• Login
  • Search Icon

Laat aanplanting van grondbone: ’n Opsie of ’n waagstuk?

December 2018

LOUREINE MULLER, grondboonagronoom, Triotrade

Die weer speel ’n groot rol in die bepaling van die plantdatum van grondbone. As daar nie vog is nie, kan daar nie geplant word nie. 

In die afgelope paar jare het die somerreën sy opwagting ál later in die seisoen gemaak. Dit is juis om dié rede dat produsente al hoe later plant – veral in Desembermaand en selfs nog later.

Daar is tans nie ’n kortgroeiseisoengrondboonkultivar beskikbaar nie. Die plantdatum vir grondbone is nog altyd vanaf 26 Oktober vir gebiede in die noorde van die land, tot nie later nie as 5 Desember vir die res van die land se aanplantings. 

Die optimale tyd van aanplanting lê tussen 10 November tot 22 November. Gedurende hierdie tyd kan die produsent daarvan seker wees dat die groeitydperk beskikbaar voldoende vir die ontwikkeling van ’n oes sal wees en dat daar uit die gevaartydperk van laat reën in Maartmaand beweeg word – om skade op geoeste grondbone te voorkom. 

Dit is egter wanneer daar uit dié planttydperk beweeg word dat produsente met uitdagings rakende swak opbrengste, sowel as swak graderings, gekonfronteer word. Die swak graderings is die resultaat van die feit dat daar te min tyd vir die gewas oor is om volwasse peule te vorm. 

Wetenskaplikes het bevind dat indien aanplantings ná 15 Desember gemaak word, die opbrengste met meer as ’n ton verlaag word. Sodra die som gemaak word, waar die potensiële opbrengs van die beplande land in ag geneem word en daardie 1 ton-verlies afgetrek word, kan ’n gevaarlike situasie ontbloot word. Produksiekoste is aan die styg en daarom kan produsente nie meer bekostig om kanse te waag wat op die ou end tot ontnugtering gaan lei nie.

Dit is raadsaam om gewasse binne bepaalde planttye aan te plant, aangesien daar jarelange navorsing gedoen is om inligting te bekom wat tot voordeel van alle produsente strek. Wees wys en plant betyds.

Publication: December 2018

Section: On farm level

Search