• Login
  • Search Icon

Kortpaaie om grondboonsaad in te voer beteken enorme probleme vir die produsent

March 2014

ALANA PRETORIUS, LNR-Instituut vir Graangewasse, Potchefstroom en JOAN SADIE, registrateur: Plantverbeteringswet, Direktoraat: Plantproduksie

Produsente, grondboonfabriekeienaars, verwerkers – kortom alle persone wat deel uitmaak van die grondboonbedryf – maak staat op kwaliteit en kwantiteit om hul inkomste te bepaal. Insette en uitsette is die sleutelwoorde.

Goedkoper ingevoerde grondbone (besmet met swamme en ander kontaminante) wat ons land inkom, hetsy via skepe, in voertuie oor die landsgrense vanaf buurlande of wat ingesmokkel word op ander maniere, bring mee dat ongesiene en ongeïdentifiseerde peste en plae saam met die saad/plantmateriaal die land binnekom.

Dit sal nie dadelik sigbare moeilikheid meebring nie, maar net soos wat een kokkerot in jou kombuiskas ‘n hele kleuterskool van kokkerotjies in ‘n ommesientjie tot gevolg het, net so sal die “ongesiene” swam- of bakteriespoor of insekeiertjies binne ‘n oogwink ‘n ontploffing meebring wat produsente en die hele grondboonindustrie op hul knieë kan dwing.

Onthou, daar bly altyd genetiese materiaal in die vorm van peule en pitte in die grond agter. Dit kan nooit heeltemal verwyder word nie. So, indien hierdie peule/pitte besmet is, sal die siektes/plae ook in die grond agterbly om tydens die volgende groeiseisoen ander kultivars te besmet.

Wanneer so ‘n besmetting dus plaasvind, bestaan daar die moontlikheid dat die bedryf dalk nie gereed is om die siekte of peste te beveg nie, hetsy chemikalieë vir beheer wat nie in plek is nie en/of kultivars met weerstand/toleransie teen die siekte of peste is nog nie geteel nie.

Oorsese kultivars met weerstand/toleransie teen vreemde peste en plae bestaan dalk, maar hierdie kultivars presteer dikwels baie swak in Suid-Afrika aangesien hulle nie by ons klimaatstoestande aangepas is nie. Nou moet daar inderhaas walgegooi word.

Navorsers moet weerstandbiedende lyne invoer en kruisingsprogramme moet in werking gestel word om ‘n kultivar te teel met weerstand teen die oorsese patogene en insekrasse, maar wat ook by Suid-Afrika se klimaatstoestande aangepas is.

Invoer en permitte

Plantveiligheid en kwarantynmaatreëls verseker die veilige invoer en vervoer in Suid-Afrika van grondboonsaad of dele van ‘n grondboonplant of grondboonprodukte, hetsy of dit vir kiemplasma of kommersiële verbouings- of eetdoeleindes is.

Die doel van die permitstelsel, fitosanitêre sertifikate en kwarantynmaatreëls is om die introduksie van destruktiewe peste, siektes en onkruid uit ander lande te verhoed, terwyl die handeldryf en uitvoer van grondbone en grondboonprodukte steeds ondersteun word.

Uit- en invoere van genetiese materiaal (kiemplasma) is baie belangrik vir navorsers.

Daar is nie kortpaaie met betrekking tot die verkryging van geldige permitte en fitosanitêre sertifikate of selfs die saad nie.

Regoor die wêreld het almal nou al duidelik kennis geneem dat moeilikheid saam met skepe kan inkom. Nie eers noodwendig in plantmateriaal nie. So het die klein swart Argentynse miertjies, Linepithema humile, (eers bekend as Iridomyrmex humilis) via skepe en mense wat uit Argentinië, Uruguay, Paraguay en Brasilië by hawens aangedoen het, in Suid-Afrika, Nieu-Seeland, Japan, Australië, Hawaii, Europa en die VSA ‘n nuwe heenkome gevind.

Volgens die Prosedure vir Invoere (Dokument H van die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye [DLBV]) en ingevolge die Landbouplae en Plantverbeteringswette (www.daff.gov.za) mag slegs variëteite wat op die amptelike variëteitslys verskyn, verhandel word.

