• Login
  • Search Icon

Landbouskole steeds belangrik - kan landbou-omgewing verander

February 2014

EP NEL, VRYSTAATSE DEPARTEMENT VAN ONDERWYS EN PIETMAN BOTHA, SA GRAAN/GRAIN MEDEWERKER

Landbou was in 1652 een van die redes hoekom Jan van Riebeeck in die Kaap voet aan wal gesit het. Vandag, 362 jaar later, is landbou in Suid-Afrika een van die belangrike hoekstene van die Suid-Afrikaanse ekonomie en voorsien die landboubedryf in baie mense se behoeftes.

Met ‘n bevolking wat toeneem, neem die vraag na kos ook toe en moet meer met minder geproduseer word. Hierdie toename in die vraag na voedsel en landbouprodukte en die tegnologiese ontwikkeling op landbou- en nywerheidsgebied stel al groterwordende eise aan die landbougemeenskap.

Landbouverbouing en verwerkingsmetodes pas by die dag aan, nuwe masjiene word ingespan, verbouingspraktyke word geïntegreer en geïntensiveer en die verbruikers stel hoër eise aan die landbouprodukte. Daar word verder vereis dat landbou “groener” moet word – meer produkte moet dus met minder hulpbronne geproduseer word en terselfdertyd word daar verwag dat produksie volhoubaar moet wees. Nuwe tegnologie, soos byvoorbeeld geneties gemanipuleerde kultivars en presisieboerdery sal hul rol moet speel om te sorg dat genoeg geproduseer word om aan die groeiende wêreldbevolking en vraag te voldoen.

Om hierdie uitdagings die hoof te bied, is goed opgeleide mense en navorsers ‘n voorvereiste. Dit is hier waar landbouskole in Suid-Afrika asook wêreldwyd ‘n rol speel.

image

Dit is belangrik dat landbouleerders van jongs af moet verstaan dat hulle belangrik is en ‘n waardevolle rol het om te vervul. Daarom leer hulle van vroeg af dat:

  • Landbou die enigste essensiële industrie is.
  • Landbouproduksie menslike voortbestaan verseker deur die voorsiening van essensiële voedingstowwe.
  • Landbouers die grond leen by hulle nageslag en dit dienooreenkomstig moet bewaar sonder om produksie in te boet.
  • Sommige produksie-aspekte buite die beheer van die landbouer is en dat prys deur internasionale ekonomieë bepaal word.

Landbouskole in vennootskap met die privaat sektor moet verder sorg dat:

  • Met behulp van wetenskaplike kennis en praktiese vaardighede, ‘n liefde vir die grond, plante, diere en werktuie by leerders gekweek word.
  • ‘n Groot getal voornemende landbouers die geleentheid gegun word om die bedryf toegerus te kan betree of in te skryf vir tersiêre landbou-opleiding.
  • Die voorste tegnologie en kundigheid in die landbou-omgewing tot die beskikking van leerders gestel word.

image

Die waarde van sekondêre landbou-onderrig is al 100 jaar gelede in 1914 met die ontstaan van Weston Agricultural College by Mooirivier in KwaZulu-Natal in Suid-Afrika erken. Die behoefte vir soortgelyke skole in ander provinsies het veroorsaak dat daar op die oomblik in elke provinsie ‘n landbouskool is wat die unieke klimaat en hulpbronsamestelling van die spesifieke omgewing verteenwoordig. Landbouskole het ook met ander skole geïntegreer om sodoende groter leergeleenthede en vakkeuses aan leerders te bied.

Die vereistes vir landbou-opleiding het al hoe hoër geword en daarom kan die bydrae van landbou-onderwys op sekondêre vlak nie misken word nie. Landbou-onderwys het nie altyd ‘n maklike paadjie gestap nie en is soms deur burokratiese rompslomp en die gebrek aan erkenning gerem. Tog het landbouskole deur die jare heen menigte landbouers opgelei wat op landbougebied- en/of professionele gebied hul merk maak en gemaak het. Akademie is egter nie die enigste aspek van belang nie, maar ook die totale ontwikkeling van die kind. Leerders word ook aan sport en kultuur blootgestel en menige sportmanne is al op nasionale vlak opgelewer.

Daar bestaan ‘n persepsie dat landbouskole in Suid-Afrika nie werklik ‘n bydrae lewer nie en dat ‘n leerder beter af is in ‘n gewone hoërskool as in ‘n landbouskool. Hierdie persepsie is ver van die waarheid en landbouhoërskole bied dieselfde en in sommige gevalle meer, as gewone hoërskole vir leerders aan.

image

Landbouhoërskole bied onder andere:

  • Toelating tot tersiêre opleidingsinstansies (universiteite en technikons).
  • Algemeen vormende-vakke, maar daarby ook tegniese en landbou vakke.
  • Algemeengerigte vakke, maar ook beroepsgerigte vakke.
  • Praktiese opleiding vir beroepsgerigte vakke, wat werkswinkel/laboratorium- en boerdery-onderrig insluit.
  • Die toepassing en bestudering van die wetenskap en wiskunde binne die landboutegnologie.
  • ‘n Deurlopende praktiese evaluering wat deel van die finale eksamen vir beroepsgerigte vakke uitmaak. Verantwoordelikheid en bestuursvaardighede vorm deel van die deurlopende praktiese punt.
  • Sport en kultuur wat deel van die volledige ontwikkeling van die kind uitmaak.

