• Login
  • Search Icon

Koringsaadpryse vir die nuwe seisoen

March 2014

CORNÉ LOUW, ekonoom: Bedryfsdienste, Graan SA

Die koringbedryf in Suid-Afrika is onder druk. Hektare onder koring, veral in die noorde van die land, is besig om te kwyn en veral nuwe hoë-opbrengskultivars is nodig om die bedryf ‘n hupstoot te gee.

Dit is noodsaaklik om die regte koringkultivar te kies om produksierisiko in koringproduksie tot ‘n minimum te beperk. In dié artikel word die jongste saadpryse wat in die mark beskikbaar is met produsente gedeel sowel as wenke om seker te maak die beste word uit die saad geput. Dit is egter opvallend hoe min nuwe kultivars in totaal die mark betree het.

Saadpryse

Graan SA het ‘n verskeidenheid van saad- en landboumaatskappye genader om hul koringsaadpryslyste vir die 2014-seisoen in die SA Graan/Grain te publiseer (Tabel 1). Daar is egter een of twee saadmaatskappye wat ten tye van die publikasie van hierdie artikel nog nie hul koringsaadpryse kon bekend maak nie.

image image

Saadpryse (dié wat beskikbaar is) het sedert verlede jaar met gemiddeld 0,6% gestyg. Vir die noordelike produksiegebiede
het saadpryse met gemiddeld 0,5% gestyg, terwyl pryse in die Wes-Kaap met 0,9% toegeneem het.

Die inligting in Tabel 1 neem nie kortings vir vroeë bestellings en grootmaataankope in aanmerking nie. Dit is belangrik om navrae by die saadmaatskappye self te doen om te verseker dat die beste moontlike prys beding word.

Kultivarkeuse

Belangrike riglyne wat gevolg behoort te word wanneer kultivarkeuses uitgeoefen word, is die volgende:

  • Plant ‘n pakket van kultivars om risiko’s ten opsigte van agronomiese eienskappe, plaag- en siekteweerstand, valgetal en gradering te versprei.
  • Moenie ‘n staatmakerkultivar summier met ‘n nuwe en onbekende kultivar vervang nie. Plant die nuwe/onbekende kultivar eers op ‘n kleiner skaal aan en maak seker dat dit aan persoonlike vereistes voldoen.
  • Raadpleeg die LNR-Kleingraaninstituut (LNR-KGI) se handleidings vir koringverbouing en verseker dat die kultivar onafhanklik geëvalueer en volgens eienskappe wat op die plaas belangrik is, presteer. Sien ook die invoegsel in dié uitgawe van SA Graan/Grain waarin die resultate van die Nasionale Kultivarevalueringsprogram deur die LNR-KGI gepubliseer is.
  • Raadpleeg die betrokke kundiges indien inligting ontbreek of onsekerheid bestaan. Waak daarteen om ‘n ongetoetsde kultivar aan te plant.

Saadkwaliteit is uiters belangrik

Goeie kwaliteit saad verbeter die kans op die suksesvolle vestiging van die gewas en ‘n goeie oes. Koringsaad kan in drie kategorieë volgens kwaliteit ingedeel word, naamlik:

Gesertifiseerde saad
Hoëkwaliteitsaad waarvan belangrike eienskappe, soos kiemkragtigheid en suiwerheid, teen relatief streng norme deur saadmaatskappye gewaarborg word. Indien produsente probleme met gesertifiseerde saad ondervind, kan ‘n saak uitgemaak word oor wanneer ‘n eis ter sprake kom. Dié tipe saad word deur erkende saad- en landboumaatskappye verskaf.

Kommersiële saad
Hierdie is saad van aanvaarbare tot goeie kwaliteit wat aan sekere vereistes van die Plantverbeteringswet voldoen. Die kwaliteitsvereistes is egter nie so streng soos vir gesertifiseerde saad nie. In die geval van ‘n saadprobleem, sal ‘n produsent hom tot die Registrateur van die Plantverbeteringswet kan wend. Dié tipe saad word ook deur erkende saadmaatskappye en landboubesighede verskaf.

Teruggehoude saad
Teruggehoude saad is graan wat deur produsente uit die vorige oes teruggehou is om as saad in die volgende seisoen te dien. Dit is wettig, solank die graan nie as saad verkoop word nie. Produsente loop produksie- en opbergingsrisiko’s indien teruggehoude saad gebruik word. Slegs enkele van die probleme wat ondervind kan word, is byvoorbeeld die muf van saad indien dit té klam gestoor word, kalanderskade indien dit nie berook word nie en swak ontkiemingsvermoë indien dit in té warm toestande opgeberg is.

‘n Produsent het geen eis of regsgronde ten opsigte van saadkwaliteit (en die algemene prestasie van die kultivar) indien teruggehoude saad geplant word nie. Graan SA beveel dié praktyke nie aan nie. Indien saad opgeberg word, behoort die saad volgens opbergingsvoorskrifte skoongemaak, skoon en suiwer gehou, gedroog asook koel en droog opgeberg te word.

Beroking om kalanders en ander graaninsekte te beheer moet gedoen word en dit moet veilig teen rotte en muise geberg word.

Ontkiemings- en suiwerheidstoetse is ‘n vereiste voor aanplanting en die saad moet teen saadgedraagde siektes met geregistreerde plaagdoders behandel word.

Publication: March 2014

Section: Other Articles

Search