• Login
  • Search Icon

Kyk hierna: Opberging van saad op die plaas

March 2018

EDDIE GOLDSCHAGG, tegniese bestuurder, SANSOR

Saad is dié belangrikste inset wanneer gewasse geproduseer word: Die opbrengspotensiaal is in die saad opgesluit en sal uiteindelik die bepalende faktor wees van hoe groot die oes gaan wees – afhangend van die omgewingstoestande en verbouingspraktyke. 

Saadmaatskappye spesialiseer in die produksie van saad. Hulle is deeglik vertroud met al die faktore wat ‘n rol speel in die uiteindelike kwaliteit van die saad en tref alle voorsorgmaatreëls om te verseker dat die saad wat aan produsente beskikbaar gestel word, aan alle minimum kwaliteitstandaarde van die Plantverbeteringswet, 1976 en die Suid-Afrikaanse Saadsertifiseringskema, waar toepaslik, voldoen. 

Tewens, saadmaatskappye se interne kwaliteitstandaarde is gewoonlik hoër as wat deur die Wet vereis word. Elke saadlot wat verkoop word, word eers vooraf deeglik deur opgeleide monsternemers bemonster en deur geregistreerde saadtoetslaboratoria volgens internasionale prosedures en metodes ontleed. 

Wanneer saad dus by erkende saadmaatskappye aangekoop word, het die produsent die versekering dat dit saad van ‘n hoë kwaliteit is – wat daarna met die saad gebeur, is nie onder hulle beheer nie.     

Hantering van saad
Saad is ‘n lewende organisme en moet dus met die nodige sorg hanteer word – dit geld veral vir die grootsadige peulgewasse soos bone, sojabone en grondbone. 

Wanneer saad van sodanige gewasse op- en afgelaai word, moet dit versigtig hanteer word en nie neergegooi word nie – rowwe hantering sal meebring dat die saad sal split of inwendige beserings opdoen, wat dan sal lei tot abnormale saailinge wat nie in ‘n normale plant kan ontwikkel nie. 

Langlewendheid van saad
Namate sade verouder, verloor hulle geleidelik kiemkragtigheid. Sade van sommige gewasse, soos sojabone en grondbone, het ‘n baie kort lewensduur onder opberging, terwyl ander sade hul kiemkragtigheid oor langer periodes verloor. Daar kan ook merkbare verskille in die langslewendheid van saad van verskillende variëteite van dieselfde gewas wees. Slegs sade met hoë kiemkragtigheid (aanvanklike saadkwaliteit) behoort opgeberg te word. Saad van swak kwaliteit sal ‘n korter opbergingsleeftyd hê.

Daar is verskeie faktore wat die langslewendheid van saad bepaal, waarvan die twee belangrikste saadvoginhoud en temperatuur is.

Saadvoginhoud en relatiewe humiditeit
Die voginhoud van saad tydens opberging is, sonder twyfel, die belangrikste faktor wat leeftyd beïnvloed. Saadmaatskappye tref die nodige maatreëls om te verseker dat die saadvoginhoud van saad wat verkoop word, binne perke is.

Saadagteruitgang neem toe met ‘n toename in voginhoud. Volgens Harrington (1963, 1970) se reëls (rule of thumb), sal elke afname van 1% in saadvoginhoud (in die omgewing van 5% - 14%), die opbergingsleeftyd van die saad ongeveer verdubbel.

Dit is belangrik om daarop te let dat, tensy sade hermeties verseël word, hul voginhoud nie tydens opberging konstant sal bly nie. In oopstoortoestande ekwilibreer saadvoginhoud met dié van die lug en wissel dit dan na gelang lugvog wissel. Die belangrikheid van saadvoginhoud is reeds beklemtoon; ooglopend dan, hoe hoër die lugvoginhoud (relatiewe humiditeit) hoe hoër sal die saadvogpersentasie wees en hoe korter die saadleeftyd.

