• Login
  • Search Icon

Kyk uit vir dié slaggate tydens grondbewerking

August 2018

MARTIENS DU PLESSIS, grondkundige, NWK

Grondbewerking is en bly een van die primêre koste-items in saai­boerdery. Die doeltreffendheid van ‘n bewerkingsaksie behoort voortdurend geëvalueer te word. Hierdie artikel poog om die aspekte van beplanning en die slaggate van verskillende bewerkings uit te lig.

Doelwitte van grondbewerking
Alvorens daar op ‘n spesifieke metode van grondbewerking besluit word, moet die doel van grondbewerking in oënskou geneem word:

  • Dit skep ‘n gunstige bogrondstruktuur vir wortelontwikkeling, lugbeweging en skep ‘n tydelike struktuur om winderosie te bekamp.
  • Dit skep tydens diep skeurploeg­bewerkings ‘n gunstige ondergrondstruktuur vir dieper wortelpenetrasie soos om grondverdigtings op te hef.
  • Dit vermeng die grond met oesreste, kalk en misstowwe.
  • Dit berei ‘n fyn en ferm saadbed voor.
  • Dit verhoog waterinfiltrasie.
  • Onkruid word beheer.
  • Plantsiektes word beheer.

Konvensionele bewerking
Vir die doel van die artikel word jaarlikse skoonbewerking en jaarlikse tandbewerkings waartydens die land algeheel bewerk word, as konvensioneel beskou.

Voor bewerking
Dit is raadsaam om vooraf die doelwitte van elke bewerking vas te stel. Een van die hoofdoelwitte van die primêre bewerking is om kompaksielae in die grond op te hef. Om dit sinvol te doen, is dit sekerlik belangrik om vas te stel of daar werklik kompaksielae is en indien wel, op watter diepte dit voorkom. 

‘n Penetrometer is die aangewese instrument om dit te meet (Foto 1) en veral om die onderkant van die verdigte sone te bepaal. Daar moet dan onder die onderste grens van kompaksie bewerk word. Profielgate kan ook ondersoek word om die dikte van verdigting vas te stel. Dit is egter ‘n uitdaging om die onderkant van die verdigte sone in ‘n profielgat met redelike akkuraatheid vas te stel. 

Die voorkoms van onkruid en hoe groot dit is, sal sekerlik die bewerkingsmetode bepaal. As dit dan een van die bewerkingsaksie se doelwitte is, moet die land gesny, geploeg of vlak met vlerkskare bewerk word. Beitelploeë en skeurploeë maak as ‘n reël nie ‘n vuil land effektief skoon nie. 

Die bogrond se voginhoud moet vooraf geverifieer word, anders breek die grond te veel groot kluite as dit te droog is. Dit veroorsaak verhoogde slytasie op beide die trekker en die implement. Dit kan bepaal word deur die grond met ‘n spitgraaf te spit. As dit gemaklik spit, is die kans goed dat die land bewerk kan word. ‘n Harde droë kors van dikker as 10 cm is ongeveer die limiet, waarna die bewerking eerder uitgestel moet word tot na ‘n bui reën.

Te nat grond moet ook eerder tyd gegun word om ‘n bietjie af te droog.

Sandgrond is gewoonlik twee dae na reën gunstig om te bewerk, terwyl leemgrond eerder drie dae moet wag. Kleigrond se vensterperiode om te bewerk is klein, omdat dit lank te nat bly en dan weer vinnig te droog is.

Tydens bewerking
Tydens bewerking moet die bewerkingsdiepte aan die hand van die doelwitdiepte gekontroleer word. In die geval van ‘n skaar- of skottelploeg kan dit maklik in die holvoor gekontroleer word. Met beitelploegbewerkings word die bewerkingsdiepte gewoonlik oorskat (Foto 2). 

‘n Steekstok met merkies op is handig om die bewerkingsdiepte te bepaal, deur die diepte in die tandvoor te meet. Onthou om eers die grond op die meetpunt gelyk te krap en effens vas te trap en dan te meet, omdat die grond tydens bewerking opgelig word en die verwysingsvlak dan hoër is. Kontroleer ook die doeltreffendheid van die bewerking deur tussen die tande met die steekstok te meet. 

