• Login
  • Search Icon

Koring- en garssaadpryse vir die nuwe seisoen

March 2019

 
Corné Louw
Senior ekonoom, Graan SA
corne@grainsa.co.za

Die wintergraansaadbedryf is tans in ’n kritieke tydperk. Daar is ’n uitstekende voorteelprogram vir koring in plek en vir gars en koring is ’n teling- en tegnologieheffing nou al in sy derde jaar om telers te vergoed vir hulle aandeel in die saadmark. Produsente wag angstig vir nuwe kultivars met ’n hoër opbrengs om die mark te betree. Tot op hede is daar nog weinig nuwe kultivars in die mark vrygestel sedert die teling- en tegnologieheffing in werking getree het. 

Saad as produksie-inset vir wintergraanproduksie is nie noodwendig produsente se duurste inset nie, maar dit kan wel moontlik die belangrikste wees. Die koringbedryf in Suid-Afrika is onder druk. Hektare onder koring – veral in die noorde van die land – is besig om te kwyn en nuwe hoë-opbrengskultivars is nodig om die bedryf weer ’n hupstoot te gee.

Keuse van kultivar is belangrik om die produksierisiko tot ’n minimum te beperk. In hierdie artikel word die jongste saadpryse van koring- en garskultivars wat kommersieel in die mark beskikbaar is, met produsente gedeel, sowel as wenke om te verseker dat die beste uit die saad geput word. 

Kultivarkeuse
Belangrike riglyne om te volg wanneer kultivarkeuses uitgeoefen word, is die volgende:

  • Plant ’n pakket van kultivars om risiko’s ten opsigte van agronomiese eienskappe, plaag- en siekteweerstand, valgetal en gradering te versprei.
  • Moet nie ’n staatmakerkultivar summier met ’n nuwe en onbekende kultivar vervang nie. Plant die nuwe/onbekende kultivar eers op ’n kleiner skaal aan en maak seker dat dit aan persoonlike vereistes voldoen.
  • Raadpleeg die LNR-Kleingraan se handleidings vir wintergraanverbouing en verseker dat die kultivar onafhanklik geëvalueer is en volgens eienskappe wat op die plaas belangrik is, presteer. Sien ook die bylaag wat saam met dié uitgawe van SA Graan/Grain verskyn, waarin die resultate van die Nasionale Kultivarevaluasieprogram wat deur LNR-Kleingraan hanteer word, gepubliseer is. Raadpleeg die betrokke kundiges indien inligting ontbreek of onsekerheid bestaan. Waak daarteen om ’n ongetoetste kultivar aan te plant. 

Saadpryse
Wintergraansaadpryse vir 2019 word in Tabel 1 tot Tabel 5 aangetoon. Daar is altesaam 34 koringkultivars vir die noordelike produserende gebiede (besproeiing ingesluit) beskikbaar, terwyl daar vir die Wes-Kaap nege verskillende kultivars kommersieel beskikbaar is. Daar is elf garskultivars waaruit produsente in die Wes-Kaap kan kies. Alle maatskappye wat koring- en garssaad bemark, is genader om deel te neem aan die prysvergelykings. Kaap Agri het aangedui dat hulle nie aan die opname wil deelneem nie.

Koringsaadpryse het sedert verlede jaar op ’n gemiddelde basis met 6,5% gestyg. Sommige kultivars het tot 9,4% gestyg terwyl ander weer met soveel as 4% gedaal het. Wat interessant is, is dat koringsaad in die noordelike produksie-areas gemiddeld R367 per 25 kg-sakkie kos, terwyl saad in die Kaap R409 per 50 kg-sakkie kos. Garssaadpryse het op ’n gemiddelde basis met 4,6% gestyg. 

Die inligting in die tabelle neem nie kortings vir vroeë bestellings en grootmaataankope in aanmerking nie. Dit is belangrik om navrae by die saadmaatskappye self te doen om te verseker dat die beste moontlike prys beding word.


Publication: March 2019

Section: Saad

Search