• Login
  • Search Icon

LNR-KGI registreer splinternuwe droëlandkoringkultivar

March 2015

ROBBIE LINDEQUE, LNR-Kleingraaninstituut, 'n Instituut van die LNR-Veldgewasdivisie

Shingwedzi is ‘n splinternuwe droëlandkoringkultivar wat deur die LNR-Kleingraaninstituut (LNR-KGI) geregistreer is vir vrystelling in die somerreënvalstreek. Hierdie kultivar volg kort op die hakke van Koonap en Senqu (albei in 2011) en Kouga (2013).

Beskikbaarstelling van hoëpotensiaal, genetiese agtergronde aan koringprodusente is een van die belangrike pilare waarop die lewensvatbaarheid van koringverbouing rus. Gereelde vrystelling van nuwe droëlandkultivars dui op ‘n gesonde program, nes die destydse rekordafmetings van die Krugerwildtuin se olifanttande.

‘n Versameling van relevante genetiese agtergronde, die inbou daarvan in koringlyne wat aangepas is vir die binneland en akkurate seleksieprosedures lei tot gereelde kultivarvrystellings. Die nuwe kultivar, Shingwedzi, styg ook op verskeie gebiede bokant die gemiddelde standaarde uit en beloof om hoë opbrengste te lewer, maar om ook enersyds hierdie goeie opbrengste met stabiele kwaliteit aan te vul.

Graanopbrengs van Shingwedzi in 2012 en 2013

Met die vroeë aanplanting (tweede en derde week van Junie) in 2012 het Shingwedzi nie betekenisvol hoër opbrengs as enige van die drie kommersiële kultivars gehad nie. Opbrengsresultate uit die verskillende proeflokaliteite van die Oos-Vrystaat toon egter dat Shingwedzi beter aangepas is vir hoëpotensiaalomgewings, soos Clarens, Kransfontein en Meets. In die 2013-seisoen, gekenmerk deur laat reëns vanaf November, verander die opbrengsprentjie heeltemal. Shingwedzi se opbrengs in die vroeë aanplanting van hierdie seisoen is betekenisvol hoër as Standaard D, betekenisvol minder as Matlabas en dieselfde as Standaard C (Grafiek 1).

image

Die graanopbrengs van Shingwedzi in 2012 by ‘n laat plantdatum (derde week van Julie) was betekenisvol hoër as Standaard D, betekenisvol laer as Standaard E en dieselfde as Elands (kwaliteitstandaard). In 2013 baat die meeste van die inskrywings by die laat reën en die opbrengs van Shingwedzi is net betekenisvol hoër as Elands. In die Wes-Vrystaat in die 2012-koringseisoen, verskil die opbrengs van geeneen van die inskrywings in die April-aanplanting betekenisvol van mekaar nie. Tydens die marginale groeitoestande van 2013 was die opbrengs van Shingwedzi dieselfde as Elands, maar betekenisvol laer as Matlabas en Standaard B. Dit ondersteun die waarneming dat Shingwedzi beter aangepas blyk te wees vir hoëpotensiaaltoestande (Grafiek 1).

Maal- en bakkwaliteit van Shingwedzi in 2012 en 2013

Maal- en bakkwaliteit (Foto 2), soos gedefinieer deur hektolitermassa, valgetal, proteïeninhoud en broodvolume, bepaal die markaanwending van ‘n kultivar. Hierdie eienskappe is ook belangrik omdat dit die finale prys vasstel waarvolgens ‘n koringprodusent vergoeding vir sy oes ontvang.

Daar word algemeen aanvaar dat koring met goeie opbrengs dikwels inboet op maal- en bakkwaliteit. Dit is dus verblydend dat die kwaliteit van Shingwedzi in 2012 en 2013 gelykstaande is aan of beter presteer as Elands (wat die kwaliteitstandaard vir droëlandkoring in die somerreënvalstreek is) – Grafiek 1.

