• Login
  • Search Icon

Klem op enstowwe - koue ketting bestuur

March 2013

DR JOHAN CLOETE, MSD ANIMAL HEALTH

Dit is Vrydagoggend, jy is in die dorp besig met die einde van die week se inkopies voordat jy die kinders by die skool gaan oplaai. Op die inkopielys staan roomys.

Wanneer koop jy die roomys?

  • 10:00?
  • Die laaste taak voor jy die kinders oplaai?
  • Nadat die kinders opgelaai is, op pad huis toe?

Hoe gaan jy die roomys huis toe vervoer?

  • Verpak in ‘n plastieksak van die supermark?
  • Verpak in ‘n geïsoleerde koelsak?
  • Verpak in ‘n geïsoleerde koelsak met ‘n gevriesde yspak binne?

By die huis aangekom, gaan jy

  • eers ‘n koppie koffie geniet, vir die kinders iets te ete gee en dan die motor afpak?
  • dadelik die roomys in die vrieskas bêre?

Ooglopende antwoorde met ooglopende gevolge indien die verkeerde besluit geneem word...Gesmelte roomys!

Ons almal weet wat gebeur as roomys eers gesmelt het en dan teruggeplaas word in die vrieskas: Dit is nooit weer dieselfde nie. Die roomys vries weer, maar die kwaliteit is geaffekteer. ‘n Laag klewerige ys vorm op die bodem, met minder smaakvolle “roomys” bo-op.

Wat het die koop van roomys nou te doen met entstowwe en die bestuur van die koue ketting? Die algemene logika wat toegepas word om jou roomys gevries by die huis aan te bring, is juis ook goeie “bestuur van die koue ketting”!

Entstowwe is temperatuursensitiewe produkte wat met dieselfde sorg as roomys vervoer moet word. Die potensiële finansiële gevolge indien die koue ketting tydens die vervoer van entstowwe geïgnoreer word, is egter baie meer ernstig as om skade te kry met ‘n bak roomys.

‘n Breuk in die entstof se koue ketting word ongelukkig nie so maklik gesien as by ‘n bak hervriesde roomys nie. Die gevolg is egter ‘n entstof wat oneffektief is om die geïmmuniseerde dier te beskerm (immuniseer) teen die siekte wat deur die entstof geteiken word.

Aangesien ons met kuddes/troppe vee boer, kan die immunisering met ‘n bottel entstof wat deur ‘n breuk in die koue ketting oneffektief gemaak is, 20 tot 100 diere onbeskerm laat. In so ‘n geval kan die impak van siekte ernstige gevolge hê in verlore produksie of dooie diere.

Jou besigheid en bron van inkomste is blootgestel aan risiko.

Koue ketting bestuur is slegs so goed soos die swakste skakel in die proses om die entstof van die plek van vervaardiging regdeur tot by die toediening aan die dier te kry. Indien die koue ketting op enige tydstip van hierdie roete verbreek word, is die skade wat aan die entstof verrig word, onherroeplik – net soos by hervriesde roomys.

Kritieke kontrolepunte vir die koue ketting bestuur van entstowwe op die plaas

  • Koop slegs entstowwe wat by die Registrateur van Wet 36 van 1947 geregistreer is (Herkenbaar deur ‘n “G” nommer, byvoorbeeld G2643)
  • Maak seker geregistreerde entstowwe is geëvalueer vir veiligheid en doeltreffendheid en die vervaardiger voldoen aan die vereistes van entstofvervaardiging.
  • ‘n Entstofvervaardiger van geregistreerde produkte sal voldoen aan die vereistes van koue ketting bestuur.
  • Koop entstowwe slegs by ‘n betroubare verspreider (veearts, koöperasie, veeartsenyverspreider) wat die koue ketting in stand hou.
  • Vervoer entstowwe altyd in ‘n geïsoleerde houer met voldoende yspakke om die gewenste temperatuur tot by die eindbestemming te behou.
  • Hou die entstowwe op die plaas in ‘n betroubare yskas.
  • Kontroleer die yskastemperatuur daagliks met ‘n minimum/maksimum termometer. Temperatuurvlakke van 4°C - 8°C moet gehandhaaf word.
  • Moenie entstowwe vries nie.
  • Sorg vir ‘n gebeurlikheidsplan indien die yskas breek of in geval van ‘n lang kragonderbreking (voldoende koelsakspasie en gevriesde yspakke).
  • Vervoer entstowwe in ‘n geïsoleerde houer met voldoende yspakke na die plek waar diere geïmmuniseer gaan word en hou die entstowwe in die houer.
  • Hou die entstof uit die son.
  • Hersaamgestelde lewende entstowwe moet binne 30 minute toegedien word.
  • Hersaamgestelde entstowwe kan nie in ‘n yskas gebêre word vir latere gebruik nie. Die entstof sal nie meer doeltreffend wees nie.
  • Raadpleeg altyd die entstof se voubiljet vir die korrekte inligting oor berging, hantering, dosis, roete van toediening en moontlike voorsorgmaatreëls.
  • Moet nooit entstowwe wat verval het, gebruik nie.

MSD Dieregesondheid goed gekeurde entstofverspreiders

MSD Dieregesondheid het as markleiers in die voorsiening van entstowwe aan die vee-industrie, die belangrikheid besef van ‘n netwerk van “goedgekeurde entstofverspreiders”, wat ons passie vir entstowwe verstaan.

Goedgekeurde entstofverspreiders word jaar liks geoudit met die klem op drie kritieke areas:

  • Ontvangs van entstof vanaf die verskaffer: is die koue ketting in stand gehou?
  • Berging van entstof in die handelsplek: prosedures toegepas om te waarborg dat die koue ketting volgehou en 24/7 gekontroleer word.
  • Verspreiding van entstof: entstof wat in die handelsplek gekoop word, moet doeltreffend in ‘n geïsoleerde houer met gevriesde yspakke verpak word om te verseker die koue ketting word tot by jou bestemming in stand gehou.

Alle personeel verantwoordelik vir die ontvangs, berging en versending van entstowwe, word opgelei in die belangrikheid van die bestuur van die koue ketting.

Vir gemoedsrus, koop jou entstowwe by ‘n MSD Dieregesondheid goedgekeurde entstofverspreider. Besoek ons webblad by www. msd-animal-health.co.za om te bepaal waar jou naaste goedgekeurde entstofverspreider is.

 

Publication: March 2013

Section: Input Overview

Search