Dit gebeur dikwels dat die implement slegs voortjies in die grond trek en tussen die tande niks doen nie (Foto 3). Dit gebeur omdat die tande te wyd gespasieer is. Poog om die tande 70% van die beoogde bewerkingsdiepte te spasieer. Dit verhoog die bewerking se doeltreffendheid beduidend.

Kontroleer die skare se slytasie. Skeur- en beitelploeë se skare word al korter namate dit slyt. Dit veroorsaak dat die implement al vlakker werk. 

Grond wat te droog is, begin aansienlik kluite breek. As riglyn kan meer as een of twee groot kluite (so groot soos twee hande langs mekaar) per vierkante meter as te droog beskou word. Die vorige jaar se trekkerspore begin eerste om groot kluite te breek.

Na bewerking
In skoonbewerkingstelsels word al die oesreste in die grond ingewerk. Dit lei dikwels tot korsvorming deur die seisoen heen. Korsvorming lei weer tot swak waterinfiltrasie en uiteindelik watererosie. Water wat afloop is ook vir plantproduksie verlore. Vlak skoffelbewerkings is doeltreffend om sulke oppervlaktekorse op te breek.

Diep skeurploegbewerkings kan veroorsaak dat die plantertrekker se voorwiele diep insak, wat die akkurate stuur van die trekker benadeel. Diep skeurploeg­bewerkings maak die grond aansienlik los, wat egalige plantdiepte kan beïnvloed. ‘n Vlak saadbedbewerking na die primêre bewerking is dikwels nodig om die grond fermer te kry om doeltreffend te kan plant.

Verminderde bewerking
Die konsep van verminderde bewerking
In ‘n verminderde bewerkingstelsel word gepoog om die aggressiewe en duur primêre bewerking totaal uit te skakel of minstens te verminder. Die sekondêre bewerkings word ook verminder. Kompaksie word nou een van die groot gevare van dié stelsel. Die beste manier om kompaksie te bestuur, is met behulp van ‘n spoorverkeerstelsel (Foto 4). 

Laasgenoemde konsep kan verder uitgebrei word deur die spore oor jare op dieselfde plekke te hou. Daar word nie op die spore geplant nie en daarom is dit ook nie nodig om die spore los te maak nie. Die harde spore is voordelig vir die traksie van die trekkerwiele en dit verminder rolweerstand. Dit bring mee dat die trekker makliker beweeg en derhalwe die implement makliker trek. 

Die beginsel bepaal dat al die implemente ewe wyd moet wees: So wyd soos die planter. Spuite is gewoonlik dubbeld so wyd en ry dus in elke tweede trekkerspoor. Geen landverkeer mag enige ander plek as in die bestaande spore ry nie. Dit sluit die tapkar in.

‘n Outomatiese stuurstelsel op ten minste een trekker, wat die spore uitmerk, is deel van dié stelsel se sukses. Die trekkers met die sekondêre bewerkings ry almal op dieselfde spore. Van die sekondêre bewerkings kan met chemiese bespuitings vervang word. Die gewasse se rywydtes moet saam met die stelsel beplan word.

Voor bewerking
Die verminderde bewerkingstelsel begin deur alle verdigte sones voor die tyd effektief op te breek. Dit moet vooraf presies vasgestel word – hetsy met ‘n penetrometer of in profielgate. Dit is ook raadsaam om chemiese wanbalanse reg te stel en bekalking te doen. Soos by konvensionele bewerking, moet die grond se vogstatus gekontroleer word sodat daar nie te veel groot kluite gebreek word nie.

Tydens bewerking
Lande word sodanig bewerk dat die verdigtings alles opgehef word en die kalk en ander misstowwe ingewerk word. Die land moet na dié bewerkings onkruidvry wees. Die planterspore vir die komende jare moet nou uitgemerk word, sodat sekondêre bewerkings tot en met plant, alles op dieselfde spore kan ry. 

