• Login
  • Search Icon

LESSE GELEER tydens die afgelope plantseisoen

July 2018

KOBUS VAN ZYL, senior landboukundige, Omnia Kunsmis

Elke plantseisoen het sy unieke uitdagings. Die 2017/­2018-seisoen was geen uitsondering nie. ‘n Mens sien soms die uitdagings (wat soos ‘n groot berg voor jou lê) en eers as jy bo uitgekom het, besef jy élke tree het jou vorentoe geneem. 

Wat laat jou die regte keuses maak wanneer jy dié uitdagings moet trotseer? Die ervaring opgedoen uit vorige uitdagings wat jy oorkom het, natuurlik. Geen seisoen is dieselfde nie, maar langs die pad vind jy dikwels dieselfde uitdaging as wat jy al in die verlede trotseer het. Elke jaar begin ons op ‘n skoon bladsy en skryf dan die storie van die seisoen soos hy verloop. Teen oestyd maak dié storie klaar.

En dan is dit soms met ‘n gemengde gemoed en die twyfel: “Was dit regtig die beste wat ek kon doen?” of dalk: “Ek sal nie weer só ‘n oes sien nie!”

Dalk het omstandighede buite jou beheer die grootste invloed op jou oes gehad, maar sulke buitengewone omstandighede is ook ‘n gegewe. Hoe beplan ‘n mens dus jaarliks vir die onvoorspelbare? Bloot deur bedag op uitdagings te wees.

Só kan ‘n mens beter besluite neem – veral as die ervaring van vorige oeste almal dieselfde storie vertel. Dink byvoorbeeld aan plantdatums. Elke produsent het min of meer ‘n “ideale” plantdatum vir elke gewas en vir ‘n bepaalde area. Omstandighede veroorsaak egter dikwels dat ons slegs twee of drie uit elke tien oeste op die ideale tyd kan plant.

Grondtemperatuur tydens plant
Min van ons sal die koue in November verlede jaar gou vergeet. Omgewingstemperatuur en grondtemperatuur het ‘n groot invloed op hoe die gewasse aanvanklik ontwikkel en groei. Die meeste gewasse hou nie regtig van grondtemperature veel laer as 15°C nie. Ontkieming sal wel plaasvind, maar groei en ontwikkeling sal nie optimaal wees nie. 

Wortelgroei sal baie traag wees by grondtemperature van 15°C en laer. Boonop kan laterale wortelgroei dikwels voorkom as die 
grond te koud is – en dit verhoed voldoende opname van voedingstowwe uit die kunsmisband. Plante wat sonder kunsmis geplant is, sal besonder swak ontwikkel en aansienlike oesskade ervaar. 

Grondswamme en aalwurmskade
Grondswamme soos Pythium kan ook wortelontwikkeling weens die koue, nat toestande knou. Op Foto 1 word die simptome van Pythium aangedui. Dit veroorsaak gewoonlik dat die mesokotiel afsterf óf nie voldoende funksioneer nie.

Pythium kan ook sojabone (en feitlik enige ander saailinge) se vroeë wortelontwikkeling beïnvloed. Foto 2 dui die voorkoms van Pythium op sojaboonwortels aan. Dit kan tot aansienlike standverliese lei. 

Sodra grondtemperature verhoog, is die voorkoms van grondswamme steeds ‘n uitdaging. Rhizoctonia (Foto 3) kan ook die wortelontwikkeling van sojabone ernstig strem. 

Grondswamme kan onderdruk word deur gebruik te maak van geregistreerde swamdoders – gewoonlik in die vorm van ‘n saadbehandeling. Buiten die swamme wat druk op die jong sojabone, mielie- of ander saailinge kan uitoefen, is die voorkoms van aalwurmskade om jong saailinge ook ‘n bron tot groot kommer. Veral knopwortelaalwurm, letselaalwurm en spiraalaalwurm beskadig gewasse se wortelstelsels.

Foto 4 dui duidelik die voorkoms van knopwortelaalwurm op jong sonneblomsaailinge aan. Die voorkoms van hoë aalwurmdruk sal die effektiwiteit van wortels drasties verminder en die oes beslis affekteer.

Ander omstandighede
Dikwels druk die seisoen ‘n mens, wat tyd betref, in ‘n hoek. Die reën kom laat en die druk om klaar te kry, raak al hoe groter. Dit veroorsaak dikwels dat daar noodgedwonge besluite gemaak word onder omstandighede wat nie 100% optimaal is nie. 

Foto 5a tot Foto 5c dui kompaksie vroeg in die seisoen aan, hoofsaaklik as gevolg van grondtoestande wat met planttyd te nat was en opgevolg is deur warm, droë weer.

Ideale planttoestande heers dikwels nie langer as sewe dae nie – veral as opvolgreën nie voldoende plantvog verseker nie. Saad wat geplant word, moet daarom ontkiem én die omgewingstoestande kan trotseer om ‘n sterk, gesonde saailing op te lewer. 

Saad ontkiem onverklaarbaar stadig
Soms gebeur dit ook dat daar perfekte planttoestande heers, maar van die saad ontkiem stadiger of later, wat swakker plante tot gevolg het (Foto 6a en Foto 6b). 

Die moontlike redes hiervoor is te veel om op te noem, maar kyk gerus na die volgende belangrike punte waaraan aandag gegee moet word:

  • ‘n Goeie saadbed. Vorige oesreste bemoeilik soms goeie grond-saadkontak.
  • Planterspoed (verkieslik nie meer as 10 km/h nie).
  • Egalige plantdiepte (Foto 7a en Foto 7b) wat voldoende grondvog vir drie tot vier dae ná ontkieming aan die jong saailing kan verskaf.
  • Aalwurmbeheer.
  • Hoë kwaliteit kunsmis wat gebandplaas word. Dít om sterk saailinge op te lewer en maksimum potensiaal op die vier­blaarstadium by mielies vas te lê.
  • Plasing van kunsmis (5 cm weg, 5 cm onder die saad). In sandgronde kan die kunsmis onder droë toestande effens dieper in die nat grond toegedien word, byvoorbeeld 7 cm diep.
  • Onkruidbeheer. Koue, nat toestande kan wortelgroei en -ontwikkeling vertraag. Die toestande kan veroorsaak dat jong saailinge vir ‘n langer periode aan onkruiddoders blootgestel word, wat nadelig kan wees vir die jong plant.
     

Wind- en grasdoderskade
Windskade op sandgrond is ‘n wesenlike probleem – veral wanneer daar vroeg in die seisoen geplant word en reën nie dikwels genoeg voorkom om wind te keer nie. Die 2017-plantseisoen is hierdeur gekenmerk. 

Dit het veral die mielies, wat vroeg in Oktober ná die eerste goeie reën geplant is, beskadig. Die mielies moes later in November uiterste lae temperature oorleef. Foto 8a en Foto 8b wys die wind skade en ook koue simptome wat die saailinge vroeg in Oktober geaffekteer het.

‘n Skoon, onkruidvrye land is ‘n plesier vir die oog. Op sandgronde is die verskil tussen skoon en skade egter ontsettend klein. Foto 9 dui die skade as gevolg van ‘n oordosis grasdoder aan.

Dra jou kennis oor
Geen seisoen sal ooit perfek wees nie en ons sal elke jaar lesse uit die seisoen leer. Die vraag is: Wat maak ons met die inligting oor die lesse wat ons geleer het? Hopelik word dit aan die volgende geslag oorgedra, sodat hulle nie dieselfde lesse hoef te leer nie, maar ons kennis kan benut.

Publication: July 2018

Section: On farm level

Search