• Login
  • Search Icon

Koppe bymekaar gesit tydens wegbreeksessies

April 2015

SA GRAAN/GRAIN REDAKSIE

Die landswye droogtetoestande het by al die wegbreeksessies van Kongres 2015 aansienlike aandag gekry. Sessies is ingelig oor die planne wat Graan SA maak om hulp aan produsente te verleen.

Ook die liggingsdifferensiaal het oudergewoonte baie aandag geniet. By die Mieliewegbreeksessie is inligting gegee oor moontlike nuwe JSE-markinstrumente wat dié kwessie dalk aansienlik kan beïnvloed.

Wintergraan

MNR ANDRIES THERON TREE AS VOORSITTER OP.

Omdraaistrategie

imageTheron gee terugvoer oor die koringbedryf se pogings om die bedryf te laat herleef. Die korttermyndoelwitte het onder meer gefokus op die minimum uitlaaiwaarborg, verlaging van minimum proteïenvlakke en verlaging van 4% tot 2% in die graaddifferensiaal. Goeie vordering is aanvanklik gemaak, maar weens probleme met die minimum uitlaaiwaarborg, was die JSE genoodsaak om die termynkontrak vir Desember 2015 onveranderd te laat.

Die mediumtermyndoelwitte wat vir einde April 2015 gestel word, sluit in die verwydering van die kultivarlys van die Wet op Landbouprodukstandaarde en die behoud daarvan onder die Wet op Plantverbeterings, differensiasie tussen ingevoerde koringgraderingsdata en hersiening van vrystellingskriteria se toleransievlakke. Totdat die bedryf konsensus oor die verskillende voorstelle kan bereik, sal die JSE die nuwe seisoen termynkontrakte lys om teen ‘n verwysingsgraad van 12% broodkoring te verhandel. Mnr Dissie Kruger (produsent van Hopetown) rig ‘n spesiale versoek dat die 1,6 mm sif in stede van die 1,8 mm sif deur die koringbedryf gebruik moet word.

Navorsing

Dr Marinda Visser (bestuurder: Bedryfsdienste, Graan SA) lig die sessie in oor ‘n ooreenkoms tussen Graan SA en die Departement van Wetenskap en Tegnologie om ‘n nasionale voorteelprogram te befonds en op die been te bring. Die Universiteit van Stellenbosch is getaak om die program te bestuur.

Tantieme op saad

Mnr Wessel Lemmer (senior ekonoom: Bedryfsdienste, Graan SA) lewer ‘n voorlegging oor die beoogde tantieme model vir oopbestuifde gewasse. Die terughouding van groot hoeveelhede saad verhoed die saadbedryf om in die koringbedryf te belê en beperk toegang tot die nuutste saadtegnologie. ‘n Tantieme model is voorgestel en die tantiemekomitee bestaan uit Graan SA, SANSOR, AgbizGrain en die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye.

Chemiese middels

Mnr Jurian Schreuder (Hopefield) lewer ‘n voorlegging rakende die koste aan chemiese middels vir produsente in die Wes-Kaap. Hoë marges tussen produsente en groothandelaars is deel van die probleem. Die sessie beveel aan dat die chemiese bedryf genooi word om gesprekke met Graan SA aan te knoop om probleme aan te spreek.

Liggingsdifferensiaal

In ‘n besprekingspunt wat mnr Hennie Visser (Piketberg) voorberei het, wys hy op ‘n ondersoek wat deur ‘n groep graanprodusente van die Wes-Kaap in samewerking met die Nasionale Landboubemarkingsraad gedoen word om die regverdigheid van die huidige graanbemarkingsisteem te ondersoek. ‘n Opname onder koringprodusente in 2014 het aan die lig gebring dat die meerderheid produsente handelaars in die fisiese mark gebruik en nie die Termynbeurs nie.


Mielies

MNR LOUW STEYTLER TREE AS VOORSITTER OP.

