• Login
  • Search Icon

Landboudebat hoogtepunt by Swartland skou

December 2014

TOIT WESSELS, ledebemarker: Kaapprovinsie, Graan SA

Die Graan SA/Nedbank/Kaap Agri/Old Mutual/Landbouweekblad Landboudebat is op Vrydag, 5 September vanjaar, tydens die Swartland skou op Moorreesburg aangebied. Die tema van hierdie debat was “Die ekonomiese vooruitsigte vir landbou in Suid-Afrika met die fokus op die implementering van die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP)”.

Sprekers wat deel gevorm het van die debat, het die volgende persone ingesluit: Prof Johann Kirsten (Departement Landbou-ekonomie, Uitbreidings en Plattelandse Ontwikkelingsgeleenthede), mnr Dave Mohr (Old Mutual Wealth) en mnr Alan Winde (provinsiale minister van Landbou en Ekonomiese Aangeleenthede).

Prof Kirsten het sy visie vir landbou in Suid-Afrika met produsente gedeel. Hy het onder andere aangevoer dat mense sal moet begin verstaan dat daar ‘n verskeidenheid van aspekte in landbou bestaan wat geïntegreerd is en wat op die ou einde ‘n stelsel vorm. Ook het hy daarop gewys dat elke aksie of verandering van een aspek, ‘n direkte of indirekte impak op ‘n ander aspek of area het. In die lig hiervan, het hy ook die noodsaaklikheid en behoefte aan sterk leierskap en beleidskoördinering beklemtoon. Wat ontwikkeling betref, is hy van mening dat dit deur kommoditeite gelei en gekoördineer moet word wat die nodige ondervinding en kennis in hierdie verband het.

Minister Winde het produsente verder toegelig oor sy verantwoordelikhede en fokuspunte in terme van die NOP. Hy voer aan dat een van die belangrikste fokuspunte op hierdie stadium ekonomiese ontwikkeling behoort te wees. Minister Winde het ‘n voorbeeld gebruik van twee fabrieke in Kaapstad wat in dieselfde area geleë is.

Tydens die stakings wat onlangs plaasgevind het, het die een fabriek se werkers vir 'n maand lank gestaak waarna die fabriek sy deure moes sluit. Die ander fabriek se werkmense het nie aan die staking deelgeneem nie en gaan voort om winsgewend te wees. Die vraag is: “Wat is die verskil tussen hierdie twee fabrieke?”

Sy uitgangspunt is dat ons meer aan arbeidsverhoudinge moet aandag gee en dat hierdie verhoudinge die maak of breek van ons bedryf kan beteken. Dit het ook ‘n direkte impak op die investering van buitelandse maatskappye. Buitelandse investeerders moet kan sê dat Suid-Afrika ‘n goeie plek is om besigheid te doen.

Ander fokusareas waarop die minister hom toespits, sluit die verwydering of die minimalisering van rompslomp (red tape) in om sodoende prosesse te vergemaklik. Hy het ook ‘n versoek aan produsente gerig om enige rompslomp-prosesse direk aan hom te rapporteer.

Verder fokus hy op die ontwikkeling van vaardighede in die provinsie asook om leerders se belangstelling in landbou te wek. Minister Winde blyk om prakties en oplossinggedrewe te wees en is goed deur produsente ontvang.

Mnr Dave Mohr van Old Mutual het aan produsente ‘n oorsig van die mark gegee. Mohr het aangevoer dat wat op die oomblik in Suid-Afrika se arbeidsmark gebeur, ‘n globale verskynsel is en dat ons nie geïsoleerd is nie, maar met die wêreld se arbeidsmarkte kompeteer.

Salarisverhogings is wêreldwyd laer en het nog nie ten volle herstel ná die 2008-resessie nie. Ontluikende markte groei ook stadiger. Suid-Afrika volg die wêreldsiklus en een van die redes waarom ons in die laaste tyd agter raak, is omdat ons hoofuitvoerprodukte, naamlik goud, platinum, ystererts en steenkool se pryse bly val. Alhoewel dit val, bly dit egter steeds redelik hoog.

Mohr het produsente verder meegedeel dat Suid-Afrika se begrotingstekorte baie hoog raak en dat daar ‘n moontlike gevaar van belastingverhogings mag wees. Daar word ook meer rentekoersverhogings verwag, maar geen skokke nie. Laastens is positiewe gesprekke tydens die debat aan die gang gesit. Produsente het verskeie vrae aan die paneel gerig wat veral op grondhervorming gefokus het asook versoeke oor hoe hul betrokke kan raak om hul werknemers te bemagtig.

Die feit dat die minister bereid was om sy selfoonnommer sowel as e-posadres aan die gehoor uit te deel, is ‘n bewys van hoe hy nader aan die produsente en publiek wat teenwoordig was, wil beweeg. Hierdie geleentheid kan as ‘n positiewe en opbouende gesprek bestempel word.

image

Publication: December 2014

Section: Relevant

Search