• Login
  • Search Icon

Kwaliteit van produksieinsette uiters belangrik

October 2016

Why are wheat prices not trading at normal levels?

CORNÉ LOUW, senior ekonoom: Graan SA

Graan- en oliesadeprodusente spandeer jaarliks miljoene rande aan produksie-insette. Waarom wil 'n mens dan kanse vat met die kwaliteit daarvan? Graan SA onder steun deurlopend sy lede met die beslegting van inset dispute waar die kwaliteit van insette skade aan die lid se oes veroorsaak het.

Algemene wenke

Die gebruik van ongetoetste insetmiddele en die aankoop van insetmiddele by onbekende verspreiders stel produsente jaarliks aan groot risiko's bloot. Let dus op die volgende wenke wanneer insetmiddele aangekoop en gebruik word:

  • Maak seker dat die insetverskaffer 'n erkende maatskappy is met 'n bewese rekord.
  • Sorg dat alle aanbevelings sover moontlik op skrif gestel en veilig bewaar word.
  • Probeer sover moontlik rekord hou van alle aankope.
  • Gaan die kwaliteit van die insetmiddel na.
  • Saadbehandeling moet deur die saadmaatskappy self of met gesertifiseerde saadbehandelingstoerusting gedoen word.
  • Wanneer landbouchemikalieë aangekoop word:
    • Maak seker die insetmiddel is geregistreer onder Wet 36 van 1947 vir die doel van gebruik.
    • Verseker dat die maatskappy wie se insetmiddel dit is, lid van CropLife is. Maak seker dat die
    • verspreidingsmaatskappy lid van CropLife is en dat die agent gekwalifiseerd is.
    • Raadpleeg die 2016 Mielie Inligtingsgids-handleiding van die LNR-Instituut vir Graangewasse (LNR-IGG).
  • Gebruik oor die algemeen klein kontrolepersele om nuwe insetmiddele te toets alvorens dit op groot skaal gebruik word.
  • Wat Rhizobium-bakterieë betref, is dit belangrik dat slegs geregistreerde (L-registrasie onder Wet 36 van 1947) inset middele gebruik moet word. Die spesifieke produk moet ook verkieslik deur die betrokke saadmaatskappy wie se saad geplant word, aanbeveel word. Moenie nuwe produkte op groot skaal gebruik nie.

Kwaliteit

Wat moet ek doen indien kwaliteitsprobleme wel ervaar word? Wanneer probleme met die kwaliteit van 'n insetmiddel vermoed of ervaar word, moet die volgende stappe gevolg word:

  • Kontak so gou as moontlik die verteenwoordiger van wie die insetmiddel aangekoop is en dring op 'n ter plaatse ondersoek aan. Hou ook rekord van datums en gesprekke.
  • Versamel en stel soveel moontlik inligting op skrif, neem foto's of maak video-opnames om later na terug te verwys.
  • Daarna moet die volgende stappe oorweeg word indien die probleem nie opgelos is nie:
    • Tree in verbinding met 'n onafhanklike wetenskaplike om 'n ter plaatse ondersoek te doen.
    • Vir lede, stel Graan SA in kennis indien die maatskappy nie die nodige aandag en oplossings vir die betrokke probleme kan verskaf nie.
    • Moenie te lank hiermee wag nie. Hoe langer gesloer word, hoe moeiliker raak dit om te bewys dat dit kwaliteitsprobleme is wat die skade veroorsaak het.

Saad

Ingeval 'n produsent steeds vermoed dat daar probleme met die saad is wat hy geplant het – nadat die saak reeds met die verteenwoordiger en die maatskappy wat die saad verskaf het, opgeneem is – kan hy die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye kontak. Dié departement sal dan 'n handelskontrole-ondersoek doen ingevolge die Plantverbeteringswet.

Kontakpersone
Oos-Kaapse streeksverteenwoordigers: Gerald Jack (Port Elizabeth) by 041 484 2725 of Felicity Daniels (Port Elizabeth) by 041 484 2725.
Vrystaatse streeksverteenwoordiger: Zanele Buhlungu (Bloemfontein) by 051 406 0967.
Gautengse streeksverteenwoordiger: Christo Botha (Pretoria) by 012 319 6139.
Wes-Kaapse streeksverteenwoordiger: Christo Gouws (Stellenbosch) by 021 809 1709.

Produsente word aanbeveel om rekord van lotkodenommers te hou, aangesien verwysingsmonsters van alle saadlotte by die betrokke geregistreerde saadlaboratoriums waar kwaliteitskontrole uitgevoer word, vir dispuutondersoeke beskikbaar is. Tydens die aankope van saad behoort die kiemingspersentasie vir die spesifieke saadlot aangevra te word. Produsente word aangeraai om die fisiese sak waarop alle nodige naspeurbare inligting aangedui word, as verwysing te hou.

Kunsmis

Dit is uiters belangrik dat kunsmismonsters korrek geneem moet word. Kunsmismonsters om kunsmiskwaliteit te toets, moet in samewerking met die kunsmismaatskappy geneem word. Produsente word ook aangeraai om hul kunsmis onafhanklik te laat toets. Produsente kan in dié verband vir Graan SA, Fertasa of die LNR-IGG direk kontak vir die neem en ontleding van monsters om saadkwaliteit te toets. Die monsters moet geneem word volgens die voorskrifte op bladsye 62 tot 67 van die Regulasies van Wet 36 van 1947. Die Regulasies is beskikbaar op Fertasa se webwerf: http://www.fertasa. co.za/Regulations/31-65.pdf. Sou 'n produsent steeds – nadat die saak met die kunsmismaatskappy opgeneem is – vermoed dat daar probleme is met die kunsmis wat hy gekoop het, kan hy Graan SA skakel of 'n klagte direk by die Registrateur van Wet 36 van 1947 aanhangig maak.

Landbouchemikalieë

Die kwaliteit van landbouchemikalieë (aktiewe bestanddele) kan by die SABS se laboratorium laat toets word.

Kontakpersoon
Gerty Pieterse (SABS) by gerty.pieterse@sabs.co.za of 012 428 6668.

Diesel

Indien produsente vermoed dat daar probleme met dieselkwaliteit is – veral in gevalle van moontlike paraffienkontaminasie – kan hulle die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) skakel vir die monitering daarvan.

Kontakpersone
Gregory Marks (nasionale groepsbestuurder) by gmarks@sars.gov.za of 021 413 8938 of Tim La Fontaine (operasionele spesialis: Aksyns) by tlafontaine@sars.gov.za of 012 422 6919.

Produsente wat self hul diesel wil toets, kan die webtuiste www.dieseltesting.co.za besoek of 087 575 3568 skakel om die toets in strumente aan te koop.

Publication: October 2016

Section: On farm level

Search