• Login
  • Search Icon

Laat jou liggie skyn!

December 2013

– Desember 2013

image

Beste Grootneef

Die ander aand ry ek en vroulief deur ‘n vallei van stadsliggies tussen Pretoria en Johannesburg. Ek weet nie hoekom kla Eskom so oor kraggebruik in gewone huise nie – aan elke paal op die snelweg hang ‘n tros ligte wat die donkerste koedoe agter ‘n bos sal uitbrand. As die spul net elke tweede paal se ligte afsit, spaar hul oornag al die krag wat Eskom sê hulle nie het nie. Elke kar het mos sy eie twee ligte!

Maar soos Buurman vra: Wat het die mensdom vóór kerskrag gehad? Die antwoord is natuurlik “Eskom”...As die weer mos deesdae net so effe dreun is die krag af.

Dit laat my dink aan die voortyd van nederige kerslig en paraffienlampies op die plaas. Met die grootworddae in die vlaktes was krag iets waarmee jy ‘n sak mielies opgetel het. Net die dorpenaars het met krag en “lektriek”-ligte gespog.

‘n Plaashuis het ‘n ander donkerte as die son sak sonder ‘n volmaan om die werf te verlig. Deel van die manier van doen was om die paraffienlampies voor donker uit te pak in die kombuis, badkamer, die gang af tot in die slaapkamers. Oral waar ordentlike lig moes wees. Kerse is ook in die blakers staangemaak, om lig te gee op minder opsigtelike plekke, maar waar ‘n mens tog ‘n liggie wou laat skyn.

Paraffien is aangekoop in 20 liter-drommetjies. Dié is dan op ‘n ou Volksblad staangemaak om die enkele paraffiendruppels van die vloer te hou. Paraffien is met so ‘n handpompie uit die drommetjie in ‘n bottel gepomp, waarna die lampe dan gevul is. Die pompie het gewoonlik jare gehou, maar as dit opgepak het, was die bonus in die pomp se pypie ‘n albaster wat die pompaksie aangehelp het! Ek kon nooit uitwerk hoe en wat die albaster gedoen het nie, maar die pompie het gewerk.

Kyk, paraffien was destyds ‘n lewensaar. Nie net die lampies nie, maar ook die yskas en vrieskas is daarmee aangedryf. Die yskas en vrieskas moes presies level staan en dit was soms ‘n gespook om alles waterpas te kry. Die pit moes met ‘n egalige blou vlammetjie brand. Het die eenkant geel gebrand, was iets uit balans en moes die pit dan weer netjies gelykgeknip en geskuur word om die spul lekker koud te hou. ‘n Paraffienyskas wat ontdooi, het vinnig aanleiding gegee tot huismoles. Ek kon ook nooit uitwerk hoekom ‘n warm vlam die yskas so koud kon laat word nie...

In die winter is die paraffienverwarmer “opgestart” met so ‘n ronde pit wat weer ‘n helder geel vlam gemaak het. Voor slapenstyd kon ‘n mens ‘n ketel op die verwarmer se kop laat kook vir ‘n laaste koffie. Wintersaande om die paraffienverwarmer, die honde met plat ore aan die slaap, is dikwels opgekikker met die draadloos. Om sewe uur die aand was dit nuus, daarna huisgodsdiens en dan ‘n vervolgstorie wat voorgelees is. Teen halfagt is die draadloos afgesit om ‘n laaste paar huistakies af te handel, voordat die lang gang met ‘n paraffienlampie aangedurf is op pad kooi toe.

‘n Gaslamp het eers veel later ‘n staanplek op die plaas gekry. Die helderheid daarvan ná al die jare van paraffienlampe, was ‘n groot sprong die toekoms in...Die gaslamp het egter met ‘n gesuis die naggeluide verdring en ‘n hele swerm goggas na die helder lig gelok.

Nou sit ek sommer vanaand en dink, as die dorpsmense die straatligte nog self met paraffien moes volmaak en die pitte gelyk moes knip, sou hulle nie so met “krag” gemors het nie. Die stadsliggies is dalk mooi so vir ‘n aand of wat, maar ‘n nederige lampie in die vlaktes bring baie meer sielerus en vrede.

Ou Neef, waar ons in die na-gloed van ‘n jaar van storm en drang staan, wens ek te sê “geseënd”, daar waar jy ook al vir Kersfees is.

Steek op Oukersaand ‘n lampie op vir die jaar wat verby is en vir die jaar wat kom. En om hulle te gedenk wat nie meer met ons is nie. Want net soos ‘n paraffienlampie, raak ‘n mens se lewensolie ook maar op om met ‘n laaste flikker uit te doof.

Groete op die Oosgrens

Kleinneef

Publication: December 2013

Section: E-mails

Search