• Login
  • Search Icon

Koringkultivarevaluasie in die Wes-Kaap:

April 2012

Drie nuwe kultivars in 2011 vir die eerste jaar getoets

koringkultivar

WILLEM KILIAN, LNR-KLEINGRAANINSTITUUT (BETHLEHEM) EN TERRY WALSH, LNR-KLEINGRAANINSTITUUT (STELLENBOSCH)

Drie nuwe kultivars is in die 2011-produksieseisoen vir die eerste keer in die Nasionale Kultivarevaluasie program in die Wes-Kaap ingesluit. Die kultivars wat vir die eerste keer getoets was, is SST 096, Kwartel en Ratel.

Die amptelike kultivaraanbevelingslys vir die Wes-Kaap produksiegebied is deur die Nasionale Kultivarevaluasie Werkgroep goedgekeur op 9 Februarie 2012. Rolspelers wat betrokke is by kultivarontwikkeling asook deelnemers van universiteite en die Departement van Landbou het die geleentheid gehad om die resultate onder oë te neem en deel te wees van die besluite rondom kultivarkeuse vir die komende produksieseisoen.

Kultivars word slegs ingesluit in die amptelike aanbevelings wanneer daar twee jaar se toetsdata beskikbaar is. Die prestasie van die drie nuwelinge behoort deur produsente dopgehou te word aangesien hulle eersdaags waarskynlik in die gebied bemark sal word.

Soos in die verlede het die Departement van Landbou in die Wes-Kaap en die LNR-Kleingraaninstiuut (LNR-KGI) met ‘n gesamentlike poging die resultate ingesamel wat hieronder opgesom word. Proewe is aangeplant onder konvensionele produksiesisteme deur die Departement, terwyl die LNR-KGI verantwoordelik was vir die reeks proewe onder bewaringsboerderystelsels.

In die meegaande grafieke word die prestasie van die bestaande groep kultivars asook die genoemde drie nuwes, vir die 2011-seisoen weergegee. Produsente word deurentyd aangeraai om nuwe kultivars in te faseer en ook die opbrengsstabiliteit van kultivars in ag te neem. Vir hierdie doel word die drie jaar gemiddelde opbrengssyfers ook aangedui, wat ‘n direkte meting van stabiliteit oor vele lokaliteite weerspieël.

Opbrengsresultate

Swartland
In die gesamentlike resultate wat in die Swartland verkry is, het PAN 3408 die beste opbrengs gerealiseer (3,86 ton/ha), gevolg deur SST 015, PAN 3471 en Ratel, wat nie statisties van PAN 3408 verskil het nie. Die opbrengsresultate (gekombineerd) vir die 2011-seisoen word in Grafiek 1 aangedui.

Die gemiddelde opbrengs wat oor die langer termyn van drie jaar met die verskillende kultivars behaal is, is baie belangrik wanneer daar ‘n besluit gemaak word rakende die pakket van kultivars wat geplant gaan word. In Grafiek 2 word die prestasie van kultivars wat vir die volle tydperk van 2009 tot 2011 in die reeks proewe ingesluit is, weergegee.

Oor die drie jaar tydperk het PAN 3408 (3,71 ton/ha) die beste presteer, gevolg deur SST 056 en SST 015. Laasgenoemde twee kultivars het nie betekenisvol van PAN 3408 verskil nie.

image

Rûens
Uit Grafiek 3, wat die opbrengsprestasie van die kultivars in die Rûens vir die 2011-seisoen weergee, kan gesien word dat die beste opbrengs met SST 027 (4,66 ton/ha) behaal is. In die tweede en derde plekke was SST 88 en SST 087 en hierdie twee kultivars het nie statisties swakker opbrengsresultate gerealiseer as SST 027 nie.

Die prestasie van die elf kultivars wat vir die tydperk vanaf 2009 tot 2011 in die proefreekse in die Rûens ingesluit is, word in Grafiek 4 aangedui. Die kultivar wat uitstaan in dié gebied is SST 027, met ‘n gemiddelde opbrengs van 3,51 ton/ha oor die drie jaar tydperk.

SST 027 word gevolg deur SST 056, PAN 3408 en PAN 3434. Laasgenoemde kultivars het oor die drie jaar tydperk nie betekenisvol laer opbrengste as SST 027 gerealiseer nie.

image

Aanbevelings

Tydens die vergadering van die Nasionale Kultivarevaluasie Werkgroep is die kultivars wat in elke spesifieke gebied aanbeveel word, ook gefinaliseer.

In Tabelle 1 tot 3 word die aanbevole kultivars, planttye en saaidigthede vir die Wes- en Suid-Kaap aangedui. Kultivars met die nota “PTR” by, word beskerm deur Planttelersregte wat aan die eienaar van die kultivar toegestaan is.

Die opsomming van die resultate wat in die 2011-seisoen behaal is, is meer breedvoerig ingesluit in die LNR-KGI se 2012 Handleiding vir die produksie van kleingrane in die winterreënvalstreek. Hierdie handleiding word binnekort aan produsente versend en kan geraadpleeg word vir meer inligting oor algemene produksieknelpunte.

image

image

image

Hierdie navorsing is moontlik gemaak deur die finansiële ondersteuning van die Wintergraantrust en die Landbounavorsingsraad.

Publication: April 2012

Section: Input Overview

Search