• Login
  • Search Icon

Kongres 2015 beklemtoon volhoubare graanproduksie gedurende grondhervorming

April 2015

ALZENA GOMES, skakelbeampte, Graan SA en foto's: JOANIE SCHEEPERS, JEANÉ MEYER en ESTIE DE VILLIERS, SA Graan/Grain redaksie

image

Graan SA-lede, regeringsamptenare, landbourolspelers en ander belanghebbendes het op 4 en 5 Maart by NAMPO Park byeengekom vir die jaarlikse Graan SA Kongres. Die tema “Volhoubare graanproduksie tydens grondhervorming” het van meet af aan beloof om belangrike gesprekspunte uit te lig en lewendige debatte aan te moedig.

Die Kongresagenda het onder meer die Minister van Landbou, Bosbou en Visserye, mnr Senzeni Zokwana, as hoofspreker ingesluit sowel as ‘n insiggewende voorlegging deur mnr Kip Tom (besturende lid van Tom Plase LLC, Indiana, VSA).

Die agenda het bykomend gefokus op die versoening van die Na sio nale Ontwikkelingsplan en voedselsekerheid sowel as ‘n navorsingsfokus vir die graan- en oliesadebedrywe vir volhoubare pro duksie. Ter aansluiting hierby, is die praktiese implementering van grondhervorming ook breedvoerig bespreek.

In die oudiovisuele voorsittersverslag het mnr Louw Steytler (voorsitter: Graan SA) en mnr Jannie de Villiers (uitvoerende hoofbestuurder: Graan SA) die hoogtepunte van die voorafgaande jaar uitgelig, die strategiese fokus van die organisasie vir die komende jaar bevestig en produsente verseker dat Graan SA, as gevolg van droogtetoestande in die komende jaar, hulle volle gewig sal ingooi om ons produsente deur hierdie moeilike tyd te dra. Die oudiovisuele verslag het verder aan lede ‘n blik agter die skerms gegee op die organisasie se werksaamhede in die verskeie afdelings. Die video is ook beskikbaar op die Graan SA-webtuiste.

Minister Zokwana bevestig dat droogte se impak prioriteite verander

In sy toespraak het minister Zokwana sy verbintenis tot die Suid-Afrikaanse graanbedryf sowel as die regering se bereidwilligheid om saam met georganiseerde landbou volhoubare graanproduksie te verseker, bevestig en het produsente vers verseker dat nuwe markte vir hul produkte verkry sal word, ten spyte van die huidige droogtetoestande.

Die minister het verder klem gelê op die aanwending van tyd en hulpbronne om volhoubare produksie te handhaaf en het ‘n beroep op alle belanghebbendes in die waardeketting gedoen om insette te lewer en ondersteuning te gee om ‘n ramp – nie net vir die produsente nie, maar vir die hele sektor – te voorkom.

‘n Staande applous vir die minister is voorafgegaan deur sy beroep op die Graantrusts om hul vennootskappe met Graan SA voort te sit, om sodoende volhoubaarheid in landbou se oorgangstyd te verseker na hy afgevaardigdes die versekering gegee het dat die Departement baie naby aan ‘n deurbraak is om die probleme van nuwe era kommersiële boere, wat sukkel om finansiering te bekom, op te los.

Volhoubare graanproduksie tydens grondhervorming

Mnr Kip Tom het tydens sy voorlegging die datawetenskap waarmee hy besig is aangespreek om sodoende klem te plaas op maniere om die produktiwiteit in ons sektor en in Suid-Afrika te bevorder. Tom was beïndruk deur die waarneembare passie van Suid-Afrikaanse produsente en wou graag sy kennis deel oor hoe datawetenskap ‘n rol in die produsent se besigheid speel om volhoubaarheid te verseker, die omgewing te bewaar, verhoogde produktiwiteit te bewerkstelling en om seker te maak elkeen doen sy deel om 'n alewig groeiende globale populasie te voed – 9,3 miljard teen 2050 om presies te wees – en dit met dieselfde natuurlike hulpbronne, soos grond en water, wat vandag tot ons beskikking is.

Tom het ter afsluiting nie net klem gelê op die versameling van data nie, maar ook die analisering daarvan sodat insig in die data verkry kan word en dienooreenkomstige voorstelle gemaak kan word wat lei tot die stabiliteit om te eksperimenteer en beperkte kanse ten volle te benut.

Voedselsekerheid en volhoubare produksie

Die eerste paneelbespreking, gelei deur mnr Max du Preez (skrywer, joernalis en analis) het hom ten doel gestel om oplossings te oorweeg om volhoubare produksie te bewerkstellig tesame met voedselsekerheid vir Suid-Afrika.

Die paneel het bestaan uit mnr Roelf Meyer (direkteur: In Transformasie inisiatief), brigadier-generaal John Gibbs (KwaZulu-Natal melkboer, wetenskaplike en lid van die SANW reserwemag) en dr Marinda Visser (bestuurder: Bedryfsdienste, Graan SA).