Uitvoerbevordering

imageMnr Jannie de Villiers (uitvoerende hoofbestuurder: Graan SA) gee ‘n oorsig van wat gedoen word om uitvoermarkte te bevorder. Só is daar in Desember 2014 ‘n ooreenkoms met China geteken en is kopers in die Midde-Ooste deur Wessel Lemmer (Graan SA) besoek. Die eerste vrag mielies is reeds aan Saoedi-Arabië gelewer. Daar word ook gefokus op uitvoere na Egipte waar daar egter haakplekke rondom GMO-produkte is.

Graan SA se uitvoerstrategie behels onder meer volhoubare groei, hoër handelswinste en diversifikasie. Die vergadering keur die strategie goed. Mnr Neels Ferreira (voormalige voorsitter van Graan SA) rig ‘n versoek dat daar ook gekyk moet word na elemente (infrastruktuur) wat mededingendheid in die wêreldmark negatief beïnvloed. De Villiers meld dat hy ‘n vergadering met die hawe-owerhede en silo-eienaars in die Durban-hawe gehad het. Hy spreek sy kommer uit oor hulle infrastruktuurplan ten opsigte van graan wat op die langtermynlys van prioriteite geplaas is.

Inligting oor mielieprodukte

‘n Mielieforumaansoek is by die Minister van Landbou, Bosbou en Visserye ingedien om statutêre inligting te verkry rondom mieliemeel wat gemaal word. Die minister het dit goedgekeur en die Mielietrust het die befondsing vir die aansoek goedgekeur. Die Suid-Afrikaanse Graan Inligtingsdiens (SAGIS) is in die proses om rekenaarstelsels in plek te kry en ook om die registrasies af te handel.

Bewaringslandbou

De Villiers meld dat die Mielietrust die Bewaringslandbouprogram finansier, terwyl die Wintergraantrust alles reiskoste befonds. Die Bewaringslandbouwerkgroep, wat verlede jaar begin is, is belangrik om dié praktyk te bevorder.

Klimaatstoestande en oesskatting

Die eerste oesskatting dui op aansienlike laer produksie vir feitlik alle graansoorte, behalwe sojabone wat min of meer met dié van verlede jaar vergelyk.

Droogtehulpplan

Die droogtehulpplan wat deur Graan SA se Bedryfsdienste-afdeling opgestel is, word aan die vergadering verduidelik. Mnr Jozeph du Plessis (Graan SA-hoofbestuurslid, Streek 2) bepleit ‘n stelsel van multirisikoversekering – soos onder meer in die VSA gebruik word. Indien daar nie multirisikoversekering beskikbaar gaan wees nie, gaan daar volgende jaar ‘n drastiese afname in aanplantings gesien word. Die vergadering besluit onder meer dat Graan SA met die regering in gesprek sal tree rondom hulp met multirisikoversekering en dat met insetverskaffers in gesprek getree word oor hulp met en uitstel van betalings.

Liggingsdifferensiaal

Teen die agtergrond van die JSE wat besluit het om nie die stelsel uit te faseer nie, is daar deur Hoofbestuur aanbeveel dat kontantmarkte in die onderskeie streke verder ontwikkel word sodat dit meer deursigtig sal wees. Mnr Derek Mathews (Graan SA-hoofbestuurslid, Streek 5) verduidelik dat die JSE ‘n nuwe produk in die mark gaan plaas, naamlik basis future trading wat sal meebring dat die basis by elke ligging vir twaalf maande vooruit verhandel kan word. Mathews is van mening dat dit gaan beteken dat besprekings rakende die liggingsdifferensiaal binnekort irrelevant sal wees. Die vergadering aanvaar Mathews se voorstelle in dié verband.

Mark en insette

Die wêreld vraag en aanbod vir mielies het rekordproduksie- en verbruiksvlakke bereik en die voorraadvlakke is baie hoog. Graan SA is besig om met Tesourie te onderhandel oor die terugeis van volle dieselkortings in plaas van net 80% waar logboeke volledig gehou is. Dit is egter nog nie so deur Tesourie aanvaar nie.


Sonneblom

MNR JOHN RANKIN TREE AS VOORSITTER OP.

