• Login
  • Search Icon

KLIMAATSLIM-LANDBOU is sleutel tot voedselsekerheid

August 2018

ELIZABETH BOTHA, SA Graan/Grain medewerker

Alles moet in die stryd gewerp word om voedselsekerheid in Suid-Afrika deur klimaatslim-landbou te promoveer en só ekonomiese groei te bevorder, aldus dr Brylyne Chitsunge, die Pan-Afrika Parlement se ambassadeur vir voedselsekerheid.

Die kollig het tydens die Nasionale Voedselsekerheidsrondetafel, wat op 23 Maart vanjaar deur die Pan-Afrika Parlement in Midrand gehou is, skerp op die bevordering van voedselsekerheid geval.

Dr Chitsunge het die Nasionale Voedselsekerheidsinisiatief, in vennootskap met die Suid-Afrikaanse Departement van Landbou, Bosbou en Visserye (DAFF), gefasiliteer. Die hoofdoel van dié inisiatief is om ‘n wye reeks aandeelhouers in die landbousektor bymekaar te bring om strategieë te bespreek wat op voedselsekerheid in Suid-Afrika kan fokus. Mnr Senzeni Zokwana, Minister van Landbou, Bosbou en Visserye, sê dit is uiters toepaslik om in die jaar van wyle oudpresident Nelson Mandela se 100ste verjaardag op dié merkwaardige seun van die grond se nalatenskap te fokus. 

“Mnr Mandela het in sy eerste Staatsrede in 1994 die regering verbind tot ‘n samelewing van vryheid, wat almal saambind in die stryd teen gierigheid, honger, ontneming, onkunde, onderdrukking en vrees. Die regering is steeds volkome verbind tot dié belofte en die nastrewe van voedselsekerheid,” sê hy. 

Die Afrika-unie het ‘n visie vir die kontinent aangeneem wat bekend staan as Agenda 2063, wat gefokus is op die tema “Die Afrika wat ons wil sien”. 

Zokwana sê landbou-ontwikkeling is die sleutel daartoe om mense uit armoede te verlos en nasionale ekonomiese groei aan te moedig. “Sowat 40% van Suid-Afrika se minderbevoorregtes woon in landelike gebiede en is vir hul oorlewing van die grond afhanklik. ‘n Gebrek aan voedselsekerheid is egter nie tot landelike gemeenskappe beperk nie; dit het inteendeel skerp in stedelike gebiede toegeneem vanweë die hoë vlakke van migrasie van mense na stede, wat op soek is na werk en ‘n beter lewe.

“Een van die grootste redes waarom die meeste huishoudings in Suid-Afrika nie voedselsekerheid geniet nie, is omdat mense netto verbruikers van gekoopte voedsel is in plaas daarvan dat hul produseerders daarvan is. Dit bring mee dat huishoudings met ‘n tekort aan kontantvloei onvoldoende toegang tot voedsel het.

“Die regering wil dié tendens omswaai met behulp van die Fetsa Tlala Inisiatief en arm mense se menswaardigheid herstel deur middel van ondersteuning aan kleinboere ten einde voldoende voedsel te produseer om aan die basiese voedingsbehoeftes van arm mense te voldoen,” verduidelik hy.

Zokwana beklemtoon dat groter samewerking en vennootskappe tussen alle rolspelers in die landboubedryf nodig is om ‘n nalatenskap van voorspoed en voedselsekerheid in Suid-Afrika te skep.

Statistieke Suid-Afrika het onlangs aangekondig dat die ekonomie, na twee agtereenvolgende kwartale waarin ‘n afname beleef is, in die tweede kwartaal van 2017 ‘n hupstoot gekry het vanweë 33,6% groei in die landbousektor, wat 0,7% tot die bruto binnelandse produk bygedra het.

Zokwana meen dié syfer kan egter nog hoër wees en dat die landbousektor ‘n betekenisvolle bydrae tot ekonomiese groei en verhoogde werkskepping kan lewer.

“Die landbousektor het die meeste potensiaal om ekonomiese groei, werkskepping, die uitwissing van armoede en die vermindering van inkomste-ongelykheid te dryf. Ons moet daarom almal saamwerk om ‘n verenigde en getransformeerde landbousektor te skep wat voedselsekerheid en ekonomiese voorspoed verseker,” sê hy. Mnr Mooketsa Ramasodi, toe waarnemende direkteur-generaal van DAFF, meen klimaatslim-landbou is die sleutel tot die bevordering van voedselsekerheid in Suid-Afrika.

Die Voedsel- en Landbou-organisasie (FAO) van die Verenigde Nasies het klimaatslim-landbou gedefinieer as produksiestelsels wat produktiwiteit en veerkragtigheid (aanpassing) volhoubaar verbeter, kweekhuisgasse verminder en nasionale voedselsekerheid vooruitneem.

Ramasodi sê klimaatslim-landbou is deel van die Suid-Afrikaanse nasionale vlagskipprogram wat deur bewese praktiese tegnieke geïmplementeer word en toegepas word deur middel van programme wat volhoubare landbou bevorder, soos waterbewaringstegnologie wat die biodiversiteit van grond, water en voedingstowwe in ag neem. 

Dit sluit bewaringslandbou in, wat gebaseer is op die beginsels van minimum- of geenbewerking, die bedekking van grond deur ‘n deklaag, ‘n tussenverbouingsprogram en die rotasie van gewasse; geïntegreerde grondvrugbaarheid, onkruid-, pes- en siektebestuur en die opvang van reënwater; geïntegreerde gewas- en lewendehawebestuur, agrobosbou, agro-ekologie, verbeterde weiding en beter waterbestuur.

DAFF het die Nasionale Klimaatslim-landbou Strategiese Raamwerk ontwikkel om leiding te gee met die implementering van klimaatslim-landbou. Verskeie gesamentlike navorsings- en ander projekte is ook deur DAFF, die Landbounavorsingsraad (LNR), die georganiseerde landbou, produsente-organisasies, navorsings- en akademiese instellings, nie-regeringsorganisasies en ander tersaaklike rolspelers aangepak.

Ramasodi noem dat klimaatslim-landbou noodsaaklik is omdat natuurrampe soos droogtes en vloede in Suid-Afrika en wêreldwyd toeneem. “Dié rampe en uiterste weerstoestande bedreig die produktiwiteit van landbou, wat tot meer armoede en ondervoeding lei. 

“Wetenskaplike navorsing dui daarop dat die Suid-Afrikaanse landbousektor ‘n reuse-impak met betrekking tot klimaatsverandering in vooruitsig het. Dié situasie het verreikende gevolge vir samelewings, handel, werkskepping en voedselsekerheid.”

Hy beklemtoon dat boerderygemeenskappe – veral in landelike gebiede en kleinboere – uiters weerloos is teen die impak van klimaatsverandering. “Klimaatslim-landboupraktyke kan die risiko’s wat kleinboere bedreig verminder en verligting bring vir die uitwerking van uiterste weerstoestande.

“Hoewel veerkragtigheid uiters belangrik is, is klimaatslim-landbou meer omvattend. Dit vereis groter innovasie en pro-aktiewe optrede om die manier waarop geboer word te verander en só aan te pas dat dit produktiwiteit en voedselsekerheid volhoubaar sal verbeter,” het hy gesê.

Publication: August 2018

Section: Relevant

Search