• Login
  • Search Icon

Koringverbouing onder droëland tel kop op

April 2013

WILLEM KILIAN EN GERRIE SAAYMAN, LNR-KLEINGRAANINSTITUUT, BETHLEHEM

Daar is die afgelope tyd baie gesprekke gevoer oor die toekoms van koringverbouing onder droëlandtoestande in die somerreënvalstreke. Koringaanplantings het drasties afgeneem oor die laaste jare as gevolg van ‘n hele reeks faktore.

Alhoewel sommige van hierdie faktore nie deur produsente beheer kan word nie, is dit tog moontlik om die risiko van koringverbouing te beperk deur die beskikbare inligting oor kultivarkeuse ten beste te gebruik.

Die Nasionale Kultivarevaluasieprogram in die somerreënvalstreek bied die ideale geleentheid om die wye spektrum van beskikbare kultivars onder die loep te neem en kultivarkeuse te baseer op wetenskaplik gefundeerde inligting.

Aanplantings word gedoen op verskeie lokaliteite, verspreid oor die vier produksiegebiede, wat drasties van mekaar verskil ten opsigte van klimaat- en grondtoestande. Die vier gebiede is die Suidwes-, Noordwes-, Sentraal- en Oos-Vrystaat. Daar word ‘n vroeë en ‘n later aanplanting op elkeen van die lokaliteite gedoen, wat die geleentheid bied om kultivars in wisselende omgewings te toets.

Die Nasionale Kultivarwerkgroep het op 13 Februarie 2013 weer eens die resultate wat gedurende 2012 ingesamel is, geëvalueer en die formele aanbevelings vir die 2013-koringseisoen bevestig. Daar is vir 2013 geen nuwe kultivars tot die lys bygevoeg nie, terwyl die kort groeier, SST 322, deur die eienaar van die aanbevelings verwyder is.

Alhoewel droogtetoestande in sommige gebiede steeds ‘n beperking geplaas het op die opbrengste wat behaal is, dui die resultate wat in die 2012-seisoen in die veldproewe ingesamel is, op ‘n veel beter jaar as die vorige twee seisoene. Saam met die ongeveer 25% verhoging in die koringprys oor die afgelope jaar, lyk die vooruitsigte vir koringaanplantings in die toekoms meer rooskleurig as in die onlangse verlede.

Die kultivarprestasie van 2012 word in die inligting wat hier volg, per gebied weergegee en oudergewoonte word die driejaar-gemiddeldes ook aangedui om besluitneming te vergemaklik.

Opbrengsresultate
Suidwes-Vrystaat
Die gemiddelde opbrengste vir die vroeë aanplantings in hierdie gebied was 1,73 ton/ha. Die resultate van die vroeë planting word in Grafiek 1 weergegee.

image

Matlabas het ‘n goeie opbrengs van net oor die 2 ton/ha gerealiseer, gevolg deur Gariep, SST 317 en PAN 3118. Laasgenoemde drie kultivars het nie statisties betekenisvol van Matlabas verskil nie.

Tien kultivars was ingesluit oor ‘n driejaar-tydperk vanaf 2010 tot 2012 (Grafiek 2). Die gemiddelde opbrengs wat verkry is, was 1,87 ton/ha. In hierdie tydperk het PAN 3120 en PAN 3118 die beste presteer (1,96 ton/ha), met ses kultivars wat nie statisties betekenisvol verskil het van die eerste twee nie.

image

Noordwes-Vrystaat
Die kultivarprestasie vir die eerste planting in die Noordwes-Vrystaat (2012) word in Grafiek 3 weergegee. PAN 3195, ‘n nuwe inskrywing in die 2012-reeks proewe, het die hoogste opbrengs gehad, gevolg deur SST 387, SST 317 en PAN 3120. Laasgenoemde drie kultivars het nie statisties betekenisvolle laer opbrengste gehad as PAN 3195 nie.

image

Die driejaar-data vir 2010 tot 2012 (Grafiek 4) dui aan dat die boonste twee kultivars, SST 387 en PAN 3120, nie betekenisvol van mekaar verskil het in opbrengs nie. Die gemiddelde opbrengs was 3,83 ton/ha.

image

Sentraal-Vrystaat
Die kultivars SST 347, PAN 3195 en SST 398 het die eerste drie plekke ingeneem in die Sentraal-Vrystaat in 2012 (Grafiek 5). Ander presteerders, wat nie statisties betekenisvol van die eerste drie verskil het nie, was SST 316, Matlabas, PAN 3161, PAN 3120, PAN 3118 en PAN 3379. Die gemiddelde opbrengs van al die kultivars in hierdie streek was 2,40 ton/ha.

image

Wat die langtermyndata vir 2010 tot 2012 betref (Grafiek 6), het Matlabas, SST 347 en PAN 3120 uitgestaan as kultivars wat in die medium termyn goed presteer. Hierdie drie kultivars het betekenisvol beter opbrengste gelewer as al die ander inskrywings in die Sentraal-Vrystaat-gebied. Die gemiddelde opbrengs van die elf kultivars wat vir die volle driejaar-tydperk in die proefreeks ingesluit is, was 1,84 ton/ha.

image

Oos-Vrystaat
Die gemiddelde opbrengs in 2012 van al die kultivars in die gebied was 4,72 ton/ha (Grafiek 7). Dit is aansienlik hoër as in 2011, toe ‘n gemiddelde opbrengs van 2,32 ton/ha behaal is. Die beste prestasie is gelewer deur PAN 3161, gevolg deur PAN 3368, SST 317 en SST 316. Laasgenoemde drie kultivars het nie statisties betekenisvol van PAN 3161 verskil nie.

image

In die medium termyn van 2010 tot 2012 (Grafiek 8), het PAN 3161 ‘n statisties beter opbrengs gehad as die ander nege kultivars wat vir hierdie tydperk in die veldproewe ingesluit is. Die gemiddelde opbrengs van al die kultivars oor die driejaar-tydperk was 3,27 ton/ha.

image

Aanbevelings
Tydens die vergadering van die Nasionale Kultivarevaluasie Werkgroep is die kultivars wat in elke spesifieke gebied aanbeveel word, ook gefinaliseer. Die amptelike aanbevelings vir kleingrane, sowel as die opsomming van die resultate wat in die 2012-seisoen behaal is, is meer breedvoering ingesluit in die 2013 Handleiding vir die produksie van kleingrane in die somerreënvalgebied van die LNR-Kleingraaninstituut.

Hierdie handleiding word gedurende die laaste week van Maart 2013 aan produsente versend en kan geraadpleeg word vir meer inligting oor algemene produksieknelpunte.

Die navorsing is moontlik gemaak deur die finansiële ondersteuning van die Wintergraantrust en die Landbounavorsingsraad.

Publication: April 2013

Section: Other Articles

Search