Mark

imageDr Ferdi Meyer (Buro vir Voedsel- en Landboubeleid [BFAP]) het die sessie toegespreek oor ‘n studie wat hulle oor die plaaslike sonneblomwaardeketting gedoen het. Die doel was om die Suid-Afrikaanse waardeketting te evalueer en te ontleed ten einde die algehele toestand van die bedryf te bepaal. Een van die bevindinge was dat Suid-Afrika ‘n moontlike netto invoerder van sonneblomolie en -oliekoek gaan bly.

‘n Verdere doelwit van die studie was om geleenthede te identifiseer wat die bedryf kan verbeter en internasionale mededingendheid te behou. Melding is gemaak dat die persentasie olie-inhoud, soos vereis deur die JSE kontrak, beperk is tot 38%, terwyl die Suider-Afrikaanse Graanlaboratorium (SAGL) rapporteer dat ‘n gemiddelde olie-inhoud van 43% plaaslik geproduseer word.

Liggingsdifferensiaal

Rankin meld dat ‘n besluit by ‘n vorige Kongres geneem is dat die liggingsdifferensiaal afgeskaf moet word, maar dat Hoofbestuur ‘n nuwe voorstel hieroor gemaak het. Hoofbestuur versoek dat kennis geneem word dat die liggingsdifferensiaal ‘n besigheidsmodel van die JSE Safex is, maar dat die JSE besluit het om nie die stelsel uit te faseer nie; dat aanbeveel word dat kontantmarkte in die onderskeie streke verder ontwikkel word en meer deursigtig bestuur word; dat Graan SA voortgaan om die billike berekening van die liggingsdifferensiaal deur die JSE te monitor en waar nodig, met die JSE Safex vir die herberekening daarvan te skakel.

Die sessie besluit dat Hoofbestuur se aanbevelings ondersteun word.

Gradering

Me Petru Fourie (ekonoom: Bedryfsdienste, Graan SA) meld dat daar vanjaar as gevolg van die droogtetoestande aansoek gedoen kan word vir ‘n dispensasie by die gradering van sonneblom sodat sifsels onder die sif bygetel kan word as deel van die massabepaling by sonneblomsaad. In ‘n droë jaar soos vanjaar kan daar baie klein sonneblompitjies wees wat ‘n redelike bydra tot die gewig van die vrag kan maak.

Navorsing

Dr André Nel van die LNR-Instituut vir Graangewasse het terugvoer oor twee van die vernaamste gebeurtenisse wat die afgelope seisoen by sonneblom voorgekom het, gegee.

Hittekanker
Hittekanker, wat ook stamkanker genoem word, het vanjaar op die sandgrond van die Noordwes-Vrystaat voorgekom. Dit is nie 'n siekte nie, maar is ‘n beskadiging van die buitenste weefsel van die stam deur hitte. Dit kom gelukkig nie baie voor nie en daar is byna niks wat daaraan gedoen kan word nie.

Dowwe pitte
Die voorkoms van dowwe pitte gedurende die afgelope seisoen was bogemiddeld in sekere produksieareas. Die probleem het wyd kop uitgesteek, maar dit was meer opvallend in die Noordwes Provinsie, veral in die omgewing van Delareyville, Schweizer-Reneke en Migdol. Die probleem het by sonneblombasters van verskillende maatskappye voorgekom.


Grondbone

MNR FRANS MINNAAR IS DIE NUWE VOORSITTER VAN DIE WERKGROEP.

Navorsing

imageMe Loureine Salomon (LNR-Instituut vir Graangewasse) gee terugvoer oor die Elite kultivarproewe. Een van die teellyne toon uitstekende weerstand teen droogte in die Brits-gebied. Sy waarsku produsente teen proewe met ingevoerde saad aangesien nie almal aan fitosanitêre vereistes voldoen nie.

Droogtetoestande

Mnr Wandile Sihlobo (ekonoom: Bedryfsdienste, Graan SA) noem dat Graan SA besig is met gesprekke met die staat en dat inligting voortdurend aan hulle oorgedra word, wat hulle op hoogte hou rakende die huidige toestande. Plaaslike produksie kan met soveel soos 9% daal weens droogtetoestande.