Dit kan met slegs een trekker wat met ‘n outomatiese stuurstelsel met ‘n akkurate korreksiesein toegerus is, gedoen word. Lande kan nou óf meganies óf chemies skoongehou word. Indien die plantertrekkers almal met akkurate outomatiese stuurstelsels toegerus is, wat die ideaal is, kan hulle redelik maklik op dieselfde spore ry. Dit kan ook met die hand gestuur word – mits die spore deurgaans duidelik sigbaar is. 

Verdere skoffels, bespuitings en topbemesters ry almal op dieselfde spore. Die stroper loop gewoonlik nie op dieselfde spore nie. Omdat dit dan in die winter op droë grond ry, veroorsaak dit gewoonlik nie erge kompaksie nie en indien wel, is die kompaksie vlak en kan maklik uitgewerk word.

Die volgende jaar gebeur alles op dieselfde rye en spore. ‘n Doeltreffende plantaksie is die sleutelbestuursaspek van dié stelsel. Wortelknoetse is dikwels ‘n uitdaging tydens plant. Die een oplossing is om die ry effens te skuif sodat daar langs die vorige jaar se ry geplant word. Die ander oplossing is om die wortelknoetse meganies uit te werk en voorskoonmakers op die planter te monteer. Dit kan met ‘n beitelploeg wat met vlerkskare toegerus is, gedoen word. 

As winderosie dit toelaat, kan die lande na stroop gesny word. Met ‘n snybewerking is jy die sekerste dat daar effektief geplant sal kan word. Die res van die aksies, soos spuit en topbemesting, volg alles op dieselfde spore.

Langtermynkontrole
Kompaksie weens landverkeer wat nie op die permanente spore loop nie, bring mee dat die land dalk in die toekoms weer algeheel bewerk sal moet word. Voorbeelde hiervan is stropers, hoogloopspuite wat dwars oor rye loop, rolmoer en sny­bewerkings. Dit kan met ‘n penetrometer gekontroleer word en wanneer nodig, kan ‘n toepaslike bewerking uitgevoer word om alles weer los te hou. Bekalking en ander regstellings moet wanneer dit gedoen word, verkieslik ingesny word.

Omdat oesreste vlak ingewerk word of bo-op die grond gelaat word, kan verwag word dat siektedruk in ‘n monokultuurstelsel toeneem. Wisselbou, wat in wese aanbeveel word, word ook hier sterk aanbeveel.

Omdat die grond nie meer skoonbewerk word nie, is die onkruiddruk hoër en moet die onkruidbeheerstelsel gereeld volgens die onkruidspektrum en onkruiddruk aangepas word.

Geenbewerking
Voordat dit geïmplementeer word
Die geenbewerkingstelsel begin deur alle verdigte sones vooraf effektief op te breek. Dit moet vooraf presies vasgestel word – hetsy met ‘n penetrometer of in profielgate. Dit is ook raadsaam om chemiese wanbalanse reg te stel, bekalking te doen en behoorlik in te werk.

Die chemiese onkruidbeheerprogram moet deeglik beplan word, aangesien geen meganiese onkruidbeheer gedoen word nie. Dit moet volgens die onkruidspektrum aangepas wees.

Kompaksie is een van geenbewerkingstelsels se kritiese bestuursaspekte en verál op sand- en leemgrond, waar kompaksie in die bogrond tot swak wortelontwikkeling lei (Foto 5).

Dit word sterk aanbeveel dat die geenbewerkingstelsel, soos in die geval van die verminderde bewerkingstelsel, met permanente spoorverkeer gekombineer word. 

In sandgrond en selfs leemgrond, kan voorts oorweeg word om die planterry op die trekkerspoor uit te haal, aangesien die gewasse swak op die spoor presteer. Die onkruidbeheerstelsel moet hierdie wyer bane in ag neem, omdat onkruid geneig is om daar te gedy.

Langtermynkontrole
Grondversuring moet gereeld gekontroleer en aangespreek word. Onkruiddruk is geneig om vinnig in geenbewerkingstelsels toe te neem. Grondkompaksie moet gereeld gemoniteer word.

