedurende weke 11 - 20, 5 354 000 ton mielies vir die huidige seisoen, in vergeleke met die 4 275 000 ton mielies vir die vorige produksieseisoen, gelewer. Daar is dus gedurende dié tydperk 50,5% van die huidige totale oes gelewer, waar daar die vorige twee seisoene tussen 33,4% en 38,7% van die totale mielie-oes gelewer was.

Mielielewerings versus oesskatting

Indien daar na ‘n opsomming van die verloop van die mielieleweringstempo teenoor die grootte van die finale oes gekyk word (Tabel 2), is dit duidelik dat daar tydens die opstel van die data ongeveer 88,2% van die 2010/2011-produksiejaar se oes gelewer is. In vergeleke met die jaar vantevore was daar 89,9% van die oes op dieselfde tydperk gelewer en 92,4% die jaar voor dit. As daar na vanjaar se uitstaande tonne gekyk word, kan die persepsie ontstaan dat die oes oorskat is. Dit is egter hier waar die verskil tussen lewerings en die oesskatting prakties verstaan moet word. Een van die belangrikste faktore wat in ag geneem moet word ten einde produsentelewerings met die oesskatting te vergelyk, is dat plaasterughoudings nog by die produsentelewerings getel moet word. Plaasterughoudings bestaan gewoonlik uit:

  • Toekomstige lewerings, ingesluit voorrade nog op plase in silosakke, graandamme, sakke en plaassilo’s;
  • Verkope direk aan medeprodusente; en
  • Terughoudings op plase vir eie gebruik (menslike verbruik, dierevoer en saad), sowel as vermorsing tydens stroop en vervoer.

image

Prestasie-evaluering van die NOK

Laastens, aangesien die NOK se oesskattingsyfers se geloofwaardigheid deur verskeie rolspelers betwyfel word, word ‘n prestasie-evaluering van die NOK vir die afgelope vyf jaar in Tabel 3 getoon. Die komitee poog om tydens die vierde skatting, wat Meimaand bekend gemaak word, nie meer as 5% vanaf die finale oes af te wyk nie. Die komitee doen alles in hul vermoë om seker te maak dat dit dan ook die geval is. Ongelukkig kan latere weersomstandighede die pitmassa beïnvloed wat ‘n onder- of oorskatting kan veroorsaak.

Uit die tabel is dit duidelik dat slegs een van die vyf seisoene buite die 5% afwykingsdoelwit val. Volgens Tabel 3 het die komitee drie uit die laaste vyf seisoene die mielie-oes onderskat, waar hulle dit die laaste twee seisoene oorskat het. Alhoewel Graan SA nie self ‘n skatting uitbring nie, tree Graan SA as ‘n waghond oor die komitee op sodat ‘n geloofwaardige skatting vrygestel kan word.

image

Publication: October 2011

Section: Input Overview

Search