Relatiewe humiditeit is die hoeveelheid vog in die lug uitgedruk as ‘n persentasie van die totale hoeveelheid vog wat die lug by dieselfde temperatuur kan bevat. Sade met ‘n hoë persentasie proteïene, koolhidrate, of albei (soos sojabone, mielies en ander grane), sal vogpersentasies hê van ongeveer 13% - 15% by 25°C en 75% relatiewe humiditeit, terwyl olieryke sade soos katoen en grondbone in dieselfde toestande ‘n voginhoud van ongeveer 9% - 11% sal hê.

Temperatuur 
Temperatuur is die tweede belangrikste faktor wat opbergingsleeftyd beïnvloed. Aangesien daar ‘n noue verband tussen temperatuur en vog is, kan nie een van die twee faktore heeltemal in isolasie bespreek word nie.

In die algemeen sal opbergingsleeftyd van saad toeneem soos temperatuur afneem. Harrington (1963, 1970) het gepostuleer dat die opbergingsleeftyd van saad gehalveer word met elke 5,6°C (10°F) toename in temperatuur (in die gebied 0°C - 50°C). Koue-opberging by 0°C - 5°C sal saadleeftyd verleng mits die sade in vogdigte houers gehou word sodat saadvog konstant bly.

Indien relatiewe humiditeit saam met temperatuur beheer kan word, kan die volgende reël toegepas word: Die som van die opbergingstemperatuur in grade Fahrenheit en die relatiewe humiditeit moet nie hoër as 100 wees nie en temperatuur moet nie meer as die helfte van die som uitmaak nie. Dit beteken dat die temperatuur nie hoër as 50°F (10°C) moet wees nie en by hierdie temperatuur moet relatiewe humiditeit nie 50% oorskry nie.

Die ideaal sou wees om saad altyd in koelkamers te berg, maar uit die aard van die saak is dit nie altyd moontlik of nodig vir korttermynopberging van saad om die temperatuur en relatiewe humiditeit te beheer nie. Nieteenstaande moet alles moontlik gedoen word om hoë temperature en relatiewe humiditeit, wat die ontkieming van saad nadelig kan beïnvloed, te vermy.    

Wenke vir die opberging van saad

  • Die opbergingsarea/stoor moet ‘n soliede vloer hê. Pak die saad op palette. Met ander woorde moet dit nie direk op die vloer stapel nie. 
  • Daar moet voldoende ventilasie wees sodat hoë temperature en humiditeit voorkom kan word. 
  • Maak seker die dak lek nie – water wat op die sakke drup kan tot gevolg hê dat die saad begin ontkiem en muf.
  • Beskerm die saad teen insekte en knaagdiere – hou gereeld inspeksie en tref beheermaatreëls indien tekens van die teenwoordigheid daarvan opgemerk word. Daar kan ook voorkomend opgetree word. Indien beroking toegepas word, moet daar seker gemaak word dat die korrekte berokingsmiddels, wat nie die kiemkrag van die saad sal beïnvloed nie, gebruik word. Dit moet deur opgeleide persone teen die voorgeskrewe dosis en prosedure aangewend word.
  • Moet nie saad teenaan ander produkte soos kunsmis en chemikalieë pak nie – dit kan die kiemkragtigheid beïnvloed. Hou ‘n spasie van ten minste 1 m oop tussen saad en enigiets anders. 
  • Moet nie etikette van die houers verwyder nie en hou die houers van verskillende saadlotte en variëteite bymekaar – indien variëteite deurmekaar raak, kan dit later groot skade tot gevolg hê met byvoorbeeld die spuit van onkruiddoders. 
  • Nadat die saad geplant is, moet die etikette bewaar word tot ten minste nadat die saad geoes word – indien daar enige probleme met die saad ondervind word, sal dit dan baie makliker wees om die probleem op te volg. 
  • Indien dit vir ‘n lang tydperk gestoor is, laat die saad deur ‘n geregistreerde saadtoetslaboratorium toets voordat dit geplant word.
  • Hou die saadstoor stof- en rommelvry.

Vir meer inligting, kontak Eddie Goldschagg by seedcert@sansor.co.za.
 

Publication: March 2018

Section: Focus on

Search