• Login
  • Search Icon

Leer ons dan nooit?

June 2016

image

JANNIE DE VILLIERS, uitvoerende hoofbestuurder/CEO

Die afgelope paar maande tussen Graan SA se kongres en die NAMPO Oesdag het relatief stil verloop. So stil soos 'n seun wat 'n pak slae by die skoolhoof gekry het. Die droogte sny diep in die bedryf in!

Daar was egter 'n paar fundamentele sake wat ernstig aangeroer is: Ons land se Grondwet het weer nuwe status gekry, danksy me Thuli Madonsela en brawe regters wat hulle nie deur politici laat beïnvloed nie. Terwyl produsente steeds 'n swaard oor hulle koppe het oor grondhervorming en vasgevang is in die droogte se wurggreep, was hierdie beslis 'n reuse oorwinning.

In die landbouvergaderings en -praatjies in die gange, het ek egter 'n nuwe waarneming gemaak: Die transformasiemotief word die nuwe poort na meer beheer deur die Staat. Veralgemenings soos: "Daar het nog die afgelope 20 jaar geen transformasie in landbou plaasgevind nie" raak nou die belangrikste dryfveer vir die Staat om ingrepe in die mark te maak.

Nou wonder ek sommer of Suid-Afrika ook eers deur hongersnood sal moet gaan (soos die tyd voor die Grondwethofuitspraak) voordat die Regering sal agterkom dat 'n mens nie inmeng in die vrye mark as jy genoeg kos wil hê nie?

Transformasie is essensieel, maar as dit geïmplementeer word sonder om volhoubaarheid in die oog te hou, gaan dit ons baie duur te staan kom. Eskom het ons almal geleer dat oorhaastige besluite en oormatige dryf van politieke motiewe tot nie-volhoubaarheid lei. Dit kos die land miljoene rande aan ekonomiese groei en werksgeleenthede. Georganiseerde landbou sal mooi moet kophou dat ons nie die een doen en die ander nalaat nie. Volhoubaarheid is afhanklik van gesonde besigheidsbeginsels.

Een saak wat vir my al hoe duideliker word, is dat die bedryf meer sal moet privatiseer. Die begroting vir navorsing is weer eens gesny. Die staatsbeheerde saadvermeerderingprojek het ontspoor. Graan SA kon nie die ondersteuning van die maal- en bakbedryf verkry vir 'n statutêre heffing vir koringteling nie. Ons sal strategies moet dink oor wie ons ware vennote in die toekoms gaan wees. Ek is baie bemoedig deur die hande (en rande) van samewerking wat in die moeilike jaar na Graan SA en die landbousektor uitgesteek is. Ons gaan dit vir lank onthou! Dankie daarvoor.

Ek het onlangs deur groot dele van die Vrystaat se produksiegebiede gery. Waar weiding vir die diere hierdie winter vandaan gaan kom, weet ek nie. Ons is egter ook bly saam met die wat so gelukkig is om wel 'n oes af te haal – en dit terwyl pryse op so 'n goeie vlak verkeer.

Die Wes-Kaap het goeie planttoestande gehad en ons hoop dat hulle, veral in die Swartland, 'n normale jaar gaan hê. Daar is ook heelwat manne in die Vrystaat wat op leë mielielande koring plant. Graan SA wil elke produsent maan om hulle somme sorgvuldig te maak – die uitvoerpariteit vir mielies vir 2017 lyk nie gunstig nie.

Die Staat is ernstig besig om die koringtariefbedeling te bevraagteken (en dit is nie om die tarief hoër te maak nie!). Hoë voedselpryse weens die droogte en die swak wisselkoers se oplossings word nou gesoek in laer pryse vir produsente en dit is nie volhoubaar nie. Wanneer gaan ons dan leer?

Publication: June 2016

Section: Features

Search