Wat het grondtipes met grondbewerking te make?
Grondtekstuur (sand, slik, klei) het ‘n groot invloed op grond se fisiese eienskappe. Grondbewerking beïnvloed die grond se fisiese eienskappe direk, daarom kan verwag word dat daar interaksies tussen grondbewerking en tekstuurtipes sal wees.

Sandgrond
Sandgrond is uiters gevoelig vir winderosie. Skoonbewerkingstelsels soos skaar- en skottelploeg verhoog die grond se gevoeligheid vir winderosie. Bewerkingstelsels waar die oesreste bo-op die grond gelaat word, moet by voorkeur oorweeg word.

Hoe sanderiger die grond en hoe fyner die sandfraksie, hoe makliker en dieper kompakteer dit as dit klam is (Foto 6). Kompaksie benadeel wortelgroei en waterinfiltrasie. Kompaksie moet gereeld gekontroleer word en moet in die bewerkingstelsel bestuur word. Diep skeurploegwerkings is dikwels nodig om diep verdigte lae op te breek.

Spoorverkeerstelsels moet by voorkeur toegepas word.

Leemgrond
Leemgrond is minder gevoelig vir winderosie en maak meer stabiele kluite wanneer dit geploeg word. Dit is egter meer geneig tot korsvorming in ‘n skoonbewerkingstelsel. Korsvorming lei tot uitdagings met saailingopkoms en verlaagde waterinfiltrasie – en laasgenoemde lei tot verhoogde waterafloop. Bewerkingstelsels waarin die oesreste op die grondoppervlakte gelaat word, verbeter hierdie probleme betekenisvol.

Leemgrond is ook gevoelig vir kompaksie en kompakteer besonder hard. Kompaksie moet gereeld gekontroleer word en moet in die bewerkingstelsel bestuur word. Diep skeurploegwerkings is dikwels nodig om diep verdigte lae op te breek.

Kleigrond
Kleigrond het normaalweg ‘n sterker ontwikkelde bogrondstruktuur, wat veroorsaak dat winderosie nie ‘n uitdaging is nie, behalwe as dit op die oppervlakte gedispergeer het en ‘n kors gevorm het. As ‘n reël is waterinfiltrasie betreklik stadiger, met dié dat afloop maklik voorkom. Deurdat die grond vlak met ‘n beitelploeg bewerk word, word die grond se waterinfiltrasie betekenisvol verhoog. Oesreste op die bogrond is ook hier uiters voordelig.

Spoorverkeer is selfs voordelig op kleigrond, deurdat kompaksie tot die spore beperk word en die res van die grond deurgaans uiters ontvanklik vir waterinfiltrasie bly. Diep skeurploegbewerkings verhoog die grond se hidrouliese geleiding betekenisvol en dit bly ook vir jare lank so gunstig. Wanneer permanente gewasse soos boorde op kleigrond gevestig word, word eenmalige diep skeurploegbewerkings ook aanbeveel.

Samevatting
Grondbewerking moet aan die hand van gestelde doelwitte uitgevoer word. Uiteraard is daar nadele aan elke bewerkingsmetode verbonde, met slaggate waarteen gewaak moet word. Omdat grondbewerking hoofsaaklik ‘n impak op die fisiese grondeienskappe het, is die nadele en slaggate ook van toepassing op die fisiese aspekte van die grond. 

Kompaksie, brutodigtheid, waterinfiltrasie, deurlugting, dreinering, korsvorming en vermenging van ameliorante is die belangrikste aspekte wat in gedagte gehou moet word. Die slaggate hou derhalwe ook met dié aspekte verband.

Vir meer inligting, kontak die outeur by martiens@nwk.co.za

Verwysings
Du Plessis, MJ. 2000. Grondbewerkingsmetodes – Deel 1: Voor- en nadele van skoonbewerkingstelsels. Noordwes Nuus. Julie/Augustus 2000. Lyfblad van NWK Beperk: Lichtenburg.
Du Plessis, MJ. 2013. Minder bewerkings, laer trekkrag vir volhoubare verminderde bewerking. NWK Arena. Julie/Augustus 2013. Lyfblad van NWK Beperk: Lichtenburg.

Publication: August 2018

Section: Focus on

Search