• Login
  • Search Icon

Koringkultivars vir 2018 bespreek

March 2018

DR ANNELIE BARNARD, LNR-Kleingraan, Bethlehem

Ondanks baie negatiwiteit rondom koringproduksie – veral in die droëlandgebiede van die Vrystaat – is koring steeds ‘n winsgewende gewas as dit reg bestuur word. Vra maar vir dié produsente wat hierdie jaar weer uitstekende koringopbrengste behaal het. Die regte kultivarkeuse bly daarom steeds een van die belangrikste produksiebesluite vir enige koringprodusent. 

Daar is tans ‘n magdom uitstekende kultivars om van te kies. Hoe moet ‘n produsent dan nou maak om die regte kultivar vir sy behoefte te kies? Gelukkig hoef produsente nie self al die kultivars wat beskikbaar is, te toets om inligting te bekom nie. LNR-Kleingraan plant elke jaar verskeie proewe in al die koringproduserende gebiede in Suid-Afrika om die beskikbare kultivars van al die saadmaatskappye op ‘n objektiewe en wetenskaplike manier ten opsigte van hulle opbrengspotensiaal, kwaliteit en aanpasbaarheid te evalueer. 

Hierdie program, wat die enigste van sy soort in Suid-Afrika is, staan bekend as die Nasionale Kultivarevaluasieprogram (NCEP). Daar bestaan drie afsonderlike evaluasieprogramme wat spesifieke kultivars in elk van die drie produksiestreke evalueer. 

Alhoewel LNR-Kleingraan die mandaat het om die NCEP in Suid-Afrika uit te voer, is die samewerking van ander instansies en rolspelers krities om hiervan ‘n sukses te maak. In hierdie nasionale samewerkingsooreenkoms is die Departement van Landbou, Wes-Kaap getaak om te help met die plant en instandhouding van sekere proewe in die Wes-Kaap. Ander instansies soos die Universiteit van die Vrystaat, Stellenbosch Universiteit en SABBI lewer ook ‘n belangrike bydrae met die insameling en weergee van addisionele inligting aan die kleingraanindustrie. 

Almal wat betrokke is by koringproduksie in Suid-Afrika, vergader aan die einde van elke seisoen om die data van die vorige seisoen te evalueer en te bespreek. Hierdie groep bestaan uit kundiges in die industrie en verteenwoordiges van al die saadmaatskappye, Graan SA, die Universiteit van die Vrystaat en Stellenbosch Universiteit, SANSOR, SAB Miller, die onderskeie Departemente van Landbou en ander rolspelers. Die doel van hierdie vergadering is om te verseker dat die proewe wetenskaplik uitgevoer is en dat die data objektief en korrek weergegee word. 

Die jongste kultivarevaluasievergadering is op 8 Februarie vanjaar by LNR-Kleingraan, net buite Bethlehem, gehou. Tydens hierdie vergadering word nuwe kultivars, waarvan daar minstens twee jaar se proefdata beskikbaar is en wat eersdaags kommersieel beskikbaar sal wees, ook bespreek en in die jaarlikse produksiehandleidings ingesluit. 

Behalwe vir kultivaraanbevelings, bevat hierdie handige handleidings ook inligting ten opsigte van algemene produksiepraktyke, grondbewerkingsriglyne en plantvoeding, asook die jongste inligting rondom onkruid-, siekte- en insekbeheer. 

Danksy befondsing deur die Wintergraantrust word die handleidings gratis aan alle kommersiële koringprodusente in Suid-Afrika verskaf. Aangesien produksiepraktyke en kultivaraanbevelings van streek tot streek verskil, word daar twee afsonderlike handleidings gepubliseer, naamlik een vir die somerreënvalgebied waarin beide die droëland- en besproeiingsgebiede hanteer word, sowel as ‘n aparte handleiding vir die winterreënvalgebiede. 

Hierdie handleidings is in Afrikaans en in Engels beskikbaar. Daar is ook ‘n uiters gebruikersvriendelike handleiding wat die data en aanbevelings op ‘n praktiese manier vir nuwe era-boere aanbied en dit is beskikbaar in Engels, Sotho of Xhosa.

Kyk uit vir die handleidings wat vanaf die tweede week in Maart beskikbaar sal wees. Indien jy nie so ‘n handleiding ontvang nie, kan jy LNR-Kleingraan gerus kontak (058 307 3400). Gaan kyk ook op ons webtuiste (www.arc.agric.za/arc-sgi) vir die elektroniese weergawe daarvan.

Al die inligting rondom kultivarprestasie gedurende die 2017-koringseisoen sal ook aan produsente bekend gemaak word deur middel van verskeie publikasies in die media. 

 

Publication: March 2018

Section: Focus on

Search