• Login
  • Search Icon

Maak seker jou landbouchemiese verteenwoordiger voeg waarde toe

June 2016

image

CORNÉ LOUW, senior ekonoom: Bedryfsdienste, Graan SA

In die Wes-Kaap maak landbouchemikalieë tussen 16% en 20% van 'n koringprodusent se lopende produksiekoste uit, terwyl dit in sekere dele van die somergewasproduserende gebiede onder 5% uitmaak. Produksiepraktyke soos geenbewerking en die probleem van onkruiddoderweerstand in die Wes-Kaap het veroorsaak dat kostes verbonde aan landbouchemikalieë uitermate gestyg het.

Hoe hoër die koste verbonde aan landbouchemikalieë, hoe belangriker is dit dat produsente die regte prys vir hul landbouchemikalieë betaal. Suid-Afrika voer basies 100% van sy landbouchemiese behoeftes in, daarom speel internasionale pryse en die wisselkoers 'n bepalende rol in die samestelling van plaaslike pryse. Nie net dit nie, maar ook hoe die finale produk vanaf invoere tot by die eindverbruiker, die koringprodusent, beweeg, speel 'n bepalende rol.

Plaaslike graanprodusente voer nou al 'n geruime tyd aan dat die plaaslike ketting in die chemiese bedryf in Suid-Afrika te lank is. Die struktuur in die plaaslike landbouchemikalieëketting word in Figuur 1 weergegee.

Maak seker jou landbouchemiese verteenwoordiger voeg waarde toe

Elke een van hierdie rolspelers in die waardeketting voer 'n bestaan en voeg daarom kostes tot die uiteindelike prys toe. Dit is daarom belangrik dat elke rolspeler vir die verbruiker wel waarde toevoeg. Koringprodusente moet seker maak dat hul landbouchemiese verteenwoordiger waarde toevoeg deur aandag aan die volgende te gee:

  • Maak seker dat die verspreidingsmaatskappy lid van CropLife is en dat die agent gekwalifiseerd is (Lidmaatskapkaarte met akkreditasie kan aangevra word).
  • Sorg dat alle aanbevelings, sover moontlik, op skrif gestel word en hou bewyse hiervan.
  • Maak seker die middel is geregistreer onder Wet 36 van 1947 en vir die spesifieke doel.
  • Moet nie gebruik maak van 'n verteenwoordiger wat net chemikalieë verkoop nie – maak seker hy is 'n kundige in sy gebied en kan waarde vir jou op die plaas toevoeg.
  • Dit is ook belangrik om seker te maak dat die regte prys vir landbouchemikalieë betaal word.

Neem daarom van die volgende tendense kennis:

Internasionale landbouchemiese pryse

Tabel 1 toon internasionale onkruiddoderpryse (in 'n Chinese hawe) per aktiewe bestanddeel oor 'n jaartydperk aan. Die eerste gedeelte van die tabel is die pryse in dollarterme terwyl die tweede gedeelte dieselfde pryse in randwaarde aandui.

Maak seker jou landbouchemiese verteenwoordiger voeg waarde toe

Uit Tabel 1 is dit duidelik dat internasionale pryse afgeneem het. Dit is veral glifosaatpryse wat skerp gedaal het. As 'n mens egter na die tweede gedeelte van die tabel kyk, kan gesien word watter groot impak 'n verswakking in die waarde van die rand kan hê. Dit veroorsaak dat internasionale prysdalings nie in die plaaslike mark deurgegee kan word nie. Inteendeel, behalwe vir glifosaat wat nog in randterme 'n daling toon, kan ander onkruiddoders in die plaaslike mark skerp toeneem.

Tabel 2 toon internasionale insekdoderpryse per aktiewe bestanddeel oor 'n jaartydperk. Die eerste gedeelte van die tabel is die pryse in dollarterme, terwyl die tweede gedeelte dieselfde pryse aandui in randwaarde.

Maak seker jou landbouchemiese verteenwoordiger voeg waarde toe

Uit die tabel is dit duidelik dat pryse in dollarterme skerp gedaal het. Die impak van die verswakking in die waarde van die rand is weer eens duidelik sigbaar in die tweede gedeelte van die tabel. Al die aktiewe bestanddele toon in rand-terme 'n styging van bykans 10%.

Met hierdie tipe inligting probeer ons om die chemiese mark vir Graan SA-lede meer deursigtig te maak. Dit sal interessant wees om van ons lede te hoor wat hulle tans vir landbouchemiese middels betaal vergeleke met verlede jaar dieselfde tyd, gegewe die bostaande tendens.

Stuur gerus 'n e-pos na corne@grainsa.co.za.

Publication: June 2016

Section: On farm level

Search