• Login
  • Search Icon

Landboumaatskappy investeer in hernubare energie

November 2015

PIET VAN ZYL, bestuurder: Projekte, NWK

Landboumaatskappy investeer in hernubare energieElektrisiteitsvoorsiening deur die hele Suid-Afrika is tans onder die vergrootglas en beurtkrag en gedurige oproepe om elektrisiteit spaarsamig te gebruik, laat geen twyfel dat ons in die komende jare nog noustrop gaan trek as gevolg hiervan nie. NWK het reeds by die meeste van sy bedryfspunte noodkragopwekkers teen miljoene rande aangeskaf.

Hernubare energie is egter die toekoms. Die regering beplan om vanaf 1 Januarie volgende jaar te begin om koolstofbelasting te hef. Hierdie belasting sal oor ‘n tydperk van vyf jaar ingefaseer word. Dit is omdat Suid-Afrika onderneem het om skadelike kweekhuisgasse teen 2020 met 34% te verminder.

Koolstofbelasting word ingestel om verbruikers anders te laat dink en op te tree ten opsigte van die gebruik van nie-hernubare bronne van energie, soos aardgas, steenkool en olie asook die vrystelling van gasse wat gepaardgaan met die opwekking van elektrisiteit deur middel van steenkool en prosesse wat ongewenste emissies vrystel.

NWK het in die lig van gemelde faktore reeds in 2014 twee fotovoltaïese, oftewel sonkragprojekte, afgehandel. Dit behels ‘n dakinstallasie van 56 kWp (kilowatt peak) by NWK Retail se Lichtenburg-winkel asook ‘n grond installasie van 279 kWp by Opti Chicks se broeiery.

Die bestuur van die NWK Retail-winkel wou graag meer elektrisiteit tot hul beskikking hê. Die meerderheid van die elektrisiteit word aangewend vir die verkoeling van die winkel. Sonkrag was die gewenste oplossing omdat die winkel die meeste van sy elektrisiteit gedurende dagligure benodig.

Opti Chicks se broeiery buite Lichtenburg benodig weer konstante 24 uur-voorsiening, sewe dae per week. Die fokus met hierdie projek was dus om soveel as moontlik van die broeiery se dagverbruik te bespaar deur elektrisiteit aan homself te verskaf.

Die pluimveebedryf is onder geweldige druk en met dié installasie kan Opti Chicks ‘n gedeelte van sy elektrisiteitskoste vir die volgende 35 tot 40 jaar isoleer. Weens die ongunstige oriëntasie van die dak, is daar op ‘n grondinstallasie besluit.

Die term kWp het te doen met die kapasiteit van die panele. Indien daar byvoorbeeld tien panele is van 250 Watt, word die totale installasie 2 500 Watt en word dit ‘n 2,5 kWp-installasie genoem. Die primêre doelwit van die projekte was om deur eie elektrisiteitsopwekking, die aanvraag van elektrisiteit vanaf die munisipaliteit te verminder. Die deel van die daaglikse verbruik wat dan self opgewek word, het ‘n berekende koste. In albei gevalle was die berekende koste ongeveer 82c per kWh, wat die kosprys van die selfopgewekte elektrisiteit “vasmaak” vir die volgende 25 jaar teen 82c per kWh.

Die heersende tariewe vir die gewone +man op straat is nou in die omgewing van R1,69 per kWh. Beide projekte behoort hulleself in ongeveer vyf tot ses jaar terug te betaal. In September vanjaar is ‘n derde projek by die maatskappy se hoofkantoor op Lichtenburg afgehandel. Altesaam 474 panele van 255 Watt elk wat ‘n geïnstalleerde grootte van 120,870 kWp in totaal bied, is bo-op die afdakke in die parkeerterrein geïnstalleer. Hierdie panele help om ‘n besparing van ongeveer R17 000 oftewel 14% van die perseel se rekening te realiseer.

In die kort termyn word nog verdere projekte beplan om alternatiewe energiebronne aan te wend en om sleutelkwessies op te los. Daar word gekyk na die opwekking van biogas, wat LP-gas kan vervang en aangewend kan word om water te verhit of elektrisiteit op te wek. In die toekoms gaan die opberging van elektrisiteit baie meer aan dag verg ten einde die afhanklikheid van die nasionale elektrisiteits netwerk drasties te verminder. Opwindende nuwe tegnologie raak beskikbaar wat die koste van die opgaring van elektrisiteit deur batterye of ander metodes sal verminder.

NWK stuur dus ‘n duidelike sein uit dat hy in die toekoms selfs ‘n nóg sterker rol gaan speel in die platteland en innoverend te werk sal gaan om die huidige en toekomstige uitdagings aan te pak met ‘n positiewe gesindheid. Die maatskappy se klante sal steeds kan reken op ‘n standvastige en moderne vennoot in landboubesigheid.

Kontak mnr Ertjies Jacobs (hoofbestuurder: Strategiese Projekte, NWK) by 018 633 1000 vir verdere navrae.

Publication: November 2015

Section: Focus on

Search