Indien variëteite ook in Tabel 8 van die Plantverbeteringswet gelys is, mag slegs saad wat in terme van die Suid-Afrikaanse Saadsertifiseringskema gesertifiseer is, verhandel word. Variëteite wat nie op die amptelike variëteitslys verskyn nie, mag slegs op persele vir eie gebruik wat by die DLBV geregistreer is, aangewend word en mag nie verhandel word nie.

Die invoerder is self verantwoordelik om enige regte ten opsigte van ingevoerde plantmateriaal te laat registreer.

Enige persoon het die reg om aansoek te doen vir ‘n permit by die DLBV vir die invoer van plantmateriaal in terme van die Landbouplaewet, 1983 (Wet Nr. 36 van 1983). Aansoekvorms en inligting is verkrygbaar by mnr Solomon Matsa (Solomonmatsa@daff.gov.za).

Indien die saad wat ingevoer gaan word, van ‘n variëteit is wat nog nie op die nasionale variëteitslys verskyn nie, moet ‘n aansoek om magtiging vir die invoer van ‘n ongelyste variëteit ook ingedien word. Aansoekvorms en inligting is verkrygbaar by me Joan Sadie (JoanS@daff.gov.za). Beide hierdie invoerpermit en -magtiging moet verkry word voordat die saad ingevoer word.

Indien ‘n nuwe variëteit geskik bevind word vir Suid-Afrika se klimaatstoestande, moet die variëteit geregistreer word op die amptelike variëteitslys voordat verkope van saad plaasvind. Inligting en aansoekvorms is verkrygbaar by Sadie. Plaaslik geproduseerde saad mag slegs in beperkte hoeveelhede verkoop word indien aansoek om magtiging hiervoor verkry is. Aansoekvorms is verkrygbaar by Sadie.

Indien die variëteit ook deur planttelersregte beskerm moet word, kan me Noluthando Netnou-Nkoana (NoluthandoN@daff.gov.za
of 012 319 6183) of me Elna de Bruyn (ElnaDB@daff.gov.za of 012 319 6096) gekontak word vir inligting en aansoekvorms.

Inbring van plantmateriaal oor die landsgrense

Alle plantmateriaal wat oor die landsgrense ingevoer word, moet by die punt van binnekoms aan die betrokke owerheidsinstansie verklaar word en moet oor die nodige invoerpermit en magtiging (indien dit saad van ‘n ongelyste variëteit is) beskik.

Kwarantynmaatreëls

Onthou, hoewel plantmateriaal kan voldoen aan die fitosanitêre invoervereistes van die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye (‘n wettige permit en fitosanitêre sertifikaat) is daar nog gevare aan die ingevoerde materiaal ver bonde.

Die huidige permitstelsel verplig die invoerder alleenlik om vir peanut stunt virus te laat toets. Die ingevoerde materiaal het dalk moontlik weerstand teen byvoorbeeld tamatiemosaïekvirus (TMV), maar sal ‘n draer kan wees van die virus.

In Suid-Afrika was TMV nog nie ‘n probleem nie, so die fokus was nog nooit uitsluitlik daarop om te teel vir weerstand teen TMV nie. Die Suid-Afrikaanse kommersiële kultivars sal val soos soldate in die Tweede Wêreldoorlog as TMV onder hulle moet uitbreek!

Dit is dan ook die rede waar om saad uit byvoorbeeld Argentinië (waar daar nou groot probleme ondervind word met infeksie deur Thecaphora frezzi, wat roetbesmetting veroorsaak), eers onder kwarantyn geplant moet word.

Dr Jorge Baldessari van INTA, Argentinië, het die LNR-Instituut vir Graangewasse (LNR-IGG) in 2013 besoek en gesê dat daar ook klaarblyklik geen weerstand daarteen is nie. Die saad wat uitgevoer word, word chemies behandel, maar ook dít kan nie verseker dat daar geen spore agterbly nie.

Die LNR-IGG is altyd bereid om in samewerking met die invoerder die saad onder kwarantyn te evalueer vir siektes en plae.

