• Login
  • Search Icon

Meer oor die Riversdal Wintergraan Bedryfskomitee Inligtingsdag

January 2015

LIANA STROEBEL, ontwikkelingskoördineerder, Graan SA

Die jaarlikse Wintergraan Bedryfskomitee Inligtingsdag het in September verlede jaar buite Riversdal plaasgevind. Ongeveer 230 produsente en bedryfsrolspelers is deur mnr Hendrik Joubert van Uitkyk Boerdery verwelkom.

Dit is verblydend om hierdie mate van produsentebelangstelling en ondersteuning vir bewaringsboerdery in die Suid-Kaap te sien.

Mnr Hannes Otto van die Ottosdal Geenbewerkingsgroep het sy ondervindinge rakende bewaringsboerdery in die noorde, gedeel met die Suid-Kaapse produsente. Hy het eerstens ‘n agtergrond van die Ottosdal-area geskets: Hul ontvang ongeveer 400 mm - 450 mm reën per jaar en ken droogte.

Hulle het vir dekades daar geploeg en hoofsaaklik mielies geplant. Otto het tong in die kies vertel dat sy wisselboustelsel vroeër jare hoofsaaklik uit die afwisseling van geel- en witmielies bestaan het! Dit was vir hom ‘n groot stap om oor te skakel, maar hy het gesien dat ploeë ‘n ploegblad vorm en het gou agtergekom dat sodra dit gebreek word, sy opbrengste verbeter.

Hy het sy onkruid ook altyd meganies beheer en ‘n land is ten minste ses tot sewe maal per jaar bewerk. Hy vertel dat ná ‘n besoek aan Argentinië en Brasilië sy oë oopgegaan het. Hy het vir hom ‘n geenbewerkingsplanter aangeskaf en stadig maar seker begin oorskakel. Hy noem dat hy aanvanklik baie bang en onseker was, maar kon gou sien hoe die lewe terugkom in sy grond. Sy plante is gesond en sy opbrengste het verbeter.

In 2006 was daar slegs drie produsente in die area wat met geenbewerkingsmetodes begin het. Ander was baie skepties, maar belangstelling het elke dag gegroei en produsente in die area het een vir een begin oorskakel. Een van die redes hiervoor is dat hierdie metodes insetkoste dramaties verlaag. Hul het in die verlede ongeveer R80/ha tot R100/ha aan diesel spandeer waar hierdie benadering dieselkoste na ongeveer R25/ha afbring. Otto het genoem dat bewaringsboerdery nie net daaroor gaan om geld te spaar nie, maar dat 'n persoon se benadering en denke ten opsigte van boerdery heeltemal moet verander.

Otto vertel ook verder dat die navorsingskapasiteit in hulle area nie baie goed is nie, maar dat hulle groep self inisiatief geneem het en in samewerking met die LNR, proewe op hulle eie plase begin plant het om praktyke verder te verfyn. Ongeveer 14 produsente het aan hierdie inisiatief deelgeneem om vinniger antwoorde te kry.

Dr Johann Strauss van die Wes-Kaapse Departement van Landbou, Bosbou en Visserye het verder terugvoer gegee oor hulle onlangse besoek aan Amerika en Kanada. Hy het 'n uitstekende voorlegging gelewer oor hierdie lande se praktyke en vordering in terme van bewaringsboerdery en ook die ooreenkomste en verskille in navorsing en boerderymetodes uitgewys.

Dr Strauss het ten slotte die praktyke met produsente gedeel waaruit ons hier in Suid-Afrika kan leer en verder op kan bou en navors.

Na afloop hiervan is ‘n verskeidenheid van proewe besigtig, wat insluit: Smoorgewasse; koringkultivar- en demonstrasiestroke; kanola kultivars; kanola sny-demonstrasies; kanolasaaidigtheid; voergraan-demonstrasieperseel; voergraan sny-demonstrasie; dekge wasse demonstrasie; plantervergelyking, wisselboubesigtiging; skyfplanter saaidigtheid-demonstrasie; N-byproduk en mikro-element demonstrasies.

image

Publication: January 2015

Section: Relevant

Search