• Login
  • Search Icon

Kongresgangers sê hul sê – Deel 1

July 2017

DR DIRK STRYDOM, bestuurder: Graanekonomie en Bemarking, Graan SA

In Maart vanjaar is daar weer by Graan SA se Kongres gebruik gemaak van elektroniese stemapparate. Dit het elke afgevaardigde die geleentheid gebied om sy stem te laat tel, maar ook om ‘n gevoel te kry van hoe die graanomgewing lyk.

Kongres het ‘n vol program en dié tegnologie bied aan afgevaardigdes die geleentheid om deel te neem en hul opinies te laat hoor. Die inligting word nie net by Kongres gebruik nie, maar is vir die bestuur van die organisasie ook belangrik in terme van strategiese beplanning en sluit ook by die tema van Kongres, naamlik “‘n goeie roetekaart”, aan.

‘n Paar interessante feite en tendense
Die meerderheid van die afgevaardigdes (Grafiek 1) was vanaf die Vrystaat (41%) en Noordwes Provinsie (23%). Alhoewel Mpumalanga ‘n belangrike produksiestreek is, was slegs 13% van die afgevaardigdes van daar.

‘n Baie interessante tendens hierdie jaar was dat ‘n groot aantal jonger produsente Kongres bygewoon het (Grafiek 2) – wat aandui dat jongmense wel nog in georganiseerde landbou belangstel. Graan SA sien uit daarna om in die toekoms die jong leiers spesifiek by Graan SA te verwelkom. In 2016 was slegs 77,1% jonger as 55 jaar. Dit het egter in 2017 verhoog na 81,6%.

In terme van die drie belangrikste strategiese temas, naamlik winsgewendheid, mense en planeet (Grafiek 3) het die afgevaardigdes bevestig dat die belangrikste oorweging om volhoubaar in graanproduksie is om winsgewend te wees. Die meerderheid van die afgevaardigdes (92%) gee dit op ‘n skaal van belangrikheid ‘n tien uit tien. Die natuurlike hulpbronne, naamlik die planeet, was ook belangrik en die meerderheid (85%) het dit ‘n punt van nege uit tien gegee wat volhoubaarheid betref.

Om meer spesifiek op winsgewendheid te fokus, was die mees belangrike veranderlikes volgens Kongres produktiwiteit, inligting en navorsing (Grafiek 4). Dit is ook die areas waarop Graan SA tans verskerpte strategiese fokus het en waar ons projekte en hulpbronne aanwend, soos:

  • Bewaringslandbou, navorsingsproewe, kultivar en tegnologie-agent (eindpunttantieme);
  • statutêre verslagdoening oor invoere en uitvoere, markinligting, toewyding van handelaarsverslae; en
  • navorsingskoördinering en konsortiums.

Wat die mense-afdeling betref, het Graan SA die afgelope drie jaar baie tyd aan herstrukturering en die vestiging van eenheid binne Graan SA, maar ook binne die hele landbou-omgewing, spandeer. Dit is by Kongres weer eens bevestig dat die afgevaardigdes dít, sowel as landbou se beeld, as prioriteit beskou. Dit was interessant om te sien dat die drie fokusareas prioriteitsgewys wel baie naby aan mekaar is (Grafiek 5).

Produsente weet baie goed hoe belangrik natuurlike hulpbronne vir enige boerdery is en die afgevaardigdes het baie sterk aangedui dat water ‘n prioriteit bly, met 91% van Kongres wat water ‘n tien uit tien gegee het. Die afgelope droogtes het net weer die fokus op die onontbeerlikheid van dié kosbare hulpbron geplaas.

Wat wel kommerwekkend was, is die feit dat slegs 39% van die afgevaardigdes hul opbrengs meet teenoor 1 mm reën ontvang. Hopelik kan die nuwe Graan SA-toep produsente die geleentheid bied om dit makliker te meet.

In terme van ander fokusareas was daar die volgende interessante, dog belangrike aanduidings:

  • Produsente het baie sterk aangedui (90%) dat GMO-tegnologie wat ingevoer word, ook vir plaaslike produksie beskikbaar moet wees. Voorts het produsente aangedui dat GMO-tegnologie uiters belangrik is vir voedselsekerheid.
  • Daar was ook ‘n baie sterk aanduiding dat die koring-, gars-, grondbone en sorghum graderingsregulasies wel moet verander: Onderskeidelik 92%, 82%, 75% en 69% van die afgevaardigdes het so gevoel.
  • Kongres het oor die algemeen aangedui dat hulle die beginsel van grondhervorming binne die bestek van die Grondwet ondersteun.
  • Kongres het ook aangedui dat die regering se ondersteuning nodig is in terme van gewasversekering, die befondsing van navorsing en ondersteuningsmaatreëls in terme van finansiering.
  • Meer as 90% van die kongresafgevaardigdes het aangedui dat die titelakte die belangrikste item is met die oog daarop om gewasversekering uit te neem.

Dit is slegs ‘n klein deeltjie van die terugvoer rakende die strategiese en regulatoriese vrae wat by Kongres gevra is. Dit is belangrik om aan elke afgevaardigde die geleentheid te bied om leiding en terugvoer aan Graan SA te voorsien. Hierdie inligting word deur die leiers van die organisasie aangewend om ‘n volhoubare graanindustrie te laat realiseer en dit in stand te hou.

‘n Opvolgartikel in die Augustus-uitgawe sal meer terugvoer bied oor die finansiële vrae wat by Kongres gevra is. Graan SA bedank elke produsent wat aan hierdie belangrike proses deelgeneem het.

Publication: July 2017

Section: Grain SA

Search