Landbou en die produksie van voedsel en vesel word in drie verskillende vakke aan leerders in die Verdere Onderrig en Opleiding (VOO) in Gr 10 tot Gr 12 bekend gestel: Leerders wat ‘n landboustudierigting volg, neem gewoonlik ook twee van die drie volgende vakke, naamlik:

  • Landbouwetenskap, wat ook erken word as ‘n toelatingsvak by universiteite (gelykstaande aan Lewenswetenskappe)
  • Landboubestuurspraktyke
  • Landboutegnologie

Landbouwetenskap behels ‘n studie van die verwantskap tussen grond, plante en diere in die produksie en prosessering van voedsel, vesel, brandstof en ander landboukommoditeite wat ‘n ekonomiese, estetiese en kulturele waarde het.

Dit sluit die studie in van:

  • Grondkunde
  • Plantestudies
  • Dierestudies
  • Landbou-ekonomie
  • Basiese landbouchemie
  • Basiese genetika en biologiese konsepte
  • Volhoubare natuurlike hulpbron benutting
  • Landbou-ekologie

Landboubestuurspraktyke behels ‘n studie en toepassing van produksie, ekonomiese en bestuursbeginsels wat in die verbouing, transformasie en bemarking van voedsel en ander landbouprodukte gebruik word. Hierdie beginsels word gebruik om waarde tot landbouprodukte te voeg sodat die produkte ekonomiese, estetiese, sosiale en kulturele waarde het. Die doel van die vak is om leerders te voorsien van ‘n goeie prakties-georiënteerde basis wat beide die teoretiese en praktiese vaardighede integreer.

image

In hierdie vak kry leerders onderrig in die volgende:

  • Gewasproduksie en gewasbestuur
  • Grond- en waterbestuur
  • Oes van produkte en kwaliteitbeheer
  • Diereproduksie en bestuursaspekte
  • Boerderybestuur en -evaluasie
  • Waardetoevoeging en prosessering
  • Agri-toerisme, besigheidsbeplanning en entrepreneurskap

In landboutegnologie fokus die opleiding op tegnologie wat in die landbou gebruik word. Die vak dek hoe prosesse, gereedskap, toerusting, strukture en vaardighede deur produsente benut word.

Leerders kry hier blootstelling aan:

  • Identifisering en oplossing van probleme met behulp van tegnologiese prosesse en relevante wetenskaplike beginsels.
  • Basiese operasionele kennis en die korrekte gebruik van landbougereedskap, toerusting en masjinerie wat gebruik word in die produksie en verwerking van voedsel en vesel.
  • Konstruksie, oprigting en die onderhoud van landbougeboue en strukture.
  • Instandhouding en herstel van plaasimplemente en masjinerie.
  • Energie-beginsels en die toepassing daarvan in die landbou.
  • Beplanning, konstruksie en instandhouding van dierehanterings fasiliteite wat nodig is vir effektiewe diereproduksie.
  • Veilige en doeltreffende gebruik van landboutoerusting wat in gewasproduksie, tuinbou, boorde, wingerde, voergewasse en bos bou gebruik word.
  • Beplanning, ontwerp en instandhouding van makro- en mikrobesproeiing en hidroponikastelsels; kalibrasies en berekeninge in die landbouopset.

Benewens die vakkundige kennis en inligting wat leerders ontvang, word baie ander praktiese kursusse ook by skole aangebied soos byvoorbeeld:

  • Kunsmatige inseminasie
  • Veehantering
  • Skeer en wolklassering
  • Beoordelingskursusse (verskillende groot- en kleinveerasse)
  • Safex – die bemarking van landbouprodukte
  • Volstruise
  • Produkprosessering – die maak van jogurt en kaas asook vleisverwerking

Die kursusse word ter ondersteuning vir leerders aangebied om te verseker dat hulle die wêreld van werk met erkende sertifikate kan betree, wat aan hulle beter werksgeleenthede kan bied.

Suid-Afrikaanse landbou is verder verdeel in ‘n vooruitstrewende kommersiële landbousektor aan die een kant en ‘n opkomende landbousektor. Beide hierdie sektore moet voortdurend ontwikkel word en landbou-opleiding kan die verdeeldheid help regstel, maar terselfdertyd ook help dat Suid-Afrika mededingend met die res van die wêreld kan bly. In hierdie opsig het sekondêre en tersiêre opleidingsinstansies ‘n groot taak om studente op te lei wat oor die nodige kennis en vaardighede beskik om hul plek in die ontwikkeling van landbou in Suid-Afrika vol te staan.

Indien jy meer omtrent landbouskoolonderrig wil weet, kan jy die Suid-Afrikaanse Landbouonderwys Vereniging (SALOV) se webtuiste besoek by www.SAATA.co.za of kontak die SALOV-voorsitter by 083 556 5947.

Publication: February 2014

Section: Other Articles

Search