  1. In ooreenstemming met die tema het Meyer klem gelê op hulle doelwit om verskillende sienswyses nader aan mekaar te bring en om te verseker dat gemeenskaplikhede op die pad vorentoe gevind word om sodoende die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP) prakties te laat werk. Gibbs het afgesluit deur die idee van ‘n tipe “oorlogskamer” vas te stel. Dit sal verseker dat alle betrokkenes (insluitende relevante regeringsbelanghebbendes, die private sektor en veral die boeregemeenskap) bymekaarkom om probleme aan te spreek om die gaping deur dialoog te sluit om sodoende vorentoe te beweeg op ‘n wedersydse en gemeenskaplike basis.

Dr Visser het ‘n oorsig van die graanproduksieplan aan Kongres voorgelê – ‘n bloudruk vir landbou se toekoms oor die volgende vyf jaar en het verder beklemtoon dat navorsing en ontwikkeling slegs sal slaag in samewerking met die regering.

Graan SA het in die laaste drie jaar verhoudings gebou met sleutel strategiese regeringsvennote en is deel van ‘n formele forum wat kwartaalliks byeenkom om kwessies en gemeenskaplike belange te bespreek, wat Graan SA ook die geleentheid gebied het om insette te lewer in sleutelkommoditeitsdokumente en -beleide.

Praktiese implementering van grondhervorming

Die tweede kongresbespreking, geopen met ‘n voorlegging deur mnr Japie Grobler (voorsitter: Agri Sektor Eenheidsforum [ASUF]) het die praktiese implementering van grondhervorming gedek. Tydens die aanbieding van ‘n werksdokument, het Grobler klem gelê op die belangrikheid van suksesvolle grondhervorming binne die konteks van die handhawing van die produktiewe kapasiteit van die land, die instandhouding van binnelandse voedselsekerheid, die vermoë om minderbevoorregte buurlande te ondersteun en waardevolle buitelandse valuta deur uitvoere te verdien.

Die paneel het bestaan uit mnre Schalk Pienaar (voorsitter: Agbiz), Andrew Makenete (direkteur: Manama Hole en Musa Capital) en Ralph Swart (eienaar: Swart Boerdery en die 2014 Nuwe Era Kommersiële Boer van die Jaar).

Pienaar het bevestig dat grondhervorming (en by definisie die finansiering daarvan) slegs suksesvol sal wees as die ware doelwit daarvan is om volhoubare, lewensvatbare en ekonomiese voedselproduksie te verseker, wat beaam is deur Ralph Swart se bevestiging dat grond eienaarskap die grootste probleem regdeur die land is, te saam met boerdery wat volhoubaar moet wees.

Mnr Andrew Makenete het verder praktiese voorstelle vir grondhervorming bespreek en aangedui dat grondhervorming in Suid-Afrika ‘n gebalanseerde siening benodig. Hy het verder die belangrikheid van die landbousektor beklemtoon en het afgevaardigdes verseker dat almal deur die proses ontnugter is as gevolg van die stadige pas aan die een kant en onsekerheid aan die ander – en alhoewel baie geld reeds spandeer is, is dit nie goed bestee nie.

In sy toespraak het Makenete verskeie voorstelle en opsies bespreek en tot die konklusie gekom dat daar beslis ‘n nuwe benadering tot grondhervorming benodig word, aangesien navorsing aandui dat grondplafonne in die algemeen nie ‘n goeie idee is nie. Makenete het verder beklemtoon dat internasionale beste praktyke beduidend toon in die guns van familieplase wat beter werk as dié van korporatiewe plase, en wie se saak bepleit moet word.

‘n Eerste in die industrie – Momentum Finansiële Welstand vir Graan SA-lede en hul plaaswerkers

In ‘n eerste vir die landboubedryf, het Graan SA ook ‘n finansiële welstandsproduk vir sy lede en hul plaaswerkers bekend gestel, in ‘n opwindende nuwe strategiese vennootskap met Momentum. Lees gerus op bladsy 22 meer oor dié vennootskap.

Die pad vorentoe

Kongres se vertroue in die Graan SA-bestuur is weer bevestig met die herverkiesing van die voorsitter, mnr Louw Steytler, sowel as beide visevoorsitters, mnre Andries Theron en Victor Mongoato in hul onderskeie ampte.

Graan SA bedank alle rolspelers, borge en vennote wat bygedra het tot ‘n uiters suksesvolle 2015 Kongres. Ons sien uit daarna om in die komende jaar hande te vat om ‘n verskil in georganiseerde landbou teweeg te bring en ‘n positiewe en sinvolle bydrae te lewer tot voedselsekerheid in ons mooie land.

image

Afgevaardigdes en gaste

image

image

image

Minister van Landbou, Bosbou en Visserye besoek Kongres

image

Paneelbespreking tydens Kongres

image

Dankie, ons waardeer julle!

image

Publication: April 2015

Section: Special feedback

Search