Mark en insette

In ‘n oorsig van markte wys Sihlobo op verwagtinge dat huishoudelike verbruik sal toeneem wat kan lei tot ‘n verhoogde vraag na graanprodukte. Daar word ook verwag dat rentekoerse vir ‘n redelike tydperk stabiel behoort te bly.

Liggingsdifferensiaal

Teen die agtergrond van die JSE wat besluit het om nie die stelsel uit te faseer nie, is daar deur Hoofbestuur aanbeveel dat kontantmarkte in die onderskeie streke verder ontwikkel word sodat dit meer deursigtig sal wees.

Invoere

Produsente versoek inligting oor hoeveel ton grondbone en saad van die buiteland af ingevoer word, van watter lande, wat die kwaliteit daarvan is en waarvoor dit gebruik word. Die sessie besluit dat die versoek aan die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye en die Departement van Gesondheid gestuur word.


Sojabone

MNR JAN GREY TREE AS VOORSITTER OP.

Produksie/Insette

imageMnr Corné Louw (senior ekonoom: Bedryfsdienste, Graan SA) gee terugvoer oor die vordering wat gemaak word met die implementering van ‘n tantieme model vir oopbestuifde gewasse. Die voorgestelde sisteem het ten doel om die negatiewe impak teen te werk wat die terughouding van saad op investering in die saadbedryf het.

Na deeglike bespreking is besluit dat ‘n eenvoudige tantieme model ondersteun word.

Saad

Louw gee terugvoer oor die beskikbaarheid van gesertifiseerde sojaboonsaad vir die 2015/2016-produksieseisoen. Hy noem dat volgens berekeninge daar verlede jaar genoeg gesertifiseerde saad beskikbaar was vir die aanplant van 360 000 hektaar, terwyl inligting van saadmaatskappye aandui dat daar vir die komende seisoen gesertifiseerde saad vir die aanplant van 620 000 hektaar beskikbaar behoort te wees.

Kultivarkeuses

Me Annelie de Beer (LNR-Instituut vir Graangewasse) gee terugvoer oor die resultate verkry uit die jaarlikse kultivarevalueringsproewe. Uit die resultate is dit duidelik dat daar ‘n groot verskil is tussen die twee lokaliteite by Hoopstad en Migdol. Daar word versoek dat evalueringsproewe in die weste uitgebrei word.

Droogtehulpplan

Louw noem dat gegewe die uitermatige graad van droogte wat tans in die somerproduksiegebiede beleef word, Graan SA ‘n droogtehulpplan ondersoek. Voorstelle oor hoe produsente bygestaan kan word, sluit in: Belastingvrye spaarplanne vir ekstreme gevalle van droogte en waarborge vir finansiële instellings vanaf die regering in tye van rampe.

Gradering

Grey verduidelik hoe sojaboongradering tans werk en hoe die voorgestelde graderingsregulasies (dispensasie vir 2015-seisoen) gaan werk. Die voorstel is dat daar onder die 4,75 mm rondegatsif, 'n 1,8 mm gleufsif gebruik word vir die bepaling van vreemde voorwerpe en die persentasie sojabone en stukkies sojabone in die besending. Die vreemde voorwerp persentasie word vanaf 4% na 5% verhoog en gevolglik die kombinasie van vreemde voorwerpe en Sclerotinia vanaf 6% na 7%.

Voginhoud

Louw verwys na ‘n besluit by die vorige Wegbreeksessie dat die moontlikheid ondersoek word om die voginhoud van sojabone tydens lewering vanaf 13% na 14% te verhoog. Die rede vir die versoek was dat dit die stroopkapasiteit van ‘n produsent aansienlik sal verhoog en ook die risiko aan verliese tydens stroping verlaag. Gevallestudies word deur Graan SA en AgbizGrain ondersoek waar sojabone teen ‘n hoër voginhoud gelewer is en oor ‘n lang termyn veilig geberg word.

Tariefbeskerming

Louw noem dat die veevoerbedryf in 2014 aansoek by die Kommissie vir Internasionale Handelsadministrasie van Suid-Afrika (ITAC) gedoen het om die sojabooninvoertarief te verwyder. Graan SA het deur middel van goeie motivering en ondersteuning van die Departement van Handel en Nywerheid, daarin geslaag om die invoertarief vir die bedryf te behou.