Broodvolume van Shingwedzi in die 2011-seisoen was laer as dié van Elands, maar kan toegeskryf word aan die hoë proteïeninhoud daarvan in hierdie seisoen (Tabel 1). Terugvoer vanaf die Suider-Afrikaanse Graanlaboratorium (SAGL) oor die maal- en bakeienskappe van Shingwedzi aan die einde van die evalueringstydperk (2011 tot 2013), was:

  • Die hoë proteïeninhoud van Shingwedzi in sekere seisoene mag lei tot lae broodvolumes;
  • Hektolitermassa, meelopbrengs en proteïeninhoud is oor die algemeen beter as dié van Elands; en
  • Die mengtyd en waterabsorpsie van Shingwedzi is aanvaarbaar.

Die boek Increasing yield potential in wheat: Breaking the barriers maak ‘n belangrike stelling: “Yield is the primary objective. Despite a new cultivar’s improvements, including quality capable of attracting premiums, producers will not grow it unless they expect it to yield well on their farms”. Al is hierdie stelling hoe waar, speel kwaliteitseienskappe en weerstand teen peste en plae 'n groot rol in die langtermynbehoud van kommersiële koringeenhede en nasionale voedselsekerheid.

image

Agronomiese kenmerke van Shingwedzi

In die verbouing van droëlandkoring in die somerreënvalstreek is sekere planteienskappe baie belangrik vir die toepassing van noodsaaklike produksiepraktyke in ‘n streek.

Koleoptiellengte van Shingwedzi is goed (tussen 80 mm tot 85 mm) met 100% ontkieming. Hierdie eienskappe maak dieper plant moontlik in seisoene waarin grondvog skraps is. Goeie ontkieming en lang koleoptiele help ook om saailinge vinnig bokant die grondoppervlak uit te kry en verhoed saailingmortaliteite in sandgronde wat neig om te waai (Foto 3).

Die uitloopweerstand van Shingwedzi is uitstekend, met ‘n waarde van 2,3. Uitloopweerstand verseker die kwaliteitsgraad van ‘n oes ten spyte van ‘n nat oesperiode en by vatbare kultivars kan verlaging van valgetal reeds onder nat toestande voorkom al is nog geen uitloopskade met die oog sigbaar nie (Foto 4).

Toleransie teen aluminiumtoksisiteit dra verseker by tot hoër opbrengste op gronde met ‘n lae pH, maar vervang geensins ‘n bekalkingsprogram nie. Shingwedzi beskik nie soos Koonap oor toleransie teen aluminiumtoksisiteit nie. Dit kan dalk deels verantwoordelik wees vir die nuwe kultivar se voorkeur vir hoëpotensiaaltoestande.

Voorkoms van geelroes (Foto 5) en Russiese koringluis op droëlandkoring is sporadies, maar kan in gunstige seisoene tot ernstige oesverliese lei. Voorlopige geelroesevaluerings is deur die LNR-KGI op Kransfontein (2012) en die Universiteit van die Vrystaat by Greytown (2013) gedoen.

image

Daarvolgens wil dit voorkom asof Shingwedzi oor poligeniese weerstand beskik, aangesien dit vatbaar was in saailingstadium (enkelgeenweerstand), maar wissel tussen vatbaar en weerstand in die volwasse plantstadium oor 2012 en 2013. Hierdie variasie in die geelroesreaksiestatus van Shingwedzi is waarskynlik as gevolg van variasie in siektedruk tussen toetslokaliteite oor die twee jare. Shingwedzi kom vatbaar voor teenoor Russiese koringluis.

Presies wat die omvang van Shingwedzi se waarde en sy impak op die koringbedryf gaan wees, gaan alleenlik bereken kan word sodra saad van Shingwedzi kommersieel beskikbaar is en deur saaiprodusente uitgetoets word.

imageHierdie nuwe kultivar beloof egter om net soos sy voorlopers 'n belangrike rol in koringverbouing te vervul. Basissaad word tans genoegsaam vermeerder waarna ‘n saadbemarkingskontrak toegeken sal word sodat Shingwedzi sy staal kan wys. Produsente behoort saad van hierdie kultivar beskikbaar te hê teen 2016 indien kommersialisering volstoom verloop.

Publication: March 2015

Section: Focus on

Search