• Login
  • Search Icon

Lesse geleer uit die 2016/2017-plantseisoen

October 2017

AK Geldenhuys, produklandboukundige: Weste, Pannar Saad

Met die huidige hoë insetkostes verbonde aan mie­lieverbouing en die lae marges, is oorplant eintlik ‘n taboe onderwerp. Daarom is dit noodsaaklik dat produsente sal kennis dra van uitdagings wat in die verlede voorgekom het en moet hulle probeer om dié foute te vermy.

Heelwat van dié uitdagings is klein jakkalsies wat lei tot groot frustrasie en kon in ‘n verskeidenheid gevalle voorkom word.

Natuurlike oorsake
Gerugte wil dit hê dat soveel soos 55 000 ha (2016/2017) oorgeplant is as gevolg van winde wat saailinge eenvoudig doodgewaai het omdat daar nie genoeg stoppel op die lande was nie (Foto 1). Die tekort aan stoppel spruit voort uit die vorige droë seisoen.

Goeie jare het soms ook negatiewe uitwerkings en in Foto 2 kan gesien word waar plante uiters welig groei en dan onderwerp word aan sterk winde of dwarrelwinde, wat dan lei tot stamknak (green snap).

Plante groei betreklik vinnig en dan raak die stamme as’t ware glasagtig en kan dan nie buig of meegee in sterk wind nie en breek af asof die stam met ‘n mes gesny is. Die invloed van hierdie verskynsel het selde ‘n impak op die potensiaal van die oes. Dit verteenwoordig gewoonlik tussen 5% tot 10% plante.

Effek van kompaksie en swak wortelontwikkeling gepaard met swaar reën en sterk winde het ook gelei tot omval (Foto 3).

Chemies
Die ander gereelde uitdaging is die plasing van kunsmis. Die plasing van kunsmis té naby aan die saad veroorsaak kunsmisbrand (Foto 4a en Foto 4b) en gevolglike swak ontkieming. Die norm in hierdie geval is dat kunsmis ten minste 5 cm weg en 5 cm onder die saad geplaas moet word.

Dit sal die moeite loon om net voor-plant die planter in die land te sit en dan te grawe om vas te stel of die plasing van kunsmis volgens die norm is. Waar vooropkoms-onkruiddoders toegedien is en opgevolg word deur koue of koel toestande, kan die saailing verdwerg of verwronge ontwikkel (Foto 5a en Foto 5b). Dit gebeur omdat die saailing nie in die optimale tyd van vyf tot sewe dae bo die grond verskyn nie en dan vir te lank aan die onkruiddoder blootgestel word.

Die effek van oordragonkruiddoder word telkens onderskat. Dit is belangrik om die onttrekkingstye vir opvolggewasse op die etiket te lees en dit te gehoorsaam om teleurstelling te voorkom (Foto 6).

In gevalle waar swamdoders gespuit word, is dit uiters belangrik om die etiket te raadpleeg om te bepaal of dit nodig is om benatters by die swammiddel te voeg. Die meeste van die middels bevat reeds benatters en indien addisionele benatters bygevoeg word, kan dit lei tot gestremde kop-ontwikkeling (arrested ear development [AED]).

Bespuitings vir swaminfeksies moet ook nie gedoen word tussen V12- en V16-groeistadiums nie (Foto 7a tot Foto 7c). In hierdie stadiums is kopontwikkeling uiters aktief en kan sodanige bespui­tings die oorsaak van gestremde kop-ontwikkeling wees.

Dit bly belangrik om te weet waar konvensionele en RR-basters geplant is, anders kan groot skade voorkom (Foto 8).

Spuite moet deeglik skoongemaak word nadat dit gebruik is anders kan van die vorige onkruiddoder wat nog in die tenk was, skade aan die volgende gewas aanrig (Foto 9).

Insekte dra ook by tot die frustrasies. Soms is ‘n mens radeloos oor die verdwergde plante in die ry – in hierdie geval was dit draadwurmskade op die kiemplant (Foto 10).

Betreklike warm en humiede toestande is die teelaarde vir swam­siektes (Foto 11a en Foto 11b).

Effektiewe onkruidbeheer is krities (Foto 12 en Foto 13).

Gee aandag aan die klein jakkalsies en maak seker jou wingerd word nie verniel nie.

Publication: October 2017

Section: On farm level

Search