Liggingsdifferensiaal

Grey noem dat Graan SA saam met die PNS dit tot dusver kon regkry om die JSE te oortuig dat sojabone nie ‘n liggingsdifferensiaal nodig het nie.

Sclerotinia

Na aanleiding van vrae oor Sclerotinia, noem dr Jan Dreyer (voorheen van die LNR-Instituut vir Graangewasse) dat die PNS die vordering in ander lande om Sclerotinia te bekamp, fyn dophou. BASF het aangedui dat daar belowende produkte in die pyplyn is wat Sclerotinia effektief kan beheer. Louw noem dat Graan SA tans probeer om ‘n konsortium vir Sclerotinia-navorsing in Suid-Afrika te vestig.

Aalwurm

Mnr Thabo van Zyl (produsent van Wesselsbron) noem dat aalwurm in die sandgronde ‘n baie groot probleem is. Daar is volgens hom geen chemiese middels vir aalwurm op sojabone geregistreer nie. Daar is ook ‘n groot behoefte aan aalwurmweerstandige kultivars.

Oesversekering

Die sessie stel vrae oor duur oesversekering op sojabone. Die bekostigbaarheid van veral haelversekering het ‘n probleem geword. Mnr Gerhard Diedericks (Santam Landbou) gee terugvoer oor die winsgewendheid van verskeringsprodukte en dui aan dat die versekeraar nuwe moontlikhede sal ondersoek.


Sorghum

MNR LOUIS CLAASSEN TREE AS VOORSITTER OP.

Biobrandstofbeleid

imageVrae word gestel of biobrandstof, volgens wet, steeds in brandstof ingemeng gaan word, en of sorghum dalk daarvoor ingevoer sal moet word. Die sessie besluit dat Graan SA ondersoek moet instel of biobrandstof steeds in brandstof ingemeng gaan word. Daar is ook onsekerheid of die fabriek op Cradock ontwikkel gaan word.

Graderingsregulasies

Me Funzani Sundani (ekonoom: Bedryfsdienste, Graan SA) gee terugvoer oor die nuwe voorgestelde graderingsregulasies vir sorghum. Sy beklemtoon dat daar ooreengekom is dat die GL-grade sal wegval en daar net twee grade, naamlik GM en GH, sal wees. ‘n Bykomende graad (GM3) wat voorsiening sal maak vir sorghum wat nie aan die spesifikasies vir die GM1- en GM2-graad voldoen nie, sal ingestel word.

Uitvoermarkte

Daar is aanduidings dat Botswana huiwerig is om sorghum van Suid-Afrika in te voer aangesien hulle graag eerder self wil produseer. Die sessie word egter ingelig dat ander Afrika-markte ‘n potensiaal vir uitvoer van tot 50 000 ton toon.

Kweleaprobleme

Aandag word gegee aan probleme wat die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye het met die voorsiening van brandstof vir beheeraksies. In sekere gevalle het produsente die brandstof gekoop vir die beheeraksie en is terugbetaal deur die departement.

Die sessie besluit dat beswaar by die departement aangeteken word dat die beheeraksies nie op standaard is nie en opgeknap moet word.

Mark en insette

Wêreldwyd is daar ‘n verwagte toename in sorghumproduksie weens veral stygings in die VSA, Australië en Argentinië. China word gesien as die grootste koper van sorghum. Plaaslik is die situasie nie so positief nie weens onlangse droogtetoestande.

SA Graan/Grain dekking van Kongres 2015
Die SA Graan/Grain redaksie bring hierdie samevatting oor vanjaar se Graan SA Kongres (soos uiteengesit op bladsy 13 tot 37) aan ons lesers en lede van die organisasie wat nie persoonlik die Kongres bygewoon het nie. Dit moet egter geensins geag word as 'n genotuleerde weergawe van Kongres of kongresverrigtinge nie, aangesien laasgenoemde in die amptelike notule weergegee word.

Publication: April 2015

Section: Special feedback

Search