Kwarantynfase
Geen basiese tydperk van kwarantyn kan van toepassing gemaak word nie, aangesien elke individuele invoer op meriete getakseer word en die kwarantynbenadering volgens die fitosanitêre risiko daaraan verbonde bepaal word. ‘n Volledige fitosanitêre profiel van elke eenheid word op rekord geplaas en bewaar. Indien plantmateriaal nie voldoen aan kwarantynvereistes nie, kan die plantmateriaal volgens die keuse van die invoerder teruggestuur word aan die verskaffer of vernietig of gereinig word volgens spesifikasies (byvoorbeeld: Die saad word in ‘n chloor-oplossing gewas). ‘n Bron van kernplante van ingevoerde plantmateriaal moet deur die invoerder vir ‘n minimum tydperk van vyf jaar in stand gehou word.

Belangrikheid van kiemplasma

Die eienskappe van die verskillende kiemplasma-insluitings (entries) word gebruik in navorsingsprogramme om kultivars te verbeter in terme van byvoorbeeld die persentasie saadontkieming, siekte- en pesweerstand, verdraagsaamheid vir middels wat toegedien word om onkruid te beveg en die uiteindelike doel – ‘n kwaliteit opbrengs.

Beheermaatreëls

Navorsers sal probleme die hoof bied deur siekteweerstandbiedende kultivars te teel en te selekteer uit die kiemplasma en kommersiële kultivars. Nog maatreëls wat deur produsente gevolg kan word om die verspreiding van siektes en plae te beperk, sluit in onkruidverwydering, diep ploeg van grondboonreste en wisselbou. Onthou, moet nooit peulgewasse direk ná mekaar plant nie. Volg grondbone op met mielies of grasse.

Volg ook die wettige permitstelsel en verkry ‘n fitosanitêre sertifikaat vir invoere. Indien nodig, doen navraag by die LNR-IGG om die invoerder by te staan om die materiaal te evalueer.

Aanbeveling

  • Daar word voorgestel dat die permitstelsel se voorwaardes elke jaar deur die DLBV hersien moet word om peste en siektes wat oor die wêreld heen problematies raak, te kan beveg. So moet Suid-Afrika voorsiening maak dat ingevoerde grondboonsaad, veral uit Argentinië, vry is van roetbesmetting (Thecaphora frezzi). Indien dit nie gebeur nie sal Suid-Afrika definitief oor ‘n paar jaar reeds die effek van die siekte op die kwaliteit en kwantiteit van hul oeste begin waarneem. Invoerders moenie kortpaaie probeer volg om saad in te kry nie. Kry die wettige permit en fitosanitêre sertifikaat, al is die prosedure tydrowend en duur.
  • Daar behoort op die invoervorm deur die invoerder aangedui te word of die plantmateriaal alleenlik vir eie gebruik aangewend gaan word of nie.
  • Indien ‘n permit nie voorsiening maak vir die verpligte toets vir sekere siektes en plae wat voorkom in die wêrelddeel waaruit die materiaal uit verkry word nie, moet die invoerder die ongelooflike belangrike stap neem om eers die ingevoerde materiaal onder kwarantyn te laat plant deur deskundiges. Sodoende kan die materiaal vry verklaar word van destruktiewe peste en plae wat Suid-Afrika se grondboonbedryf so geweldig kan benadeel. Onthou die spreekwoord wat sê “A stitch in time saves nine”. ‘n Probleem wat vroegtydig uitgesorteer word, sal verhoed dat derduisende rande later bestee sal moet word om die siekte of plaag uit te roei en te beheer.
  • Daar moet gestreef word om ‘n inkubator-model te ontwikkel vir handeldryf- en besigheidsontwikkeling en gefasiliteerde vennootskappe met privaat sektore.
  • Navorsingsinstansies, grondboonprodusente en privaat maatskappye wat die verwerking van grondbone hanteer (vir uitvoere), moet met mekaar kommunikeer.
  • Tegnologie is globaal beskikbaar – dit moet net gebruik word.

Belangrike kontakinligting

Kontak me Joan Sadie (registrateur: Plantverbeteringswet, Direktoraat: Plant produksie) by 012 319 6034 of JoanS@daff.gov.za of Alana Pretorius by PretoriusAE@arc.agric.za.

Publication: March 2014

Section: Other Articles

Search