• Login
  • Search Icon

‘n Visser wat graanprodusente se wêreld verstaan

March 2012

ELMARIE SCHOEMAN, SA GRAAN/GRAIN MEDEWERKER

‘n Deur van potensiaal het vanjaar oopgegaan vir internasionale mark-
toegang met ‘n kundige op dié gebied, dr Marinda Visser (39), wat die leisels by mnr Nico Hawkins as bestuurder: Bedryfsdienste, Graan SA op 1 Januarie oorgeneem het. SA Graan/Grain het nader gaan kennis maak.

Sy is plat op die aarde, onpretensieus en so beskeie oor haar vermoëns
dat sy soms sukkel om haarself te prys. Vir Marinda is die graanprodusente prioriteit en sy sien haar aanstelling by Graan SA as ‘n diens wat sy kan lewer om die produsente meer winsgewend en volhoubaar te maak.

Marinda kom vanuit ‘n senior pos (hoofdirekteur by die Nasionale Departe-
ment van Landbou, Bosbou en Visserye). Hier het sy marktoegang vir Suid-Afrikaanse produkte met ander oorsese lande tot stand gebring, veral Suid-Afrikaanse mielies vir die Sjinese mark.

Vir haar was die onlangse beroepskuif nie moeilik nie.

“Hier by Graan SA probeer ons die graanprodusent so winsgewend as moontlik maak; ons maak seker dat daar navorsing is, befondsing vir navorsing is, genoeg kultivars ontwikkel word en ons verseker dat daar voldoende markte is om die produkte te verkoop. Hierdie is die dimensies wat ek saambring en ek dink ek het vinnig en maklik by Graan SA ingepas.”

By die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye was Marinda se fokus op beide diere- sowel as plantproduksie. “By Graan SA gaan ek selfs meer doeltreffend kan wees omdat ek suiwer op die graanbedryf gefokus is.”

Hoe sien jy Graan SA se rol in die vestiging van biobrandstof?

“Ons is verantwoordelik om die industrie aan die gang te kry en ons gaan doen wat ons kan om met die openbare sektor saam te werk, deur inligting te voorsien en te help waar ons kan. Ons het reeds sulke tipe gesprekke gevoer met amptenare binne Handel en Nywerheid asook Landbou, Bosbou en Visserye om te verseker dat ons daar is en ons deel doen om by te dra tot die vestiging van die biobrandstofbedryf.”

Marinda het as senior staatsamptenaar goeie bande en verhoudings met kollegas in ander staatsdepartemente en ook in ander lande opgebou, wat ‘n groot voordeel ook vir die bestuurspan van Graan SA en graanprodusente inhou.

Graan SA het verskeie mikpunte vir die jaar wat uitstekend by Marinda se kundigheid en ondervinding aansluit: “Een van daardie mikpunte is om altyd te kyk na nuwe uitvoermarkte. Ons staan tans die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye by in onderhandelinge met Sjina. Ons help waar ons kan om marktoegang te kry en om hierdie mark permanent vir mielies gevestig te kry. Alles wat ons doen, moet tot voordeel van ons produsente wees.”

Oor haar span in Bedryfsdienste kan Marinda nie uitgepraat raak nie. “Die afdeling loop oor van talent en entoesiasme en ons hoop dat die bydrae wat ons vir die graanprodusente lewer, vir hulle net voordelig sal wees en hul selfs meer volhoubaar en winsgewend sal maak.

“Graan SA se mandaat is om die graanprodusent te help in terme van marknavorsing en om strategiese kwessies op te los en ek sal seker maak dat ons by hierdie mandaat bly. Ek is opgewonde oor die toekoms van Graan SA en die dinamiese klomp mense wat die produsente dien.”

Dr Marinda Visser agter die skerms:

  • Grootgeword op Prieska in die Noord-Kaap
  • In die Wes-Kaap begin studeer en daarna haar PhD in Plantpatologie aan die Universiteit van Pretoria verwerf
  • Agt jaar lank by die Landbounavorsingsraad gewerk
  • Was werksaam as hoofdirekteur by die Nasionale Departement van Landbou, Bosbou en Visserye
  • Getroud met Joe en hulle het ‘n sesjarige dogter, Erin
  • Lees graag en is tans besig om Spaans te leer

image

Publication: March 2012

Section: Other Articles

Search